×
Skakel na Engels

7 maniere om etikette van oor-die-toonbank-medikasie te ontsyfer

Slaan ag op hierdie dinge wanneer jy weer apteek toe gaan
oor-die-toonbank-medikasie

Die griepseisoen is weer hier, wat beteken jy sal waarskynlik probeer uitwerk watter oor-die-toonbank-medisyne die beste is, of handelsmerke op die rakke met mekaar vergelyk. Waaroor gaan dit nou eintlik?

Baie mense wat selfmedikeer, verstaan nie heeltemal wat die etikette op die verpakkings beteken nie en kan slegte keuses doen wanneer dit kom by watter medisyne die beste vir hulle en hul geliefdes is. Graham Anderson van Profmed deel sewe maniere om farmaseutiese etikette te ontsyfer.

1. Aanbieding

Dit verwys na die fisieke voorkoms van die medikasie, waaronder kleur, vorm en merke, om jou te help om vas te stel of jy die regte ding drink.

2. Volume

Volume is die getal tablette, die volume in millimeter (ml) of ’n gewig in gram (g). “Dit is die fisieke hoeveelheid van die produk wat jou help om te verseker daar is genoeg om te hou vir hoe lank jy veronderstel is om dit te drink,” sê Anderson. Jy kan ook soortgelyke produkte vergelyk wat koste betref.

3. Dosis 

Die hoeveelheid medisyne wat jy moet neem, word gewoonlik vir volwassenes en kinders (met ouderdomskategorieë) aangedui: hoeveel om te neem, hoe om dit te neem, hoe gereeld en vir hoe lank. Indien jy oor die regte dosering vir ’n kwaal wonder, gesels met jou apteker of ’n ander gesondheidsorgpraktisyn.

4. Aktiewe bestanddeel

Dit is die farmaseutiese naam van die terapeutiese stof in die produk – die een wat verantwoordelik is vir die doel van die medisyne. Jy sal ook die hoeveelheid van die aktiewe bestanddeel per aanbevole doseringseenheid sien, wat óf in ml óf in mikroliter (µI) aangedui word, sê Anderson.

Hoekom moet jy dit weet? Dis vir wanneer jy handelsmerke vergelyk, ingeval jy hipersensitief (allergies) is of ingeval daar interaksie is met ander medikasie of ’n aanvulling wat jy reeds neem.

5. Skedule

Wanneer dit geskeduleerde medikasie is, moet hierdie inligting op die etiket verskyn, sê Anderson. Skedules wissel van S0 to S6, en die regulatoriese beheer verskerp hoe hoër die syfer is.

Waar S0 (aspirien, vitamiene en sommige topikale rome) in supermarkte, gesondheidswinkels, vulstasiewinkels, apteke en by ander kleinhandelaars verkoop kan word, móét S1 en hoër in ’n apteek verkoop word.

S1 en S2 (verkoue- en griepmedisyne, antihistamiene en anti-inflammatoriese middels) kan sonder ’n voorskrif gekoop word, asook sommige S3-medikasie vir sekere indikasies en vir ’n beperkte tydsduur. Anderson wys daarop dat ’n voorskrif vir enige iets hoër as S3 in Suid-Afrika nodig is.

6. Vervaldatum

Dit is belangrik as jy die medikasie gaan hou of bêre. Alle medikasie het ’n vervaldatum wat ernstig opgeneem moet word, sê Anderson, want die sterkte daarvan kan gaandeweg verander. Sommige van die bestanddele kan ook begin afbreek en potensieel gevaarlike neweprodukte vorm.

7. Bêre-instruksies

Die meeste medisyne moet op ’n koel, droë plek onder 25 ºC gehou word. As medikasie in die yskas gehou moet word, sal dit aangedui word. Anderson benadruk dat dit belangrik is om op hierdie instruksies ag te slaan, want as jy dit ignoreer, kan dit die medisyne vernietig.

Nuttige wenke

Onthou om altyd op spesiale voorsorgmaatreëls ag te slaan in gevalle waar:

1. Die pasiënt swanger is of borsvoed;

2. Die pasiënt se ouderdom belangrik is (baie jonk of baie oud);

3. Daar ’n voorafbestaande toestand is (hipertensie, hartsiekte, ensovoorts);

4. Daar beperkings met betrekking tot alkoholgebruik is; of

5. Die medikasie lomerigheid of verswakte konsentrasie kan veroorsaak.

FOTO: iStock/vizualni

LEES OOK: 

Natuurlike verkouemedisyne

8 feite oor jou bloeddruk wat jy moet ken

Gee griep ’n uitklophou met dié 7 kossoorte

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief