×
Skakel na Engels

6 belangrike feite vir wanneer jy hare was

Want kennis is mag (en goed vir jou hare!)
belangrike feite vir wanneer jy hare was

Jy dink waarskynlik nie baie oor harewas nie – want hoe ingewikkeld kan dit nou wees? Daar is egter dinge wat die toestand van jou kroon kan verswak of versterk. En sê nou jy het dit nog altyd verkeerd gedoen? Die volgende ses feite sal ’n bietjie lig op hierdie roetinetakie werp en sommer ook iets vir jou voorkoms doen. 

1. Te veel was kan droogheid veroorsaak …

Sjampoe, hoe doeltreffend ook al, stroop hare van hul natuurlike olies. Die oormatige gebruik daarvan kan jou hare dus uitdroog. Op die lange duur lei dit weer tot beskadigde, swak hare. Indien jy jou hare elke dag moet was, stel ons voor jy gebruik ’n voedende formule wat jou hare eerder sal bevogtig as stroop.

2. … maar ongereelde was kan tot vuilheid lei

Om te lank tussen wasse te wag kan ook ’n probleem wees. Dit kan daartoe lei dat produkte en bakterieë op jou kopvel opbou en kan jou hare swaar maak. Ongewaste hare lyk nie net vaal en vetterig nie, maar dit kan ook tot verstopte porieë en puisies lei, sowel as haarverlies indien die hare dikwels vir lang tye nie gewas word nie. 

Lees: Opknapwas: Wat is dit en is dit goed vir jou hare?

3. Konsentreer op jou kopvel

Wanneer jy hare was, hoef jy nie te veel aandag aan die punte te gee nie. Fokus eerder op jou kopvel, want dit is waar die meeste vuiligheid opbou. Nog ’n voordeel is dat die masseerbewegings jou bloedvloei stimuleer, wat weer tot beter haargroei lei. Aan die ander kant kan verstopte follikels maak dat jou hare uitval.

4. Belê in sulfaatvrye produkte 

Baie van die gewone sjampoe- en opknapperhandelsmerke bevat sulfate, sterk saamtrekmiddels wat hare van vog sowel as kleursel kan stroop. Om na ’n handelsmerk oor te skakel wat nie hierdie skerp chemikalieë bevat nie, is baie beter vir die algehele gesondheid sowel as voorkoms van jou hare. 

Lees: Het jy dun hare? Hier is vyf goed wat jy moet vermy

5. Moenie afskeep met die afspoel nie

Dit klink dalk vanselfsprekend, maar dit is belangrik om seker te maak dat jy al die sjampoe en opknapper afspoel as jy glansende, bonsende hare wil hê. As jy dit ’n stappie verder wil neem, kan jy jou gewaste hare met koue water afspoel om dit meer te laat blink. Dis te sê as jy nie skrik vir die koue nie!

6. Droë sjampoe kan jou lewe verander

In plaas daarvan om jou hare te gereeld te was, kan jy dit oorweeg om ’n droë sjampoe te gebruik. Dit sal jou die tyd en geld spaar wat jy aan produkte bestee. Droë sjampoes word deur stileerders aanbeveel as ’n wonderlike alternatief vir was. Dit absorbeer die olies wat jou hare swaar maak en verfris dit oombliklik sodat jy nog ’n dag kan wag voordat jy hare was.

FOTO: iStock/esp2k

LEES OOK:

Is dit waar dat jou hare vinniger groei wanneer jy dit laat sny?

 Hoe om jou hare sonder hitte reguit te kry

Alles wat jy moet weet om jou hare tuis te kleur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dié nuwe haarkleurtegniek sal jou slanker laat lyk!

Nuwe haarkleur, nuwe jy!

Close