×
Skakel na Engels

6 maniere om te verseker dat jy nóóit weer spyt is oor jou haarsny nie!

Ons almal was al daar … Deur Sophie Hines.
haarsny

Dis Saterdagmiddag en jy sit in die haarsalon, jou oë stip op die spieël terwyl jou haarkapper se sker vlytig deur jou hare flits. Jy het ’n knaende gevoel dat iets nie reg is nie, maar nee, jy wil nie moeilik wees nie. Jy sal eerder wag en kyk wat gebeur.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

’n Halfuur later het jy betaal, is jy weg by die salon en sien jy jouself in ’n winkelvenster. Skielik word daardie knaende gevoel ’n wete – jy háát jou nuwe haarstyl!

Ons almal was al daar. Trouens, dis só ’n algemene verskynsel dat amper elke vrou haar eie nagmerrie-verhaal kan vertel. En ja, later kan ’n mens oor die hele besigheid lag, maar die feit is, om jou swaarverdiende kontant aan ’n haarsny te bestee wat jou na ’n hoed laat gryp, is nie in jou of die salon se belang nie.

Hoe kan jy dus seker maak dat jy nooit weer hande in die hare sit nie? Só kan jy ’n salonfiasko voorkom …

1. Doen jou navorsing

Nie alle haarkappers is van dieselfde stoffasie gemaak nie. In plaas daarvan om na ’n salon op te ruk waarvan jy nog nooit gehoor het nie, kan ’n bietjie navorsing voorkom dat jy met ’n kop vol versnipperde hare sit. Een van die maklikste, maar effektiefste wenke is om op die uitkyk te wees vir mense wie se hare uitstekend gesny is, en hulle vir hul haarkapper se besonderhede te vra (onthou om vir die naam van die stilis te vra, nie net die salon nie).

Hierdie werklike voorbeelde van ’n haarkapper se werk sal maak dat jy kan sien wat met ’n haarsny gebeur wanneer dit nie professioneel drooggeblaas is nie, verduidelik Joe Hemmings, eienaar van Bloggs Salon in Bristol in Brittanje. “Om te sien hoe mense hul eie hare kan hanteer, is ’n beter aanduiding as ’n sosialemedia-foto waar alles perfek gestileer is.”

Sosiale media kan egter ook effektief ingespan word; baie haarkappers het hul eie profiele waar hulle foto’s van hul werk deel sodat kliënte ’n idee van hul spesifieke styl of spesialiteit kan kry, of dit nou haarverlengings of kleur is.

2. Bepaal of jy ’n senior of junior stilis benodig

Een besluit waarby baie mense vashaak is die keuse van stilis – ’n junior haarkapper wat minder kos, of ’n duurder en meer ervare senior stilis? Op die ou end hang dit af van hoe drasties jy jou styl wil verander.

“As jy moeilike hare het en vorige afsprake al op katastrofes uitgeloop het – of dit nou met ’n kleur of ’n sny was – is dit noodsaaklik om ’n ervare persoon te kies as jy ’n groot verandering oorweeg. So iemand sal weet wat by jou en jou haartipe pas,” sê Craig Taylor, kreatiewe direkteur van Hari’s Salon in Engeland.

Maar vir roetineafsprake soos punte sny of blaas behoort ’n junior personeellid meer as voldoende te wees. Hou ook in gedagte dat daar besonder talentvolle juniors is; as jy dus een kry wat deurlopend briljante werk lewe, is daar geen rede waarom jy hom of haar nie met ’n nuwe voorkoms kan vertrou nie. 

3. Gaan vir ’n deeglike konsultasie

As ’n salon jou nie voor jou haarsny ’n konsultasie gee nie, of as jy aangesê word om jou hare te was voordat die haarkapper daaraan gaan werk, kan jy hulle stof van jou voete afskud. ’n Haarsny moet altyd deur ’n konsultasie vergesel word – of dit nou ’n paar dae voor jou afspraak of direk voor jou sny is. ’n Stilis kan nie bloot na nat hare kyk en weet hoe dit natuurlik val nie; die ideaal is dat jou hare soos gewoonlik gestileer moet wees wanneer jy vir jou konsultasie gaan sodat die haarkapper kan sien waartoe jy in staat is.

Vir ’n groot verandering by ’n nuwe haarkapper, stel Ken Picton, eienaar van die gelyknamige salon in Cardiff in Brittanje, voor dat jy vooraf vir ’n konsultasie gaan sodat jy tyd het om oor enige groot veranderinge na te dink.

“Indien moontlik, is dit ’n goeie idee om te reël dat jy jou haarkapper voor die groot dag gaan sien. Sodoende kan jy vasstel of jy van die stilis en haar voorstelle vir jou hare hou,” sê hy. As jy nie tyd het vir ’n konsultasie vooraf nie, kan jy navorsing doen oor ’n salon wat uur- of langer afsprake bied, want dit beteken dat daar genoeg tyd vir die konsultasie ook sal wees.

Party mense is bang dat dit ongeskik of voorbarig is om foto’s van hul verlangde styl saam te neem, maar visuele verwysings is dikwels die maklikste metode om jou verlangde voorkoms te kommunikeer.

“Neem altyd inspirerende foto’s saam met jou, veral vir kleur – dit is onmoontlik om te weet of die kleur wat jy in gedagte het presies dieselfde skakering is wat die stilis visualiseer,” sê Ricky Walters, eienaar van Salon64 in Londen. “Foto’s is ’n noodsaaklike verwysingspunt wanneer woorde nie voldoende is nie. Indien moontlik, maak ’n inspirasiebord – dit gebeur selde dat jy van ’n hele voorkoms hou, maar jy hou dalk van die agterkant van een haarsny, en die kleur van ’n ander.”

Selfs prente van haarstyle of -kleure waarvan jy nié hou nie, kan as handige verwysingspunte dien om jou haarkapper se aanvoeling vir jou persoonlike smaak te verfyn.

Lees ook: 5 goed wat jy vir jou haarkapper moet sê vóórdat hy jou hare sny

4. Wees realistiese oor jou haartipe

Gebruik die konsultasie om uit te vind of jy ’n realistiese idee het oor wat met jou haartipe gedoen kan word. Om jou verwagtings in hierdie stadium uit te klaar sal teleurstelling later voorkom.

“Wat snit en styl betref, is die meeste kliënte taamlik realisties oor hoe hulle hare sal reageer, maar wanneer dit by kleur kom, is sommige versoeke eenvoudig onuitvoerbaar,” sê Kai Wan, eienaar van P.Kai Salons in Peterborough, ’n stad in Oos-Engeland. “Sekere kleure kan nie binne een salonbesoek verkry word nie, of in sekere gevalle, as hare in ’n swak toestand is, is dit eenvoudig onmoontlik. Jou haarkapper het nie verniet hiervoor gestudeer nie. Vertrou hom maar”

Aan die einde van die konsultasie behoort jy en jou stilis albei ’n goeie idee te hê oor wat om van die afspraak te verwag. Die kans dat daar ’n onaangename verrassing op jou wag, is nou baie skraler.

5. Moenie bang wees om te praat nie

Ons is tog so bang om as “moeilik” bestempel te word — maar die haarsalon is een plek waar jy vinnig moet praat as iets jou pla. ’n Haarkapper sal glad nie omgee as ’n kliënt gedurende die afspraak haar kommer uitspreek nie, al is dit net sodat die stilis die geleentheid het om haar gerus te stel of om ’n probleem dadelik uit te sorteer.

“Vra net,” sê Ricky. “Dis onwaarskynlik dat die haarkapper ’n fout gemaak het, maar vra enige nodige vrae om jouself gerus te stel. Onthou, om hare te kleur en te sny is nie soos ’n tatoe nie, en jou haarkapper kan altyd aanpassings maak as daar iets is waarmee jy nie gemaklik is nie. ’n Tikkie haarverfrisser op ligstrepies kan maak dat jy binne ’n paar minute daarop verlief raak. ’n Haarkapper sal nooit omgee as ’n kliënt vrae het nie!”

Trouens, gedurende of direk ná die afspraak is die beste tyd om iets te sê indien jy voel dat die haarkapper nie by jul verstandhouding gehou het nie – jou stilis wil hê jy moet gelukkig daar weggaan en behoort dus gretig te wees om probleme reg te stel. 

6. Ontwikkel ’n vertrouensverhouding

In ’n tyd waar spesiale aanbiedinge en laaste-minuut-afsprake aan die orde van die dag is, is daar min van die outydse lojaliteit tussen haarkapper en kliënt te bespeur. Dit bly egter die heel beste manier om te verseker dat jy elke keer met ’n glimlag by ’n haarsalon uitstap.

“As jy ’n stilis kry van wie se werk jy hou, is dit tyd om ’n verhouding op gemeenskaplike eerlikheid en vertroue te bou,” sê Kai. Wees sommer ook openhartig oor jou begroting en die hoeveelheid tyd wat jy aan jou hare kan afstaan. Sodoende kan jou stilis ’n voorkoms met ’n toepaslike instandhoudingsvlak kies. 

Wanneer jy “die een” ontdek het, is ’n haartransformasie glad nie meer so skrikwekkend nie, want julle kan saam na jou haardoelwitte werk, of dit nou beteken jy wil dit laat groei of stelselmatig ’n nuwe kleur inbring. 

SOS: Wat om te doen as jy jou nuwe kapsel haat

Soms besef jy eers ná jou afspraak dat jy ongelukkig is met jou hare. Eerstens: Moenie paniekerig raak nie – amper enige haarsituasie kan beredder word, of dit nou ’n koperagtige blond of oneweredige lae is.

Skakel die salon en sê dat jy ontevrede met jou haarsny of -kleur is. Verduidelik beleefd hoe dit verskil van die voorkoms waarop julle in jou oorspronklike konsultasie besluit het. Dit behoort binne twee weke ná jou afspraak gedoen te word. Die meeste ondernemings sal eerder wil hê dat ’n kliënt moet terugkom sodat hulle die probleem kan regstel as om ’n ontevrede persoon aan ’n ander salon af te staan. 

As jy voel dat die haarkapper die probleem is, is dit in die haak om te vra of jy iemand anders of meer senior kan sien. Jy sal maar die ongemak moet verduur as die persoon tydens jou tweede besoek in die salon is, maar dit is beter as om met ’n onooglike haarsny te sit.

As die stilis jou instruksies egter noukeurig uitgevoer het, en jy eenvoudig nie van die styl hou nie, is jy in ’n swakker posisie om te kla. Die meeste goeie haarkappers sal jou egter vooraf daarop wys as ’n spesifieke snit of kleur nie by jou gaan pas nie. 

Al wat jy basies moet onthou, is dat ’n “haarramp” selde permanent is.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Nastasic

LEES OOK:

Hoe om die leeftyd van jou nuwe haarkleur te verleng

Dít gaan 2018 se gewildste haarneigings wees

 Hoe om jou hare hierdie somer gesond te hou

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om die leeftyd van jou nuwe haarkleur te verleng

Keer só dat jou nuwe kleur sy woema verloor

Close