×
Skakel na Engels

6 wenke om jou motor vir die lente op te kikker

Gee jou ryding ’n vars voorkoms vir die nuwe seisoen!
die lente

Baie van ons lei besige lewens en moet bedags verskillende rolle vervul. Maar wanneer laas het jy tyd afgeknyp om seker te maak dat alles rondom jou in stand gehou word? Jou voertuig is jou lewenslyn wat jou kom en gaan op ’n besige dag betref. Soms laat ons toe dat die lewe ons onderkry en word ons ryding afgeskeep.

Hier is ’n lys van maniere om jou motor “lentegereed” te kry en splinternuut te laat voel:

1. Ruim op

Die logiese beginpunt is om van die rommel in jou kattebak ontslae te raak. Of dit nou waterbottels, wegneemkoffiekoppies, klere of leë kitskoshouers is, die meeste van ons is rommelstrooiers wanneer dit by ons motor kom. Vir sommige van ons is ons voertuig soos ’n slaapkamer op wiele.

Dit het ’n stortingsterrein vir gebruikte of ongewenste items geword. Moenie ’n fout maak nie: Party van die los goed wat onder die sitplek lê, kan jou lewe in ’n noodgeval red! Dit is alles goed en wel, maar wat dink ander mense wanneer hulle in jou deurmekaar motor klim?

Verder kan jy jouself kwesbaar maak deur met sigbare waardevolle items in jou motor te parkeer. Jy wil nie na jou motor toe terugkom en ontdek dat dit deur ongewenste gaste besoek is nie. Doen jouself dus ’n guns en ruim ’n slag op!

2. Verbeter jou klankstelsel

Die wind waai deur jou hare, jou sonbril is oor jou oë en jou gunstelingliedjie speel terwyl jy ’n entjie saam met jou gesin gaan ry. Klink dit nie salig nie? Dit kán wees as jou motor oor ’n goeie klankstelsel beskik.

Bederf jouself dus voor die feestyd en geniet die jongste musiek met behoorlike luidsprekers. Wys vir die wêreld jou lewenslus en geniet selfs jou rit werk toe in spitsverkeer!

3. Vervang jou bande

’n Goeie stel bande is nie net belangrik wanneer dit by bestuurvermoë kom nie, maar dis ook noodsaaklik vir jou veiligheid. Dit is belangrik om jou bande te vervang sodra die loopvlak afgeslyt is. As jou bande glad is, moet jy liefs in ’n nuwe stel belê. Niks sê “lentegereed” soos nuwe bande nie! Hoekom bederf jy jouself nie sommer met ’n stel stylvolle vellings om jou wiele te laat uitstaan nie? Daar is ’n hele verskeidenheid waaruit jy kan kies om jou styl en beursie te pas. 

Lees: Organiseer jou lewe

4. Maak seker dat die lugversorger skoon is

Noudat dit warmer is, gebruik die meeste van ons die lugversorger in ons voertuig op ’n gereelde basis. Dit kan egter ’n muwwerige reuk naby die ventilasie-opening veroorsaak. Die gevolg is ’n onaangename rit vir die passasiers sowel as die bestuurder. Die lente is die ideale tyd om jou lugversorger reg te ruk.

Koop sommer ook ’n lekker lugverfrisser om aan jou spieëltjie te hang om jou kajuit met ’n “lentebries”-geur te vul.

Kyk hierdie video om te sien hoe jy jou lugversorger self kan skoonmaak:

5. Maak reg met verf

Voel vars en vrolik agter die stuur nadat jou motor met ’n tikkie verf opgeknap is. Laat terselfdertyd al daardie skrape en duike regmaak om seker te maak dat jou motor so goed soos nuut lyk. 

As jy nie ʼn paneelklopper kan bekostig nie, kan jy ’n blikkie Plascon Touch Up Custom Spray Solution koop en dit self doen. Maak net seker dat jy die regte kleur aanskaf om ’n laslappievoorkoms te vermy!

6. Verbeter jou sig met nuwe ruitveërs

Ruitveërlemme hou gewoonlik nie baie lank nie, dus is dit belangrik om ’n ogie daaroor te hou voordat jy jou oë moet skreef om te sien wat voor jou aangaan. Noudat die winter verby is, is dit goeie idee om die lemme te vervang om seker te maak dat jy die nuwe seisoen met twee vars ruitveërlemme ingaan.

Lempryse wissel nogal, maar ongewag watter lemme jy kies, maak seker dat dit vir jou voertuigmodel geskik is. Dit is eintlik vreemd, maar elke motor het ’n ruitveërlem wat spesifiek net op sý voorruit pas.

Van: WOW

FOTO: iStock/Petmal

LEES OOK:

Dinge wat jy moet begin skoonmaak wanneer jy kinders het

5 redes om ’n nuwe motor te koop

Jou maklike skoonmaakmiddelgids vir elke vertrek

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jou maklike skoonmaakmiddelgids vir elke vertrek

Die lente is hier!

Close