×
Skakel na Engels

6 tekens van skildklierkanker wat jy maklik kan miskyk

Moenie paniekerig raak nie, maar luister na jou liggaam! Die Amerikaanse joernalis Christine Coppa deel haar verhaal
skildklierkanker

1. Ek het ’n vreemde hoesie gehad

Ek het vir twee maande ’n droë blafhoesie gehad, maar omdat ek nie koors, ’n seer keel of enige ander verkouesimptome gehad het nie, het ek nie dokter toe gegaan nie. Buitendien was dit lente en het ek my aande saam met my seun op ’n stowwerige bofbalveld deurgebring; ek het dus aanvaar dat dit allergieë was.

Maar my hoes was uiteindelik ’n teken dat daar ’n gewas in my nek was. ” ’n Aanhoudende gehoes kan die gevolg wees van ’n skildkliermassa wat op die tragea of lugpyp druk,” sê Tom Thomas, hoof van rekonstruktiewe kop- en nekchirurgie en transorale robotiese chirurgie aan die Morristown Medical Center in die VSA.  Maar — en dit is ’n groot maar — hy sê dat ’n hoes op sigself nie ’n aanduiding van ’n kwaadaardige gewas is nie.

2. Ek het aan kos verstik

Volgende op die lys van vreemde goed wat gebeur het: Ek het by die werk aan ’n rou wortel verstik en kon nie die happie ingesluk kry nie. Ek het my ongeërgd gehou en die wortel in ’n snesie uitgehoes. Dit het nooit weer gebeur nie, maar nadat ek die sonar van die massa gesien het, het ek uitgevind waarom ek gesukkel het om te sluk.

“Die skildklier lê voor die lugpyp, net onder die stemkas,” sê Christopher Fundakowski, kop- en nekchirurg aan die Temple University Hospital in die VSA. Namate die knoppe groei, kan dit teen die lugpyp en slukderm begin druk.

“Hierdie simptoom is meestal nie ’n teken dat jy kanker het nie,” sê hy, en voeg by dat dit eintlik selde voorkom — die uitgroeisel moet groot genoeg wees en op ’n manier geposisioneer wees wat die normale deurgang van kos bemoeilik.

Nietemin stel dr. Fundakowski voor dat jy ’n afspraak maak om ’n sluktoets te ondergaan, ’n ondersoek wat van x-strale gebruik maak om abnormaliteite in die beweging van kos en vloeistowwe van die mond na die slukderm te identifiseer. Hy sê ook dat ’n sonar of CT-skandering met die diagnose kan help.

Lees: Wat elke nuwe ma van skildkliersiekte moet weet

3. Ek was kortasem

Ek kon nie diep asemhaal nie en het na asem gehyg. As ek aan al die simptome dink wat ek geïgnoreer het, was dít beslis die een wat die kroon gespan het. Ek sal nooit vergeet hoe dit voel om nie normaal te kan asemhaal nie, maar omdat ek aan ’n angsversteuring ly, het ek tot by 10 getel, aan ’n gelukkige gedagte gedink en myself wysgemaak dat dit waarskynlik die begin van ’n paniekaanval was.

’n Dag later, toe dit nie werk nie, het ek na ’n kliniek gegaan. Die dokter het gesê dat dit ’n allergie was en ’n asmapompie voorgeskryf. Die simptoom het voortgeduur, maar ek sou my dokter in elk geval kort daarna vir my jaarlikse ondersoek sien.

“Moeilike asemhaling kan met skildklierkanker sowel as ’n vergrote skildklier geassosieer word,” sê dr. Fundakowski. “In die geval van skildklierkanker is ons bekommerd dat die gewas die lugpyp binnedring. Dit gebeur egter selde.”

Hy voeg by dat skildklierkankers by geleentheid taamlik vinnig groei en teen die lugpyp kan stoot of druk, wat kortasemigheid kan veroorsaak — veral wanneer jy aktief is, lê of vinnig asemhaal as gevolg van angs.

4. My stem het verander

My stem het hees en fluisterend geword, en my vriende het dit sexy genoem, maar dit was nog ’n teken van die gewas in my nek. Die skildklier lê net onder die larinks en ’n uitgroeisel wat teen die stemkas druk, kan skorheid of stemveranderinge veroorsaak, sê Sandeep Samant, hoof van kop- en nekchirurgie aan die Northwestern Memorial Hospital in die VSA.

” ’n Interne ondersoek van die pasiënt se lugweg en stembandbeweging is noodsaaklik indien daar ’n kwaadaardigheid is wat chirurgie vereis,” sê hy. Dit is egter baie belangrik om nie paniekerig te raak nie — onthou, skorheid kan ook die gevolg van ander probleme soos laringitis wees.

Lees: Hoekom dit belangrik is om vir kinders “nee” te sê

5. My oor was seer

Die heel vreemdste simptoom was ligte oorpyn. Ek was sewe jaar oud toe ek my laaste oorinfeksie gehad het, maar skielik, op 34, moes ek medikasie vir ’n oorinfeksie neem en ’n dokter na my oor laat kyk.

Ezra Cohen, mededirekteur van die Moores Cancer Center by UC San Diego Health in Amerika, skryf dit toe aan die feit dat die vagussenuwee, wat die oor van sensasie voorsien, ook langs die skildklier teen die nek afloop.

“Soms raak die seine in die brein deurmekaar en ervaar mense oorpyn terwyl die probleem eintlik in die nek lê,” sê dr. Cohen. Die ongemak kan egter ook deur ’n infeksie of inflammasie veroorsaak word, en is nie noodwendig kanker nie — nietemin behoort oorpyn altyd deur ’n dokter ondersoek te word, veral by ’n volwassene.

6. Jy voel dalk ’n knop

” ’n Mens sal ’n knop slegs opmerk as dit aan die voorkant van die skildklier is,” sê dr. Thomas. “Daar behoort normaalweg nie enige sigbare of waarneembare knoppe in jou nek te wees nie, dus is dit belangrik om jou dokter te gaan sien indien jy een voel.” Hy verduidelik dat knoppe gewoonlik glad en rubberagtig voel, maar as dit hard is, verg dit mediese aandag. Dit is egter belangrik om te onthou dat knoppe oor die algemeen goedaardig is.

LET WEL: Die teenwoordigheid van een of meer van hierdie simptome is nie noodwendig ’n aanduiding van skildklierkanker nie; maak dus altyd seker om enige iets waaroor jy bekommerd is met jou dokter te bespreek.

Uit: Cosmopolitan US

FOTO: iStock/skynesher

LEES OOK:

7 dinge wat dokters wil hê vroue van hul seksuele gesondheid moet weet

8 gesondheidsfeite wat jy met jou dokter moet deel

Dokters het hierdie vrou se suster weggewys toe sy servikskanker gehad het

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Rustelose-bene-sindroom: Wat dit is en hoe om dit te behandel

Alles wat jy van rustelose-bene-sindroom moet weet

Close