×
Skakel na Engels

7 wenke om jou kinders te help om hul bestuurstoets te slaag

Wenke vir ouers om hul kinders te help om hul bestuurstoets met groter selfvertroue af te lê … Deur Caira-Lee Durand
bestuurstoets

Die AA beveel aan dat ouers die volgende wenke volg om hul kinders meer selfvertroue vir hul rybewystoets te gee:

1. Maak gebruik van ’n gerespekteerde bestuurskool

Die dae toe Ma of Pa die gedugte taak moes onderneem om Sussie te leer bestuur is iets van die verlede. Die maklikste, veiligste en doeltreffendste manier om jou kind vandag te leer bestuur is om hom of haar vir lesse by ’n gevestigde en professionele bestuurskool te stuur.

Dit sal nie net verseker dat die leerlingbestuurder vertroud is met die reëls en vereistes van Suid-Afrika se K53-bestuurstoets nie, maar dit sal jou en jou kind baie frustrasie, en bes moontlik ’n rusie of twee, spaar.

2. Moenie sommer die eerste bestuurskool kies wat jy op die internet kry nie

Ons almal weet dat tieners meer aanklank by mense vind met wie hulle oor die weg kom en by wie hulle op hul gemak voel. Sommige kinders verkies ’n sagte benadering terwyl ander ’n ferm hand nodig het. Gesels vooraf met die ry-instrukteur om seker te maak dat die persoon ’n benadering volg wat by jou kind se persoonlikheid pas.

Dit is natuurlik ook uiters belangrik dat die bestuurskool of instrukteur oor die korrekte kwalifikasies beskik. Maak seker dat hy of sy ’n geldige instrukteursertifikaat en vanselfsprekend ook ’n geldige rybewys het. Verwysings is ook ’n aanduiding van die gehalte diens wat gelewer word.

Sodra jy seker gemaak het dat die leerlingbestuurder in betroubare en bekwame hande is, moet jy terugstaan en nie inmeng nie. Gee die instrukteur die geleentheid om te doen waarvoor jy hom of haar betaal: om jou kind te leer hoe om volgens die K53-reëls te bestuur. Die instrukteur sal ook ’n toetsafspraak maak sodra jou kind se opleiding verby is; dus is dit nog iets waaroor jy jou nie hoef te bekommer nie.

As jy op hierdie tydstip egter uitgesluit voel, is daar ’n paar dinge wat jy kan doen om seker te maak dat jou kind se bestuurstoets glad verloop:

3. Gaan ry moontlike roetes

Dit kan ’n goeie idee wees om op die dag voor die toets ’n paar draaie in die omgewing van die toetsstasie te ry sodat jou kind met moontlike roetes vertroud raak. Skenk veral aandag aan hoe besig die paaie is en watter soort bestuurstelsels gebruik word.

4. Sorg dat die motor skoon is

As die gesinsmotor vir die toets gebruik word, moet jy seker maak dat die vensters skoon en onbeskadig is, dat die banddruk reg is en dat die flikker- en remliggies werk. Dit spreek vanself, maar maak tog seker dat daar genoeg brandstof in die motor is.

Kyk ook dat die motor aan die binnekant skoon is. Niks skep so ’n swak indruk soos leë papiertjies en bottels wat onder sitplekke uitloer nie.

5. Wees gereed op die groot dag

Aangesien ’n bestuurstoets met soveel spanning gepaard gaan, is daar ’n goeie kans dat jou kind op die dag van die toets verstrooid en afgetrokke gaan wees. Maak seker dat hy die vorige nag genoeg slaap inkry en ’n stewige ontbyt eet. Moet ook nie ander planne vir die dag maak nie; ’n gejaag of gestres oor iets wat afgehandel moet word, kan jou kind onnodig senuweeagtig maak.

Maak seker jou kind onthou sy ID-boek sowel as ’n afskrif van die kwitansie wat uitgereik is toe hy vir die toets aansoek gedoen het. Sorg ook dat jy genoeg kontant by jou het om die lisensie se uitreikingsfooi te dek.

6. Wees netjies, hoflik en betyds

Die dag van die toets is ook nie die geleentheid om ’n modestelling te maak nie. Maak seker dat jou kind fatsoenlik geklee is en gemaklike skoene dra.

Herinner jou kind daaraan om beleefd teenoor die toetsbeampte te wees en wat jy ook al doen, moenie laat wees nie! Indien wel, sal jou kind nie toegelaat word om die toets af te lê nie en sal alle fooie wat jy reeds betaal het, verbeur word. Julle sal natuurlik die hele proses moet herhaal.

7. Wees gereed om te vier of te troos

Laastens, ongeag die uitkoms, wees ondersteunend. As daar iets is om te vier, vier dit met geesdrif, maar as jou kind druip, moet jy onthou dat jy jou lisensie waarskynlik ook nie met die eerste probeerslag gekry het nie. Troos, moenie kritiseer nie, en wees oorgehaal om weer te probeer.

Uit: WOW

FOTO: iStock/YinYang

LEES OOK:

9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

Hoe werk ballonbetalings nou eintlik?

10 gewoontes van ’n goeie bestuurder

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief