×
Skakel na Engels

6 dinge oor probiotika wat jou maagdokter wil hê jy moet weet

Op pad apteek toe om iets vir ’n gesonder maagdermkanaal te kry? Lees eers hier … Deur Natalie Healey
maag, Probiotika

 

Prioritisering van die gesondheid van ons dermkanaal was verlede jaar ’n belangrike voedingsneiging, en dit sal nie in 2017 anders wees nie. Dit beteken al hoe meer mense oorweeg dit om probiotika te neem met die hoop om hul immuunstelsel te versterk en verligting van algemene maagkwessies te kry, van opgeblasenheid tot prikkelbaredermsindroom. Maar wat is probiotika, en kan dit jou help? Ons het ’n toonaangewende gastroënteroloog gevra om haar insigte te deel. Lees hier wat dr. Ana Wilson, konsultantgastroënteroloog by die St Mark’s-hospitaal in Londen, wil hê almal moet van “goeie” bakterieë weet.

1. Probiotika kan jou immuunstelsel ’n hupstoot gee

Probiotika is lewende bakterieë en gis. Ons dink daaraan as “goeie” bakterieë – dieselfde as of soortgelyk aan die soort wat in die menslike dermkanaal voorkom en wat ’n voordelige uitwerking op ons gesondheid het. Probiotika help om jou dermkanaal gesond te hou en dit het weer ’n positiewe uitwerking op jou immuunstelsel en algehele gesondheid.

2. Probiotika kan nie medikasie vervang nie

Om probiotika te neem (hetsy as aanvulling of deur meer daarvan in jou dieet in te sluit) sal waarskynlik nie alle simptome op hul eie verbeter nie. Probiotika kan nie medikasie vervang nie, maar dit kan gebruik word om bestaande behandelings aan te vul. Dit is voordelig om probiotika as voorkomende maatreël te gebruik, maar dis belanglik om te besef dat dit nie op hul eie gebruik kan word om simptome te verlig nie. Veral in toestande soos prikkelbaredermsimdroom (PDS) is elke pasiënt ’n individu en probiotika is nie ’n behandelingsmetode wat presies dieselfde op almal toegepas kan word nie.

3. Daar is verskillende soorte probiotika

Daar is bewys dat laktobasil (Lactobacillus) en bifidobakterie die grootste voordeel vir gastroïntestinale simptome inhou. Laktobasil ondersteun die immuunstelsel, beveg skadelike bakterieë en moedig ’n bakteriële balans aan. Bifidobakterie perk skadelike bakterieë in, ondersteun die immuunstelselrespons en is voordelig vir ’n gesonde maagdermkanaal. Spesifieke lyne het verskillende uitwerkings, maar baie mense kan by probiotika baat vind vir algemene gesondheid en welstand. Jy kan gewoonlik hierdie probiotika as ’n kombinasie in tabletvorm drink.

4. Probiotika help met ingewandsprobleme

Probiotika kan jou ingewandsgesondheid verbeter, veral vir toestande soos PDS en opgeblasenheid. PDS is ’n “funksionele dermkanaalsteuring” en daar is bewyse dat probiotika die simptome van PDS kan verlig. Daar is bewys dat dit opelyf kan reguleer en opgeblasenheid, pyn en winderirgheid kan verlig. Ek het gesien hoe pasiënte baat vind deur probiotika te neem, veral dié wat aan PDS ly.

5. Gesonde mense het waarskynlik nie probiotika-aanvullings nodig nie

Daar is geen bewyse dat mense sonder gesondheidsprobleme nodig het om probiotika te neem nie, maar ek wil aanvoer dat dit deel van ’n normale gesonde dieet kan wees. Sommige kosse bevat dieselfde probiotikavoordele as aanvullings. Dit sluit jogurt met lewende kulture, kimchi, rou kaas en sauerkraut in. Ek sou dus aanbeveel dat gesonde mense hierdie kosse eet as hulle ’n probiotiese hupstoot wil hê sonder om ’n aanvulling te drink.

6. Probiotika is nie ’n plaasvervanger vir ’n swak dieet nie

Wanneer jy eers die regte probiotika in jou dermkanaal het, is dit belangrik om dit in stand te hou sodat dit ’n positiewe uitwerking kan hê. Om te floreer het probiotika ook prebiotika nodig – nieverteerbare koolhidrate wat as brandstof dien. Dit kom natuurlik in nieverteervare vesel voor in die vorm van kos soos heelgrane, rou vrugte en groente; wesenlik gesonde kos wat ons in ’n gebalanseerde dieet nodig het. Hou in gedagte dat probiotika nie ’n swak dieet kan vervang nie. Alle probiotika werk verskillend en dit is onduidelik presies hoe dit werk.

Via: Good Housekeeping.UK

Lees ook:

4 realistiese Nuwejaarsvoornemens

4 kosse wat jou immuunstelsel help versterk

Klop verkoue en griep

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 redes hoekom jy nie in die nuwe jaar moet detoks nie

En wat jy in plaas daarvan kan doen ... Deur Laura William, fiksheidskenner

Close