×
Skakel na Engels

8 gesondheidsfeite wat jy moet jou dokter moet deel

Dis goed om te praat. Deur Alison Lynch
gesondheidsfeite

Baie van ons het ’n ingesteldheid van “bly kalm en gaan voort” wanneer dit by ons gesondheid kom, en dink dus aan ’n doktersbesoek as die laaste uitweg. Baie van ons sal trouens liewer voortstry as om ’n afspraak te maak en ’n mediese praktisyn oor ons simptome te vra. Veral as dit iets is waaroor ons nie heeltemal gemaklik is om te praat nie.

Maar hoe openliker en eerliker jy met jou dokter is, hoe makliker is dit vir hom of haar om jou doeltreffend te behandel sodat jy met jou lewe kan voortgaan. Ons het met drie algemene praktisyns – dr. Hilary Jones, Roger Henderson en Ellie Cannon – gesels om uit te vind waaroor hulle wens hul pasiënte met hulle wil gesels en hoekom.

1. As jou opelyfgewoontes verander

“Daar is geen absolute ‘regte’ getal kere wat jy opelyf moet hê nie – normaal kan enige iets van drie keer per dag tot twee keer per week wees. Wat vir jou normaal is, is dus oukei,” sê Henderson.

“Maar as dit verander en onderveranderd bly (soos dat jy hardlywig raak of diarree kry), moet jy dit vir jou dokter sê. Dit is veral belangrik as jy enige bloeding vanuit jou rektum of pyn in jou buik het, of as jy gewig verloor, want dit kan alles tekens van probleme in die ingewande wees, soos ontsteking of kwaadaardigheid.”

Cannon beklemtoon ook die belangrikheid om jou dokter te laat weet as jy ’n volgehoue verandering in opgelyfgewoontes bespeur, met ander woorde as die simptome vir langer as drie of vier weke voortduur.

“Dis gewoonlik ’n tydelike ding wat met spysvertering of ’n verandering in kos verband hou, of selfs ’n verandering van klimaat of hidrasievlakke. Maar omdat dit die teken van iets baie belangriks kan wees, wil dokters liewer daarvan hoor,” sê sy.

Jones voeg by: “Dit kan ongemaklik voel om jou toiletgewoontes te bespreek, maar veranderinge in jou opelyf kan op ’n aantal gesondheidsprobleme dui wat dalk ondersoek moet word. As jy dus hardlywig is, diarree kry, of albei, noem dit asseblief aan jou dokter. Ons sal nie ’n oog knip nie; daar’s niks wat ons nog nie vantevore bespreek het nie.”

2. As jy onverwags gewig verloor 

“Onverwagse gewigsverlies, veral wanneer jy ouer as 50 is, is altyd iets belangriks waaroor jy met jou dokter moet praat,” sê Cannon. “Die meeste mense vind op daardie ouderdom dat hul metabolisme stadiger raak en dat hulle gewig aansit, veral om die middellyf, en dit gebeur veral met vroue ná die menopouse. Maar as jy onverklaarbaar gewig verloor, kan dit ’n teken van iets ernstigers wees.”

Lees ook: Spysverteringskwessies wat jou gewig beïnvloed

3. As jy vind dat jou blaas lek 

“Baie pasiënte voel ongemaklik om met hul dokter oor intieme gesondheidskwessies soos ’n swak blaas te praat,” sê Jones. “Wat baie mense nie weet nie, is presies hoe algemeen sommige van hierdie gesondsheidskwessies is. Om met ’n dokter oor jou ervaring van ’n swak blaas te praat sal verseker dat jy die regte diagnose, die regte raad en die regte produk vir jou behoeftes kry.”

4. As jy sukkel om te slaap

“Of dit nou ’n versteurde nagrus ná ’n stresvolle dag by die werk of weens ander probleme is, baie pasiënte sal slaapprobleme afmaak as ‘iets wat sal oorwaai’ of dit as ’n gevolg van ouderdom beskou,” sê Jones.

“Maar slaap is noodsaaklik vir algemene gesondheid en welstand. Enige probleme daarmee is dus nie iets wat jy sommer net moet los nie. Probeer ’n slaapdagboek hou vir die week voordat jy jou dokter gaan sien. Dit sal verseker dat jy niks vergeet nie en sal jou dokter ’n goeie basis vir advies gee.”

Lees ook: Eet dit om beter te slaap

5. As jy angstig, gestres of depressief voel

“Om van tyd tot tyd ’n bietjie blou te voel is normaal, en dit kan dikwels moeilik wees om tussen mismoedigheid en iets ernstigers te onderskei,” sê Jones.

“Een van die hoofredes dat pasiënte nie hul geestesgesondheid bespreek nie, is dat hulle nie hul dokter se tyd wil mors nie. Om te erken dat iets nie heeltemal reg is nie, is egter die eerste stap om die hulp te kry wat jy nodig het. As jou mismoedigheid dus jou daaglikse lewe begin ontwrig, is dit tyd om ’n afspraak te maak. Jou dokter sal al die beskikbare opsies kan bespreek wat jou kan help en ondersteun.”

6. As jy probleme met jou sekslewe het

Daar is drie dinge waarin jou dokter belangstel as dit by jou sekslewe kom: verlies aan libido, erektiele wanfunksie en as jy enige ongemak gedurende of ná seks ervaar. Daar is nie iets soos ’n “normale” seksdrang nie, maar as jy ’n volgehoue verlies aan libido ervaar, behoort jy met jou dokter te praat omdat daar ’n onderliggende gesondheidsprobleem kan wees.

“ ’n Verlies aan libido kan ’n teken van skildkliersiekte wees wat algemener in vroue is, maar dit kan ook ’n simptoom van depressie wees,” sê Cannon.

“Aan die fisieke kant van verhoudings is erektiele wanfunksie regtig iets belangriks om met ’n dokter oor te praat, want dit kan ’n teken van diabetes wees, en natuurlik is dit iets wat met gemoedstemming en selfwaarde verband hou. Dit is dus regtig belangrik om daaroor te praat. Vir vroue is ongemak tydens seks – weens vaginale droogheid – of bloeding ná seks belangrike simptome om met jou dokter te bespreek.”

Lees ook: 8 maniere om met jou kinders oor seks te praat

7. As jy altyd moeg is

Hoewel dit ’n natuurlike gevolg van ouer word kan wees om meer moeg te voel, is dit egter ’n goeie idee om met jou dokter te praat as jy die hele tyd moeg voel. “Dit is een van die algemene redes waarom mense dokter toe gaan, en daar is baie oorsake van moegheid, waaronder diabetes, anemie, skildklierprobleme, terneergedruktheid, slaapprobleme en lewer- of nierprobleme,” sê Henderson.

“Jou dokter kan eenvoudige toetse doen om uit te vind wat die oorsaak is en leefstylwenke gee, soos om op te hou rook, hoe om stres beter te hanteer, minder te drink, gewig te verloor en gesond te eet.”

8. As jy ’n ongesonde leefstyl het

“Baie pasiënte wil ongesonde gewoontes vir hul dokter wegsteek, soms uit verleentheid, maar dit kan ook weens ’n onwilligheid wees om leefstylveranderinge aan te bring. Onthou, as jou dokter raad gee oor hoe om klein veranderinge aan te bring, is dit nie om jou te oordeel of die leviete voor te lees nie. Dit hang van jou af of jy die raad wil volg of nie,” sê Jones.

Cannon stem saam dat dit “belangrik is om eerlik te wees wanneer jy oor jou leefstyl praat – jou dieet, hoeveel jy oefen, hoeveel alkohol jy drink, of jy rook – anders kan ons nie behoorlike risikobeoordeling doen nie”. Sy sê: “As jy die moeite gedoen het en die moed gehad het om ’n doktersafspraak te maak kan jy net sowel die behoorlike evaluering laat doen. Dis altyd die moeite werd om eerlik te wees – ons gaan jou nie oordeel nie.”

Sy voeg by: “Dokters is in elk geval baie bewus van hul pasiënte se gewoontes en dis gewoonlik taamlik ooglopend of iemand oefen en wat hulle eet. Oop dialoog is dus belangrik, want dis uiteindelik wat die regte terapie sal bepaal.”​

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/vadimguzhva

LEES OOK:

4 eetvoorskrifte wat hartdokters volg

5 ongesonde “gesondheidskosse”

3 maniere om oefening by die werk in te pas

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief