×
Skakel na Engels

7 redes waarom jou urine vreemd ruik

Die reuk van jou urine kan heelwat oor jou gesondheid verklap – hieris 7 redes waarom dit vreemd ruik. Deur Natalie Healey
urnine

Alhoewel almal van ons ‘n paar keer per dag toilet toe gaan, is dit nie iets waaroor ons graag praat nie. Maar het jy geweet dat jou urine, en veral die reuk daarvan, taamlik baie oor jou gesondheid kan verklap? Ons het met Doctify-uroloog Marc Laniado gesels oor wat om te doen wanneer jy ‘n vreemde snuf in die neus kry wanneer jy ‘n draai loop.” Normale urine wat opgelos het, is basies reukloos behalwe as jy jou neus daarteen hou,” verduidelik Marc. Maar daar is ‘n paar redes waarom dit ‘n ongewone reuk kan hê:

1. DIS IETS WAT JY GEËET HET

Jy weet waarskynlik dat sekere kosse jou ‘n onwelriekende asem kan gee, maar sommige eetgoed sal selfs jou urine se reuk affekteer. Sommige mense vermy aspersies omdat dit hul urine laat sleg ruik. Maar ongeveer slegs die helfte van ons het die ensieme wat aspersies afbreek om hierdie reuk te veroorsaak. “Interessant genoeg is daar min mense wat die slegte urine kan ruik, selfs al is dit hul eie. Ons weet egter nie presies waarom dit so is nie,” sê Marc. Sommige groentes soos Brusselse spruite, kool, rape,  blomkool en knoffel kan ‘n soortgelyke uitwerking op urine hê. As jy dus ‘n reukie bemerk, moet jy probeer onthou wat jy onlangs geeet het.

2. DIS IETS WAT JY GEDRINK HET

Is jy verslaaf aan kafeïen? Daar is ‘n goeie kans dat dit jou urine sowel as jou energievlakke beïnvloed. So, nee, jy verbeel jou nie – dis nie onmoontlik dat jou urine ‘n bietjie na koffie ruik nie.

3. JY’S ONTWATER

As jy deur ‘n sterk ammoniakreuk begroet word, is dit dalk tyd om ‘n paar glase water te drink. Sonder genoeg vloeistof om jou urine op te los sal dit donkerder van kleur wees en waarskynlik skerper ruik. “Urine het soggens dikwels ‘n skerp reuk aangesien daar snags ‘n mate van ontwatering plaasvind. Dit verbeter wanneer jy gedurende die dag begin vloeistof inneem,” verduidelik Marc.

4. DIS JOU MEDIKASIE

Neem jy antibiotika of is jy op medikasie vir epilepsie? Dis dalk die oorsaak van die vreemde reuk wanneer jy ‘n draai loop. “Sommige medikasie in die fulfaklas, ook bekend as sulfoonamiede, kan jou urine laat sleg ruik. Sulfoonamiede word soms vir die behandeling van infeksies en epilepsie gebruik,” sê Marc.

Sien ook: Wat die kleur van jou urine van jou gesondheid sê

5. DIT KAN ‘N INFEKSIE WEES

‘n Urienweginfeksie kan die oorsaak van jou onwelriekende urine wees. Veral as dit deur ‘n brandsensasie vergesel word. Gaan sien jou huisdokter, want jy het dalk antibiotika nodig.

6. OF DIABETES

Mense met ongediagnoseerde diabetes se urine kan ‘n effense soet reuk hê. Indien dit met ‘n konstante dors, hoofpyne en die behoefte om meer gereeld as voorheen te gaan piepie, gepaard gaan, moet jy ‘n dokter gaan sien. “Urine met ‘n soeterige reuk is soms ‘n teken dat diabetes teenwoordig is en suikervlakke buite beheer is. Dit is egter ongewoon. Nog ‘n seldsame siekte genaamd esdoringstroopuriensiekte, waar daar probleme met die afbreek van aminosure is, kan urine ook laat soet ruik. Indien die urine muwwerig ruik, kan dit as gevolg van lewerversaking wees.”

7. OF (AL IS DIT SELDE) ‘N FISTEL

“By geleentheid kan ‘n abnormale verbinding tussen die ingewande en blaas, naamlik ‘n fistel, tot onwelriekende urine sowel as ‘n herhalende urienweginfeksie aanleiding gee,” sê Marc. As jou urine dus sleg ruik en jy gedurig urienweginfeksie kry, moet jy ‘n dokter gaan sien.

WEES OOK OP DIE UITKYK NA DIE VOLGENDE:

  • Die kleur van jou urine is een van die belangrikste dinge waarvoor jy jou oë moet oophou. Rooi urine is die ernstigste teken, want dit dui op bloeding. Dit kan ‘n aanduiding van kanker wees en beteken dat jy dringend deur ‘n uroloog ondersoek moet word. Hou egter in gedagte dat wanneer jy baie beet geëet het, dit die rooi kleur kan verklaar. Onthou dus wat jy geëet het.
  • As dit seer is om te piepie, sleg ruik en die urine wolkerig of donker is, kan dit op ‘n urienweginfeksie dui, en dan sal jy jou urine moet laat toets. As jy gereeld en in groot volumes urineer, maar nie baie drink nie, kan dit op ‘n probleem met suikerbeheer dui – laat jou dokter daarna kyk.”

Foto: iStock/ferrantraite

LEES OOK:

Uit: Netdoctor

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 “ongesonde” kosse wat voedingkundiges eet

Voedingkundiges word opgelei om vir ons te sê watter kosse om tot elke prys te vermy. Maar wees gerus; daar...

Close