×
Skakel na Engels

6 Nuwejaarsvoornemens wat jy nié moet maak nie

… en wat jy eerder kan probeer!
voornemens

Daar is iets aan die begin van ’n nuwe jaar wat die meeste van ons geïnspireerd, ambisieus en taamlik oorywerig laat voel om dit die beste jaar tot nog toe te maak. Hiérdie jaar gaan ek my swangerskapgewig afskud. Hiérdie jaar gaan ek bedank en by ’n nuwe werk begin. Hiérdie jaar gaan ek ’n nuwe taal aanleer. En ons ervaar druk uit alle oorde – kollegas wil weet wat ons doelwitte vir die jaar is; vriende vra of ons hierdie Januarie saam met hulle op die waterkar gaan klim; reklameborde verkondig dat dit “JOU jaar” is!

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Nou ja, dit kán jou jaar wees, maar sonder die spanning en teleurstelling wat onrealistiese doelwitte meebring. Verseker jouself van sukses in 2018 deur hierdie voornemens so effens aan te pas.

1. Hierdie jaar gaan ek duisende spaar

Die lewe is duur. As jy alreeds jou rande tot die uiterste toe rek, is dit regtig nie nodig om met hierdie voorneme ekstra druk op jouself te plaas nie, want hoeveel “duisende” gaan genoeg wees? Wanneer gaan jy voel dat jy hierdie voorneme op jou lysie kan afmerk?

VOORNEME: Wees meer spesifiek. Verbind jou daartoe om X-bedrag per maand te spaar (iets wat vir jóú realisties en doenbaar is). Of spaar vir ’n spesifieke item, soos ’n nuwe wasmasjien, en doen navorsing oor die gemiddelde prys van die model en handelsnaam waarna jy kyk sodat jy na ’n syfer kan werk.

2. Hierdie jaar gaan ek al my oortollige gewig verloor

In die eerste plek het jy hierdie gewig waarskynlik nie in een jaar aangesit nie. Waarom wil jy jouself straf deur dit alles in een jaar af te skud? Tweedens is die woorde “gewig” en “gewigsverlies” emosioneel gelaai en plaas dit verdere, onnodige druk op jou.

ALTERNATIEF: Verwyder die woord “gewig” uit jou voorneme en sê byvoorbeeld: “Ek wil graag weer in my gunsteling-jeans/-rok/-swembroek pas.” Dit klink minder oorweldigend, maar gee jou steeds iets waarnatoe jy kan werk, ’n manier om jou vordering te bepaal en ’n baie lonende resultaat.

3. Hierdie jaar gaan ek gelukkiger wees

As jy ná 30, 40 of 50 jaar steeds na daardie “iets” soek wat jou gaan gelukkig maak, is dit miskien tyd om van strategie te verander. 

ALTERNATIEF: Maak ’n punt daarvan om dinge uit te skakel wat jou ongelukkig maak. Hou op om nuus te lees of te luister as dit jou neerslagtig laat voel. Sê totsiens vir daardie emosioneel dreinerende vriendin. Hou op om tyd tussen negatiewe kollegas deur te bring.

4. Hierdie jaar gaan ek ophou rook

Om op ’n dag te besluit dat jy nooit weer gaan rook nie en summier al jou sigarette wag te gooi, waarborg jou van teleurstelling. En al is dit nie ’n slegte voorneme nie, is dit nie noodwendig wys nie.

ALTERNATIEF: Neem jou tyd om vas te stel waarom jy in die eerste plek begin rook het. Rook jy wanneer jy senuweeagtig of gespanne voel? Fokus dan op ’n gesonde alternatief om jou gevoelens en emosies te hanteer, soos om ’n koppie tee te maak, om die blok te gaan stap of vir ’n paar minute te mediteer.

5. Hierdie jaar gaan ek agt glase water ’n dag drink

Elke persoon se waterbehoeftes is uniek en word deur ’n verskeidenheid faktore beïnvloed, soos gewig, lengte, aktiwiteitsvlak en eetgewoontes. Tweedens is daar water in amper alles wat ons eet en drink. Alhoewel ’n paar glase water dus ’n gewaarborgde manier is om jou H2O-inname te verhoog, het jy waarskynlik heelwat minder as agt glase ’n dag nodig. Al hierdie veranderlikes maak dit baie moeilik vir ’n dokter of selfs ’n wetenskaplike om presies te sê hoeveel water jy daagliks moet drink.

ALTERNATIEF: Besluit eerder om vanjaar na jou liggaam te luister. As jy baie sweet, drink water. As jy op ’n warm dag lam en tam voel, drink water. As jy dors is, drink water. Ons liggaam is gemaak om ons te waarsku wanneer dit gedehidreerd begin voel. 

6. Hierdie jaar gaan ek ’n nuwe werk kry

Dit is meer van ’n doel as ’n voorneme, maar nietemin iets wat baie mense op hul Nuwejaarslysie plaas. Om ’n nuwe werk te soek én te kry kan uitputtend en vermoeiend wees, en erger nog, teleurstellend en ontmoedigend.

ALTERNATIEF: Begin deur jou CV en aanlyn profiel op datum te bring om jou kanse te verbeter, en slyp jou vaardighede deur vir ’n kort aanlyn kursus of aandklasse in te skryf. Dit sal jou laat voel dat jy jou vaardighede uitgebrei het en iets bereik het. En wie weet – daardie nuwe pos (of bevordering) gaan dalk net oor jou pad kom wanneer jy dit die minste verwag!

 

LEES OOK:

7 suksesvolle strategieë vir voornemens

Hoe om by jou oefenroetine te hou

10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 maklike skoonheidsvoornemens waarby jy vanjaar moet hou

2018 gaan jou mooiste jaar nóg wees!

Close