×
Skakel na Engels

7 dinge wat Cher daagliks doen om fiks te bly

Op 71 spog dié ster dat sy die plankposisie vir ’n volle vyf minute kan hou. Sy moet dus iéts reg doen. Deur Miranda Siwak
Cher

Cher het by die onlangse Billboard-musiektoekenningsaand opgetree waar sy twee van haar grootste treffers gesing het, en ons was verstom oor hoe goed dié Billboard Icon Award-wenner op die ouderdom van 71 lyk! Sy het selfs op die verhoog gespog dat sy die plankposisie vir ’n volle vyf minute kan hou. Dit wil gedoen wees!

Ons het ’n bietjie gaan uitvind wat dié bekende sangeres elke dag doen om so viets en ferm te lyk. Ons wou al haar geheime oor gesonde veroudering hê, asook hoe op dees aarde sy dit regkry om die plankposisie vir vyf minute te kan hou (iets wat ons “gewone” mense nie vir langer as ’n minuut of selfs 30 sekondes kan doen nie).

1. Sy volg ’n vegetariese dieet

Sy het aan haar Twitter-volgelinge gesê sy eet nie ham of rooivleis nie en probeer om eerder groente-alternatiewe te eet. “Ek hou nie van vleis nie en die meeste van die goed wat ek eet, is baie goed vir jou,” het sy in 2013 aan Hello! gesê.

2. Sy drink of rook nie

Behalwe vir haar vegetariese dieet handhaaf Cher ook ’n gesonde leefstyl wat beteken dat sy selde iets drink en nooit dwelms gebruik nie. “Om gesond te wees was nog altyd deel van my lewe. Dit werk vir my,” het sy in 2013 aan Closer vertel.

“Daar is dinge wat ongesond is en waarvan ek nie hou nie, soos dwelms en alkohol. Ek het vir ’n rukkie sigarette gerook en ek sou waarskynlik dwelms gebruik het as ek daarvan gehou het, maar dit akkordeer nie met my nie. Ek drink ook net drie of vier keer per jaar.”

Verwant: Wat rook aan jou vel doen

3. Sy weet watter kosse is goed vir haar liggaam en watter nie

Die sangeres weet daar is sekere goed wat beter vir jou liggaam is as wat ander is, en daarom hou sy by kosse met voedingsvoordele. “Ek probeer om kosse met ’n hoë vetinhoud te vermy omdat dit my tam laat voel en keer dat ek gewig afskud,” het Cher in 1991 in haar boek Forever Fit geskryf.

“Suiwelprodukte is nie goed vir ons nie. Ek het afgeleer om volroommelk te drink en verkies nou vetvrye melk wanneer ek hoegenaamd melk drink. Ek dink kaas is een van die slegste goed vir die liggaam. Dit verteer nie goed nie en die meeste kase is hoog in vet en cholesterol.”

Dit werk duidelik vir dié 71-jarige ster!

 

Feb 8, 2017 ? http://cher.com

A post shared by Cher (@cher) on

4. Sy het haarself ook al aan kos vergryp, maar geleer hoe om beter te eet

Cher erken dat sy haarself soms op filmstelle aan ongesonde lekkernye ooreet het. Ook net mens …

“Ek het myself al lelik ooreet wanneer ek aan rolprente gewerk het. Aan die einde van The Witches of Eastwick het ek, Michelle Pfeiffer en Susan Sarandon heeltemal oorboord gegaan. Ons het van die een na die ander se kamer gegaan en alles van Pepperidge Farm Cheddar Cheese Goldfish tot M&Ms, Coke en Hershey’s Kisses verorber,” het sy geskryf.

“Toe ontdek ek en Michelle dat ons patats in minder as vier minute in die mikrogolf kan maak, en dit het ons lewe verander! Ons het van patats, gebakte aartappel en Caesar-slaaie geleef!” Mikrogolf-patat in minder as vier minute? Ons moet dít probeer!

Verwant: Kan jy regtig jouself jonger eet? 

5. Sy eet kosse wat vir haar energie gee

Selfs op 71 lyk dit nie asof Cher van plan is om rustiger te raak nie (sy toer en tree steeds op!). Dit is dus belangrik dat sy haar energievlakke hoog hou.

“Ek probeer om kosse te eet wat Robert [Haas, haar medeskrywer] as voordelig bestempel het: bruinrys (nie wit nie); peulplante soos lensies en bone; groente; pastas; vrugte,” het sy geskryf. “Pasta gee my hope energie, asook vrugte soos piesangs, papaja en nektariens, want dit bevat baie natuurlike suiker.”

6. Branderplankry help haar om fiks te bly

Branderplankry (wat sy op 60 geleer het!) is nie die enigste oefening wat Cher doen nie. Sy het voorheen genoem dat sy Wii-tennis speel, gaan stap en ook gim toe gaan. 

“Jy moet dubbel so hard werk. Jy moet gedurig in die gim wees,” het sy in 2010 aan E! News vertel. “Maar ek geniet dit. Ek was ’n regte rabbedoe toe ek jonk was. Ek het baie sport gedoen … En ek leer nou hoe om branderplank te ry. Gelukkig hou ek van dié soort goed.”

7. Sy oefen vyf keer per week

Haar oefenroetine klink dalk intens, maar dit werk duidelik vir dié sangeres. Ons kan beslis by haar leer. “Ek oefen sowat vyf keer per week, want dis iets wat ek nog altyd gedoen het en ek geniet dit so baie,” het sy aan Hello! gesê. “Ek probeer dikwels my ouderdom as ’n verskoning met my persoonlike afrigter gebruik, maar sy val nie daarvoor nie.”

Enige iemand wat die plankposisie vir vyf minute kan hou, is in ons oë ’n superheldin. En as Cher dit kan doen, moet ons dit ten minste probeer, of hoe?

Van: Good Housekeeping US

FOTO: Gallo Images/Getty Images

LEES OOK:

Raak gewoond aan oggendoefening

10 reise waarop elke vrou behoort te gaan

Vegetariese geregte vir die hele week! 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
GH se Junie-voorbladster, Nicole Kidman, steel die kollig by die Cannes-rolprentfees

Ons is dol oor haar uitrusting! Deur Hanna Ibraheem

Close