×
Skakel na Engels

5 wenke vir wanneer jy ’n yskas koop

Anders as baie ander elektroniese toestelle is yskaste ontwerp om lank te hou. Dit is dus die moeite – en geld – werd om goed te dink oor watter eienskappe die meeste in jou huishouding sal saak maak
wenke vir wanneer jy ’n yskas koop

Of jy nou jou eerste yskas wil koop of op die uitkyk na ’n yskas is om jou huidige yskas (jou trougeskenk van jou ouers wat eindelik die gees gegee het) te vervang, hou hierdie vyf koopwenke in gedagte:

1. Pakplek

Yskaskapasiteit word in liter gemeet: een lesing vir die yskas en een vir die vrieskas. As die twee lesings saam meer as
250 liter is, word dit as “gesinsgrootte” beskou. Die standaardmates vir ’n gesinsgrootte-yskas is 60 cm x 185 cm.

2.Ysvry

Die meeste yskaste bo die intreevlak is ysvry, wat beteken waaiers en luggate word gebruik om koue lug eweredig deur die ys- en vrieskas te sirkuleer sodat yskristalle nie vorm en aanpak nie.

3. Waterwys

Vermy yskaste met waterhouers, tensy jou gesin groot waterdrinkers is. Waterhouers neem deurspasie in beslag en breek soms, en die water smaak ook nie vars as dit vir ’n rukkie daarin gelê het nie.

4. Bespaar krag

Byna alle yskaste in Suid-Afrika het ’n betroubare A-gradering vir elektrisiteitsverbruik, hoewel sommige ’n A++-gradering het. Om krag te bespaar moenie ’n yskas koop wat groter is as wat jy regtig nodig het nie, moenie warm kos in die yskas plaas nie en hou jou vrieskas minstens halfvol.

5. Vat dit vas

Sakpas modelle vereis dat jy jou vingers in ’n gleuf in die deur moet druk om dit oop te maak, wat baie minder gerieflik is as om ’n deur met ’n handvatsel te gebruik. As jou nuwe yskas handvatsels het, maak seker dis lekker stewig.

Moet jy van ’n ou yskas ontslae raak?

Om van ou yskaste ontslae te raak is ’n ekologiese uitdaging. Wanneer dit aangeskakel is, verbruik dit meer krag as moderne yskaste. Om dit weg te gooi sal tot ’n spul swaar metale en plastiek iewers op ’n stortingsterrein lei. Volg eerder die riglyne van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir E-afval. Besoek ewasa.org.

FOTO: iStock/JackF

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kennerwenke om jou yskas te pak

Spaar jouself tyd en moeite met hierdie nuttige wenke van die kenners by LG

Close