×
Skakel na Engels

7 verrassende redes hoekom jy donker kringe onder jou oë het

Dit gaan oor baie meer as net te min slaap

Wanneer jy donker kringe onder jou oë sien, is te min slaap die eerste ding wat jy blameer? Hoewel dit ongelooflik belangrik is om genoeg te slaap, is moegheid nie die enigste rede hoekom jou vel rooi, pers en selfs ’n bietjie blou kan lyk nie. Hier is sewe ander dinge wat kan keer dat die vel onder jou oë op hul beste en helderste lyk.

1) Jy het jou ouers se slegte gene geërf

Dis reg – jou ouers kan dalk die skuld kry vir jou donker kringe. “Daar is oorerflike toestande in families wat tot donkerte onder die oë kan lei,” verduidelik dr. Bruce Katz. “Dit is baie algemeen in mense met ’n Mediterreense agtergrond.” Die goeie nuus: As dit pigmentasie is, is daar spesifieke lasers wat dermatoloë kan gebruik om jou te help om daarvan ontslae te raak.

2) Ekseem kan daartoe lei dat jy dit vryf

Hoewel ekseem self nie tot donker kringe lei nie, kan ’n konstante gevryf en gejeuk dit beslis doen. “ ’n Uitermatige gevryf kan tot swelling, ontsteking en gebreekte bloedvate in die oogarea lei, wat die vel ’n donker, amper gekneusde voorkoms kan gee,” sê die dermatoloog dr. David Bank.

3) Allergieë kan jou laat jeuk

Veltoestande soos ekseem is nie die enigste gesondheidskwessies wat kringe onder jou oë kan veroorsaak nie. “Allergieë veroorsaak histamiene in die liggaam, wat bloedvate laat uitsit,” verduidelik dr. Bank. “Omdat die vel op ons ooglede en onder die oë van die dunste in die liggaam is, kan dit veroorsaak dat hierdie geswelde bloedvate donkerder voorkom as die res van die gesig.” Om ’n lang storie kort te maak: Speel so gou moontlik klaar met daardie allergieë, dan kan jou dermatoloog die pigmentasie behandel.

4) Jou grimering kan jou irriteer

Dit klink dalk teenintuïtief – grimering is tog veronderstel om daardie donker kringe te verdoesel, of hoe? Maar as jy ’n produk – hetsy maskara, oogskadu of selfs verbloemer – gebruik wat jou vel irriteer, kan dit die kringe vererger. “Party mense ontwikkel allergiese reaksies op grimering and kry donker kringe weens die irritasie, gevryf en gekrap,” waarsku dr. Katz. As jy agterkom jou oë lyk ’n bietjie woes nadat jy daai modieuse nuwe oogomlyner gebruik het, moet jy dalk liewer daarvan wegbly.

5) Jou beenstruktuur kan dalk die skuld kry

Verrassend genoeg kan jou donker kringe dalk niks met jou vel te doen hê nie – dit kan eenvoudig die manier wees waarop jou gesig gevorm is. “Wanneer mense ’n diep trog onder hul oë het, kan die skadu en inkeping dit donker laat lyk, maar dit is nie weens pigment of are nie,” sê dr. Katz. As dit jou persoonlike dilemma is, sê dr. Katz dat vullers van ’n gesertifiseerde kenner die oogarea eweredig kan maak.

6) Are kan jou vel blou laat lyk

As die vel onder jou oë besonder blou lyk, kan dit eenvoudig jou bloedvate wees. “Blou are onder jou oë lyk ook donker en dit kan die ooglede en vel onder die oog laat lyk of dit donker kringe het, maar eintlik is dit net die are onder die vel,” verduidelik dr. Katz.

7) Jy beskerm nie jou vel teen die son nie

Jy dink dalk dit kan jou vel helderder laat lyk as jy tyd in die buitelug deurbring, maar nie as jy die delikate vel onder jou oë te veel blootstel nie. “Die vel op die ooglede is die dunste op die liggaam. Sonskade wys dus gou in die vorm van verwyding en verhoogde bloedvloei,” sê dr. Bank. “As ’n resultaat kan jy ’n donker gloed of kleur deur die deursigtigheid van die vel sien.” Net nog ’n rede om ’n SBF te dra!

Van: Good Housekeeping US

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 noodsaaklike gewoontes vir ’n gesonde vel

Probeer hierdie slim wenke en truuks om die gloeiende gelaat te verkry wat jy nog altyd wou hê

Close