×
Skakel na Engels

5 wenke om ’n angsversteuring te herken – en hoe om dit te hanteer

Die simptome, asook strategieë om dit te oorkom
angsversteuring

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) is angsversteurings die algemeenste geestessiekte in Suid-Afrika. Een uit vyf Suid-Afrikaners word jaarliks deur ’n angsversteuring geraak.

An Bakkes weet maar alte goed hoe dit voel om knaend angstig te wees. Sy is twee keer met kanker gediagnoseer en het tydens haar herstelproses ’n model ontwikkel wat mense help om met angs saam te leef.

Volgens An help haar model mense om vanuit ’n persoonlike, professionele en ouerlike oogpunt hul angs te verstaan. Die model verander ook hul perspektief op die steurnis en kan prakties in hul daaglikse lewe toegepas word.

Dié wenke uit An se boek, Embracing Anxiety, Coming Back with Hope, sal jou help om ’n angsversteuring te identifiseer en dit beter te hanteer.

Hoe weet ek of ek aan ’n angsversteuring ly?

Niemand ervaar angs dieselfde nie, en die oorsake van angs verskil van mens tot mens. Daar is wel twee algemene oorsake – onsekerheid en kompleksiteit. Wanneer ons lewe deur angs beheer word, kort dit lewensgehalte in en het dit ’n negatiewe invloed op ons vermoë om sinvol besluite te neem.

Indien jy angstig voel of bekommerd is, en vir ’n lang tyd meer as 70% van die dag met gedagtes van bekommernis worstel, ly jy moontlik aan ’n angsversteuring.

Simptome van angs

Kognitiewe simptome

  • Sukkel om te onthou
  • Sukkel om te konsentreer
  • Het swak ruimtelike bewustheid
  • Sien net die negatiewe raak
  • Is die heeltyd bekommerd

Emosionele simptome

  • Is buierig
  • Is geïrriteerd en kort van draad
  • Is angstig, kan nie ontspan nie en voel die heeltyd oorweldig
  • Voel alleen en geïsoleerd
  • Ly aan depressie en voel in die algemeen ongelukkig

Fisieke simptome

  • Pyn – wat ook al ons skete, stres, angs en vrees verger dit
  • Diarree en hardlywigheid
  • Naarheid en duiseligheid
  • Borspyn en hartkloppings
  • Lae libido
  • Gereelde verkoues

Gedragsimptome

  • Eet te veel of eet nie genoeg nie
  • Slaap te veel of slaap nie genoeg nie
  • Isoleer jouself van ander
  • Stel uit of kom nie verantwoordelikhede na nie
  • Gebruik alkohol, sigarette of dwelms om te ontspan
  • Leer gewoontes aan om spanning te verlig, soos naels byt, klop met vingers of voete, en onvermoë om stil te sit

Hanteer angs só

1. Identifiseer angssnellers by die werk

Jy kan angs in die werkplek beter hanteer as jy weet wat op kantoor tot die angs bydra. Dit kan werksdruk, die kultuur van die maatskappy, werkstempo of die werksetiek wees. Sodra jy weet wat jou angs veroorsaak, kan jy jouself toerus om dit beter te hanteer.

2. Bly aktief

Wanneer jy aktief is, word endorfiene vrygestel wat jou gelukkig laat voel en jou sal help om die angs te beveg. Oefen twee tot drie keer per week vir 30 minute op ’n slag. Is die dag nie lank genoeg nie? Kombineer oefening met ander aktiwiteite; doen byvoorbeeld ’n paar stelle opsitte terwyl jy jou gunsteling-TV-program kyk.

3. Tel jou seëninge

Doen doelbewus dinge wat jou gelukkig maak en kies om elke dag dankbaar te leef, selfs vir die kleinste dingetjies.

4. Bly by ’n skedule

Vereenvoudig en beplan jou lewe so veel moontlik. Volg ’n weeklikse skedule met alles wat gedoen moet word. Dit sal jou help om die onbeplande beter te hanteer.

5. Bly positief

Jy is nie angs se slaaf nie. Probeer so ver moontlik met ’n positiewe ingesteldheid keuses maak.

FOTO: iStock/elenaleonova

LEES OOK:

6 dinge wat jou depressiewe tiener vir jou wil sê 

Oorkom nageboortelike depressie

Herken en behandel angs 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Rehabilitasieprogram vir roemverslaafdes

Jy het nie "likes" nodig om gelukkig te wees nie

Close