×
Skakel na Engels

6 wenke om in ’n spanningsvolle tyd kalm te voel

Ja, dit ís moontlik. Deur Lucy Fry
kalm

Probeer hierdie ses wenke om jou liggaam en siel te kalmeer wanneer jy oorweldig en gespanne voel:

1. Vermy slegte kosse

Glo dit of nie, wat jy eet en drink, het ’n groot invloed op hoe (en hoeveel) stres jy ervaar. Om kosse te eet waarvoor jy weerstandig is, of verwerkte kosse wat mensgemaakte chemikalieë, verfynde olies en suikers bevat, veroorsaak ’n inflammatoriese reaksie en plaas stres op jou liggaam, sê die Britse voedingkundige Stephanie Moore.

2. Verhoog magnesiumvlakke

Hoe meer druk ons op onsself plaas, hoe moeiliker raak dit om af te skakel. “Een van die belangrikste funksies van magnesium is om die senustelsel in staat te stel om van ’n veg-of-vlug-toestand na ’n toestand van rus oor te skakel,” sê Moore. Om daagliks magnesiumryke kosse te eet kan jou minder gespanne laat voel.

Moore stel donker sjokolade (met meer as 70% kakaopoeier) voor; donkergroen blaargroente soos spinasie, krulkool, bronkors, roket en kool; rou neute en sade; peule soos lensies en kekerertjies; avokado’s en seekos. ” ’n Warm bad voordat jy gaan slaap met twee hande vol Engelse sout (magnesiumsulfaat) is nog ’n wonderlike manier om van spanning ontslae te raak en ’n goeie nagrus te kry,” sê sy. 

3. Mediteer daagliks

Ja, dit werk. Die voordele van meditasie word wyd en syd verkondig en dit voel al cliché-agtig om voor te stel dat jy 10-15 minute neem om diep asem te haal wanneer jy gespanne voel. Maar om meer aandag aan die hier en die nou te gee, kan jou baie meer ontspanne laat voel.

Onlangse navorsing in die Journal of Happiness Studies het die doeltreffendheid van welstand-apps ondersoek en daar is ’n afname in depressie en ’n toename in positiwiteit en geluk gerapporteer. Wanneer jy regtig bewus raak van jou gedagtes, leer jy om nie so haastig daarop te reageer nie.

Ander navorsing van The Journal of Occupational Health Psychology dui daarop dat daaglikse aandagtigheid (of “mindfulness”) angstigheid laat afneem en kan help om herhalende negatiewe gedagtes en uitputting met ongeveer 25% te verlaag en slaap met tot 33% te verbeter.

4. Hou op snuffel en fokus

Het jy ook al die gevoel gekry dat jy met inligting gebombardeer word? Met verskeie internetblaaiers gelyktydig oop en ons fone en tablette ten alle tye binne bereik, verkeer baie van ons in ’n staat van amper konstante stimulasie. Navorsing toon dat oormatige gebruik van veral sosiale media tot ’n toename in angstigheid en depressie kan lei, en dis geen wonder nie: Dit raak al hoe moeiliker om stil te sit en net te “wees” – ons kan 24 uur per dag op die internet rondsnuffel, teksboodskappe stuur of ’n swetterjoel vriende op sosiale media volg.

Om groter bewustheid van jou slimfoon- of internetgebruik te skep, kan jy dit oorweeg om die app Moment of die Freedom af te laai wat internetgebruik op al jou toestelle vir bepaalde tydperke blok. Of verkies jy ’n alles-of-niks benadering? Gaan op ’n digitale detoks en probeer om jou toestelle vir ’n week of twee heeltemal weg te bêre.

5. Maak sin van jou buie

Hoe meer jy weet, hoe meer verstaan jy en hoe makliker is dit om spanningsvolle emosies te vermy of te hanteer. Apps soos Catch It – die breinkind van navorsers aan die Universiteite van Liverpool en Manchester – help gebruikers om hul buie (hoofsaaklik negatiewe gedagtes en gevoelens) te verstaan deur dit neer te skryf. Elke keer wanneer jy ’n gedagte neerskryf, en dít is die slim deel, sal die app jou vra om die probleem vanuit ’n ander hoek aan te pak en jou aanmoedig om in die vervolg ’n ander benadering in ’n soortgelyke situasie te volg.

6. Raak aktief 

Wanneer jy gespanne is, produseer jy streshormone wat (in evolusieterme) ontwerp is om jou/jou grotvrou-voorsate die verstandelike en fisieke vermoë te gee om vir ’n sabeltandtier weg te hardloop! Dit is belangrik om hierdie streshormone op een of ander maniere te kanaliseer sodat dit op ’n gesonde manier vrygestel kan word en nie net in jou lyf rondhang en verdere spanningsimptome skep nie.

Dit is waar beweging inkom. Studies toon ook dat ons na afloop van kardiovaskulêre oefening minder vatbaar vir stres is – oefeninge stel endorfiene (goedvoel-chemikalieë) vry en gee ons kans om weer in voeling met ons lyf te kom en innerlik te bedaar.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/eli_asenova 

LEES OOK:

Vier vinnige oplossings vir stres

5 wenke om ’n angsversteuring te herken – en hoe om dit te hanteer

3 natuurlike kure vir stres

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

Wat is al hierdie skermtyd *regtig* besig om aan ons verstand te doen? Deur Kate Faithfull-Williams

Close