×
Skakel na Engels

6 goed oor jul verhouding wat jy nooit moet deel nie

Party dinge moet regtig net privaat bly
Verhouding

Dis heeltemal natuurlik vir jou om by jou vriendinne te kla oor wat in jou verhouding aangaan – dis algemeen by ’n ontbyt of boekklub – maar dit beteken nie jy moet álles deel nie. Daar is ’n paar dinge wat verhoudingskenners sê moet tussen jou en jou maat bly. Vind uit wat dit is, en ongeag hóé graag jy daaroor met jou beste vriendinne wil praat, hou liewer jou mond.

1. Wanneer julle ’n seksdroogte beleef

Kom ons skets die toneel: Jy en jou maat het ’n paar maande laas seks gehad. Jy is nie seker hoekom nie, en in ’n gefrustreerde oomblik vertel jy jou vriendin daarvan. Haar reaksie? “Ag, moenie worrie nie, ons ook nie. Dis al vier maande.”

Hoewel dit jou dalk ’n sug van verligting kan laat slaak, sê Irina Firstein, ’n verhoudingsberader in New York, is dit nie baie behulpsaam nie. “So ’n soort opmerking normaliseer ’n probleem wat aandag verg,” verduidelik sy. “Jou vriendin probeer help, maar sy kan nie regtig nie, want sy is nie in seksterapie opgelei nie en kan gewoonlik nie opbouende terugvoering gee nie.”

En of sy dit nou erken of nie, sy jok waarskynlik, meen Firstein. “Jou sekslewe is eintlik regtig privaat, en baie mense is, in ’n poging om die persoon met wie hulle die gesprek het beter te laat voel, geneig om nie heeltemal eerlik oor hulle eie sekslewe te wees nie,” verduidelik sy. Uiteindelik kan haar opmerkings jou slegter (of beter) oor jou probleme laat voel, en dit is nie behulpsaam nie. As julle dus probleme in die slaapkamer het, probeer om eers met jou maat daaroor te praat. As julle egter nie saam by die oorsaak van die probleem kan uitkom nie, oorweeg dit om met ’n seksterapeut te praat wat julle nie net kan help uitvind hoekom daar ’n gebrek aan intimiteit is nie, maar julle ook idees kan gee om dinge in die slaapkamer opwindender te maak.

Lees ook: Praat só om konflik te vermy

2. Wanneer sy familie jou irriteer 

Dit voel of almal oor hul skoonma of skoonsuster kla, maar Firstein sê jy moet maar op jou lippe byt as jy kan. Jy weet nooit wanneer wat jy gesê het by jou man uitkom (of hy dit bloot gehoor het toe hy in die vertrek langsaan was) nie, en dit kan hom wrokkig laat voel, “want mense is gewoonlik verdedigend oor hul familie”, verduidelik sy.

En weer eens is dit nie behulpsaam nie. Ja, dit sal jou dalk ’n oomblik laat beter voel as jy jou frustrasie kan opper, maar uiteindelik is die terugvoering wat jy van vriende kry persoonlik en gegrond op hul eie ervaring. “Dit het niks met jou en jou situasie te doen nie. Dit is dus veiliger om dit nie te waag nie,” sê Firstein.

Gaan oefen eerder in die gim of gaan stap ’n ent om stoom af te blaas en gaan dan terug en praat met jou maat sodat julle ’n oplossing kan uitwerk nadat jy tyd gehad het om af te koel en jy duideliker kan praat (en dink).

3. Wanneer jou maat sy seksuele fantasie onthul

In die derde seisoen van Friends is ’n hele episode gewy aan Rachel wat Phoebe van Ross se Princess Leia-fantasie vertel – en hoe kwaad Ross daaroor was dat sy sy geheim gedeel het. Sy frustrasie is geregverdig, sê die seksterapeut Vanessa Marin. “Die meeste van ons het fantasieë waaroor ons nie heeltemal gemaklik voel nie; dis moeilik om jou skanse te laat sak en die intiemste dele van jou seksualiteit met iemand te deel,” sê sy.

As sy maat moet jy sy vertroue nie skend nie en die inligting privaat hou. Dis dalk ’n versoeking om daaroor te praat as die bekentenis groot skokwaarde het, of as jy nie weet hoe om vir hom te sê jy is nie eintlik gretig om dit te verwesenlik nie. Maar weerstaan die versoeking en hou dit vir jouself. (Hoe sal jy immers voel as hy met sy vriende oor jou fantasieë praat?) As jy met iemand moet praat, maak ’n afspraak vir ’n sessie by ’n seksterapeut.

Lees ook: 15 tekens dat julle dalk verhoudingsberading nodig het

4. Wanneer een van julle die ander een verkul

Of dit nou ’n emosionele of fisieke affair was (ja, daar is ’n verskil en ja, dit word albei as ontrouheid beskou), enige inligting oor jou of jou maat se doen en late buite jul verhouding moet stil gehou word, sê Firstein. Dit is algemeen om om ’n uitlaatklep by iemand anders te soek – soos jou ma of jou beste vriendin – maar Firstein sê dit kan hul mening oor jou maat onherstelbare skade berokken. En hoewel dit nie regtig saak maak as julle besluit om te skei nie, sal dit dit net soveel moeiliker maak as julle besluit om weer te probeer.

“Omdat ander daarvan weet, sal dit voortgaan en jy sal met hul gevoelens en beoordeling moet saamleef vir hoe lank hulle dit ook al opper,” sê Firstein. Dink daaroor: As jou ma weet, sal sy elke keer wanneer jy en jou man ’n uitval gehad het en jy met haar daaroor praat, dit terugneem na die affair, selfs al het dit niks daarmee te doen nie.

Praat eerder met ’n individuele of verhoudingsberader oor die affair wanneer jy voel dis nodig – hulle skep vir jou ’n veilige ruimte waarin jy oor jou emosies kan praat sonder om kant te kies of ’n oordeel te vel.

5. Wanneer een (of albei) van julle deur iets privaats gaan

Dit klink vanselfsprekend, maar Firstein sê dis iets wat ’n mens gerus kan onthou: As jou maat jou van ’n private familie-aangeleentheid vertel (soos ’n broer of suster met ’n ernstige gesondheidsprobleem) of van ’n ongemaklike situasie waarin hy is (soos om sy werk te verloor), hou jou mond. Wanneer hy teenoor jou oopmaak, is dit ’n bewys dat hy jou vertrou en glo jy sal die situasie op ’n respekterende manier hanteer, sê sy. Moenie daardie vertroue skend deur dit vir iemand anders te vertel nie – selfs al is dit net omdat jy raad soek oor hoe om hom te troos.

“Dis beter om eerder net te luister en daar te wees,” sê Firstein. Dis ’n netelige kwessie, maar die beste ding wat jy kan doen, is om hom te laat praat, empaties te wees en te wys jy gee om.”

Lees ook: 11 vrae wat jy jou maat moet vra voordat julle trou

6. Wanneer hy ’n geldflater begaan

Om ’n fout te begaan is reeds ’n groot genoeg verleentheid, maar wanneer dit by geld kom, is dit geneig om selfs persoonliker te wees, want geldsake kan een van die grootste oorsake van egskeiding wees, sê Firstein. Moet hom dus nie verneder deur in die openbaar daaroor te praat nie. Of hy nou ’n slegte belegging gedoen het of daardie maand te veel geld uitgegee het, dis ’n persoonlike handeling, met die klem op persoonlik.

Om met jou vriende daaroor te praat laat hom sleg lyk, en dit sal noodwending hul mening oor hom verander, sê Firstein. As jy raad nodig het oor hoe om jou geldsake reg te stel, probeer hierdie begrotingswenke en oorweeg dit om ’n finansiële adviseur te raadpleeg om julle al twee op die regte pad te kry.

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/triocean

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
My Plakboek: Catherine Grenfell

DIÉ VIOOL HET AAN MY OUMA RHODIE DAWN BEHOORT. Sy was op ’n skip vanaf die VSA na die Kongo –...

Close