×
Skakel na Engels

7 dieettruuks wat jy waarskynlik nog nooit probeer het nie

Om gewig te verloor gaan nie net oor wat jy weet nie, maar ook oor wat jy nié geweet het nie

1. Mooi oefenklere

As jou gimklere jou slonsig laat lyk en voel, is die kans goed dat jy nie opgewonde daaroor sal voel om aan te trek en te gaan draf nie. Belê in ’n paar nuwe stelle vleiende of selfs funky oefenklere om jou gemoed – en jou fiksheidsvlakke – ’n hupstoot te gee.

2. Gewigsverlies is nié die doelwit nie

Moenie die doeltreffendheid van jou oefening net meet aan wat die badkamerskaal sê nie. Stel nog ’n doelwit naas jou doelgewig – neem aan ’n 5 km-pretdraf deel, daag ’n vriend uit om te kyk wie eerste die bopunt van ’n heuwel of berg kan bereik of probeer eenvoudig om ’n gewig dubbel so groot as die een op te lig waarmee jy tans oefen.

Dit sal jou aan die gang hou wanneer die skaal jou wil laat tou opgooi. (En onthou – spiere weeg meer as vet!)

3. Wyse woorde

Soek op die internet vir inspirerende (of selfs snaakse) aanhalings. Ons is dol oor dié een: “Sweet is vet wat huil!” Of wat van: “Dit maak nie saak hoe stadig jy is nie, jy doen steeds meer as almal wat by die huis op die rusbank sit.” Skryf motiverende aanhalings op plakpapiertjies en plak dit oral op – van jou yskas tot jou badkamerspieël en selfs in jou motor.

4. Hou jou oë op die doelwit

As jy regtig in ’n ou rok wil inpas of herinner moet word om jou lyf reg vir die strand aan die einde van die jaar te kry, vertoon die rok of jou swembroek in jou kamer, verkieslik aan ’n hanger voor jou kas. Dit sal jou twee keer laat dink as jy nie lus het om jou gimklere vir ’n oefensessie aan te trek nie.

5. Daai mentsmaak

Smag jy altyd na iets soets ná ’n maaltyd? Hou mentkougom of -mondspoelmiddel in jou lessenaarlaai of handsak en gebruik dit dadelik. Dit sal help keer dat jy na iets soets gryp.

6. Regte belonings

Nee, ons bedoel nie jy moet jou vordering met ’n sny dubbelsjokoladekoek vier nie. Oorweeg dit om jouself met iets anders as kos te beloon. Wat van jy sit R5 – net vyf – in ’n bakkie elke keer as jy gaan stap of draf? As jy dit vyf keer per week doen, kan jy jou aan die einde van die maand met jou gunsteling-tydskrif én ’n lipglans beloon! En daardie rok wat jy so begeer? As jy dit regkry om 5 kg te verloor, beskou dit as VERKOOP!

7. Moenie dat deftige kos jou om die bos lei nie

Natuurlik sal jy nie ’n dieet-saboteur soos ’n burger met kaassous en ’n ekstragroot porsie skyfies bestel nie. Of ’n dubbeldik sjokolademelkskommel. Nooit! Jy weet van beter, of hoe?

Wees versigtig vir restaurantkos wat deftig (en gesond) klink wat dikwels propvol vet, suiker, sout en wie weet watter ander dieetonvriendelike bestanddele is. Dink dus volgende keer twee keer as jy die avo-en-garnaalslaai of die gourmet-hoender-wrap met aïoli wil bestel.

Nou het jy hierdie geheime wapens om jou te help op pad na ’n gesonder, slanker jy. Voorspoed!

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Oefen vir ’n gesonde hart

Ons het gedink ons deel maar ’n paar wenke om jou hart gesond te hou in die maande wat voorlê!

Close