×
Skakel na Engels

7 stappe vir ’n gesonde hart en brein, volgens ’n studie-ontleding

Hierdie eenvoudige leefstylveranderinge kan jou risiko vir die ontwikkeling van lewensgevaarlike toestande verminder. Deur Jenny Cook
gesonde hart en brein

Volgens nuwe inligting wat deur wetenskaplikes uitgereik is, is dit so maklik soos een, twee drie om die risiko vir die ontwikkeling van demensie te verminder …

In ’n plan wat deur verskeie van die wêreld se voorste dokters opgestel is, is sewe stappe geïdentifiseer wat met die teëwerking van demensie en kardiovaskulêre siektes kan help – insluitende bloeddrukbeheer en gereelde oefening.

Sewe stappe

Die “Life’s Simple Seven”-program deur die Amerikaanse hartvereniging – wat ná ’n ontleding van 182 wetenskaplike studies opgestel is – is daarop gerig om gesondheid te verbeter “deur die publiek te leer hoe om optimaal te lewe” deur eenvoudige, effektiewe leefstylveranderinge aan te bring. Die sewe stappe is:

  1. Hou bloeddruk onder beheer
  2. Hou cholesterol onder beheer
  3. Verlaag bloedsuiker
  4. Raak aktief
  5. Eet beter
  6. Verloor gewig
  7. Hou op rook

Persone wat bogenoemde sewe stappe volg, het ’n laer risiko vir kognitiewe agteruitgang namate hulle ouer word en is terselfdertyd minder geneig tot lewensbedreigende toestande soos ’n hartaanval of beroerte. Daar is dus ’n nouer band tussen hartgesondheid en demensie as wat ’n mens sou dink, soos die Amerikaanse vaskulêre neuroloog, dr. Philip Gorelick, wat aan die plan gewerk het, verduidelik:

“Die slagare wat bloed na die brein vervoer, kan mettertyd vernou of verouderd raak, en dit kan tot demensie lei. Die goeie nuus is dat die hantering van risikofaktore – die vroeë hantering, let wel – daardie slagare kan sterk hou en ʼn reuseverskil aan ons langtermynbreingesondheid kan maak.”

Dr. Gorelick van Mercy Health Hauenstein Neurosciences in die VSA sluit by hom aan:

“Daar is oortuigende getuienis dat dieselfde risikofaktore wat aterosklerose (’n verharding van slagare, dikwels die oorsaak van bloedklonte) veroorsaak, ook belangrike bydraers tot latere kognitiewe verswakking soos Alzheimer se siekte is. Deur die plan te volg, kan ons nie net ʼn hartaanval of beroerte voorkom nie, maar kan ons ook kognitiewe verswakking teëwerk.”

’n Gesonde verstand

Oor die algemeen word ’n gesonde brein omskryf as een wat kan “aandag skenk, inligting van ons sintuie kan ontvang en herken, kan leer en onthou, probleme oplos en besluite neem, mobiliteit kan ondersteun en emosies kan reguleer.” Om jou brein lewenslank piekfyn te hou, moet jy van jongs af na jouself omsien. Dr. Gorelick voeg by:

“Daar word deurlopend navorsing gedoen om te bepaal in watter mate breingesondheid selfs op ’n jong ouderdom deur hartgesondheidstrategieë beïnvloed kan word … [Maar] die vooruitsigte is belowend. Daar is reeds bevind dat dieselfde risikofaktore vir ’n beroerte ook risikofaktore vir Alzheimer se siekte is.”

In aansluiting by bogenoemde aanbevelings het dr. Laura Phipps van Alzheimer’s Research UK aan The Express gesê:

“Baie van die dinge wat mense doen om fisieke gesondheid te bevorder, kan ook ’n positiewe impak op die brein hê. Dit is nooit te vroeg of te laat om met ’n gesonde leefstyl te begin nie.”

Die oorsig is in die joernaal Stroke gepubliseer.

Uit: netdoctor.co.uk

Foto: iStock/RapidEye

LEES OOK:

10 feite oor hartaanvalle waarvan elke vrou moet weet

Oefen vir ’n gesonde hart

7 minder bekende simptome van demensie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dokters deel 5 maniere om jou risiko vir demensie te verlaag

Hierdie leefstylveranderinge sal jou brein gesond hou namate jy ouer word. Deur die Britse Good Housekeeping-webspan

Close