×
Skakel na Engels

6 tekens dat jy ’n hartaanval kan kry

Hier is ses tekens dat jy dalk besig is om ’n hartaanval te kry
hartaanval

Ons het al almal in flieks gesien hoe ’n man met groot oë na sy borskas gryp. Maar ’n hartaanval word nie noodwendig altyd deur borspyn voorafgegaan nie, veral nie by vroue nie. “Twee derdes van vroue sal minder tipiese en minder Hollywoodagtige simptome ervaar,” sê dr. C. Noel Bairey Merz, die direkteur van die Barbra Streisandvrouehartsentrum by die Cedars-Sinai-hartinstituut in Los Angeles.

Hier is ses tekens dat jy dalk besig is om ’n hartaanval te kry:

1. Duiseligheid

Hoewel die meeste hartaanvalle jou nie skielik jou bewussyn laat verloor nie, kan dit die bloed- en suurstoftoevoer na die hart en brein verminder of afsny en jou lighoofdig maak.

2. Sweet

Tensy jy in jou menopouse is of pas geoefen het, kan uitermatige sweet of om in ’n koue sweet uit te slaan ’n teken van ’n hartaanval wees, wat die senustelsel aktiveer.

3. Moegheid

Dis normaal om ná ’n slapelose nag of ’n stresvolle dag moeg te voel, maar meer as die helfte van vroue voel geweldig moeg of swak meer as ’n maand voordat hulle ’n hartaanval het, selfs al het hulle nie hulself ooreis nie.

4. Kortasemrigheid

As oefening onverklaarbaar moeiliker is, gaan dokter toe. As jy skielik voel asof jy trappe uitgehardloop het en nie jou asem kan terugkry terwyl jy nie veel doen nie, of as jy in die nag van kortasemrigheid wakker word, gaan na die ongevalle-afdeling.

5. Pyn in jou bolyf

Jou hart het nie baie senuwee-eindpunte nie. Dit deel dus soms ’n baan met senuwees na ander liggaamsdele, wat maak dat pyn na jou rug, skouers, arms, nek of kaak kan versprei. Party vroue sê dit voel asof ’n olifant op hul rug sit.

6. Naarheid

’n Hartaanval kan naarheid veroorsaak en dit gebeur met dubbel soveel vroue as mans. (Baie vroue kan ook grieperig begin voel ’n paar dae voordat hulle ’n hartaanval kry.) As jy skielik en heeltyd naar voel en dit nie met kos verband hou nie, kry hulp.

Wat nou?

As jy enige van hierdie simptome ervaar en dit relatief matig is, moenie huiwer om jou dokter te bel nie, want dit kan ’n aanduiding van ’n dreigende hartaanval wees. (Sowat die helfte word net ’n paar dae voor die tyd deur simptome voorafgegaan.) En as dit erg is of erger raak, bel 10177. Jy kort dalk hulp – en vinnig.

Vir meer inligting oor hoe jy jou hartgesondheid kan verbeter, besoek die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika se webwerf.

FOTO: iStock/BrianAJackson

LEES OOK:

10 feite oor hartaanvalle waarvan elke vrou moet weet

4 eetvoorskrifte wat hartdokters volg

5 noodsaaklike gewoontes vir ’n gesonde hart

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 stappe vir ’n gesonde hart en brein, volgens ’n studie-ontleding

Hierdie eenvoudige leefstylveranderinge kan jou risiko vir die ontwikkeling van lewensgevaarlike toestande verminder. Deur Jenny Cook

Close