×
Skakel na Engels

6 maklike skoonheidsvoornemens waarby jy vanjaar moet hou

2018 gaan jou mooiste jaar nóg wees!
skoonheidsvoornemens

 

Dit is amptelik 2018, wat beteken dat baie van ons allerhande beloftes gemaak het oor veranderinge wat ons wil aanbring om die meeste van hierdie jaar te maak, soos om meer slaap in te kry, gemorskos uit te sny en gereeld gim toe te gaan. En hoewel jy ’n pizza dan en wan vergewe sal word, is hier ’n paar skoonheidsvoornemens waarby jy hierdie jaar (en vorentoe) kan en behoort te hou. 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Doen jou navorsing

Oor die algemeen is skoonheidsprodukte nie goedkoop nie. Daarom is dit belangrik om jou huiswerk te doen voordat jy jou swaar verdiende kontant aan iets bestee wat op die ou einde dalk nie eens werk nie. Daar is heelwat aanlyn forums waar jy kan nalees oor mense se ervarings met produkte waarin jy moontlik belangstel. Gaan kyk eers daarna voordat jy enige (moontlike duur) besluite neem. 

2. Ruil jou lakens

Jy wil dit dalk nie weet nie, maar daar is miljoene der miljoene onsigbare goggas wat jou linne bewoon. Om hierdie rede is dit belangrik om jou bed gereeld skoon oor te trek. Waarom? Skoon lakens verbeter nie net die gehalte van jou slaap nie, maar dit help ook om jou vel skoon te hou. Om jou kussingsloop weekliks te ruil kan puisies en ander velirritasies voorkom. 

3. Verwyder jou grimering

Dit behoort vanselfsprekend te wees, maar dit is ontsettend belangrik om jou gimering te verwyder voordat jy inkruip. Om met ’n opgesmukte gesig te gaan slaap, verstop in die eerste plek jou porieë, wat aknee kan vorm, en lei ook tot voortydige velveroudering. Om jou gesig twee maal per dag met die korrekte reiniger, verfrisser, serum en bevogtiger te behandel, sal jou vel in ’n goeie toestand hou – nou én op die lange duur. 

4. Drink meer water

Dit is een van die mees algemene nuwejaarsvoornemens. Om genoeg water te drink is nie net goed vir die binnekant van jou lyf nie, maar het ook ’n positiewe uitwerking op jou voorkoms. Met die jare begin ons vel droër en minder gehidreerd raak, en dit is waarom dit so belangrik is om sowat agt glase water per dag te drink. Dit sal jou vel ’n plomp en stralende voorkoms gee. 

Lees ook: Drink jy genoeg water?

5. Was jou kwaste

As jou vel jou opdraande gee en jy nie weet waarom nie, kan dit wees dat jou grimeerkwassies dringend ’n skoonmaak nodig het. Hierdie apparate is die ideale teelaarde vir bakterieë, wat dan na die vel oorgedra word. Dit lei weer tot dermatologiese probleme. Was jou kwaste twee maal ’n week met ’n kwasreiniger of selfs babasjampoe en laat dit deeglik lugdroog word.

Lees ook: Wanneer moet jy jou grimeerkwaste was?

6. Raak ontslae van ou produkte

Almal van ons maak die fout om aan geliefde skoonheidsprodukte vas te klou waarvan die vervaldatum lánk reeds verstreke is. Maar ter wille van jou vel moet jy daarmee ophou. Ou grimering kan tot kwaai velirritasies en selfs infeksies lei. Gaan kyk na die vervaldatum agterop die boksie, maak die som en neem afskeid indien nodig. Uit met die oue, in met die nuwe!

 

Main image: iStock/Sasha_Suzi

LEES OOK:

Vervang gereeld jou grimering

Die grootste grimeringfout wat die meeste vroue maak

5 grimeerneigings wat jy maar kan los

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die beste skoonheidsgeskenkpakke om hierdie Kersfees te gee

Oppas! Jy mag dalk net ’n paar vir jouself wil hou ...

Close