×
Skakel na Engels

6 wenke om te keer dat jou grimering jou ouer laat lyk

Baie mense dra grimering om die tekens van veroudering te verbloem en om jeugdiger te lyk, maar nie almal kry dit ewe goed reg nie
grimering

Die meeste van ons dra grimering omdat dit ons beter laat lyk en voel. Tienermeisies plak dikwels die grimering aan in ’n poging om ouer te lyk. Ai, eendag sal hulle die ironie verstaan! Maar baie mense dra juis grimering om die tekens van veroudering te verbloem en om jeugdiger en stralender te lyk.

Nie almal kry dit egter ewe goed reg nie. Hier is ses maniere om seker te maak dat jou grimering jou inderdaad jonger, en nie ouer laat lyk nie. 

1. Oppas vir te veel

Is jy ook daaraan skuldig dat jy laag op laag grimering aanwend in ’n poging om jou vel gladder en dus jonger te laat lyk? Dis ’n algemene fout. Swaar onderlaag en kontoergrimering kan egter jou gesig “plat” en vormloos laat lyk en dit byna onrealisties laat vertoon. Tensy jy ’n probleemvel het, verruil eerder die swaar grimering vir iets ligter.

Lees: Laat jou lipstiffie jou oud lyk?

2. Begin met ’n basislaag

As jy gedink het onderlaag is die beste manier om fyn lyntjies te vul, is jy ongelukkig verkeerd. ’n Basislaag is die beste oplossing. Hierdie fantastiese produk moet aan ’n skoon, droë vel aangewend word voordat jy grimering aansit. Dit sal enige plooie en vergrote porieë vul sodat jy ’n gladde oppervlak het om mee te werk.  

3. Kies kleure wat pas

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar maak seker jy kies skakerings – veral wat onderlaag en blosser betref – wat by jou veltoon pas. Dis iets wat min mense regtig regkry en dis baie opsigtelik as jy dit nié reg doen nie. Dit beteken dalk dat jy verskillende skakerings vir verskillende seisoene sal moet hê, maar ’n natuurlike voorkoms is noodsaaklik as jy ’n jong, stralende gelaat wil hê.

4. Wend sonskerm aan

Ons hier in Afrika weet hoe belangrik dit is om daagliks ’n behoorlike sonskermmiddel aan te wend. En dit geld steeds al is jou hele gesig met grimering bedek. Sonskade is een van die grootste oorsake van veroudering en UV-strale kan dwarsdeur jou onderlaag dring (ongeag hoe dik jy dit aanwend) en sonvlekke, pigmentasie en plooie veroorsaak. Voorkom dit deur ’n SBF onder jou grimering aan te wend. 

Lees: 5 foute met ooggrimering wat jou ouer laat lyk

5. Gebruik mat produkte versigtig

Mat lippe is dalk nog in die mode, maar wanneer dit by onderlaag kom, kan ’n mat afwerking jou ouer laat lyk. Namate ons ouer word, raak ons vel droër. ’n Setpoeier met ’n mat effek sal dus enige fyn lyntjies beklemtoon, en dis juis wat ons nié wil hê nie. ’n Douvars voorkoms word met jeugdigheid geassosieer. Tensy jy ’n uitermatig olierige vel het, is dit dus tyd om daardie mat produkte te bêre … 

6. Hou dit natuurlik

’n Tikkie kleur op die oë elke nou en dan kan supersjiek lyk, maar as jy jonger wil lyk, sal iets meer subtiel en neutraal – met welige wimpers, natuurlik – beter werk. Donker en helderkleurige oogskadu is geneig om soos iets uit ’n musiekvideo van die 80’s te lyk as dit nie reg aangewend word nie. Laat ’n kenner jou dus touwys maak, of vermy dit eerder. 

FOTO: iStock/Eva-Katalin

LEES OOK:

5 mites oor velveroudering ontbloot!

Goed wat jou ouer maak, van binne en buite

Vinnige oplossings vir algemene skoonheidsfoute

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Gebruik só huishoudelike produkte om jou grimeerkwaste skoon te maak

Maklike en doeltreffende wenke wat wérk!

Close