×
Skakel na Engels

5 wenke om jou vrees vir vlieg te oorwin

Wanneer die vrees vir vlieg so erg is dat dit ’n persoon se vermoë belemmer om hul gedrag te beheer, kan dit as “aviofobie” of “aërofobie” – ʼn spesifieke fobie vir vlieg – geklassifiseer word … Deur Becky Fletcher
vlieg

Dr. Nick Mooney, ’n kliniese sielkundige van Re:Cognition Health in Engeland, gee raad oor die hantering van angs wat met vlieg geassosieer word en deel sy topwenke om jou te help om jou vrees vir vlieg te oorkom.

1. Kry hulp

“Daar is reeds bewys dat psigoterapie mense kan help om hul vrees vir vlieg doeltreffend te hanteer. Daar is egter nie ’n standaardtegniek nie, en die spesifieke tegnieke wat vir een mens gebruik word, gaan dalk nie vir iemand anders werk nie. Mense wat matige tot hoë vlakke van hierdie vrees ervaar, word aangemoedig om ’n geskikte terapeut met ervaring in die behandeling van angstoestande te gaan spreek.

“Vir ligter angsvlakke kan vaardighede en inligting wat deur algemene vorms van praatterapie – soos kognitiewe gedragsterapie (KGT) en aanvaardings- en verbintenisterapie (ACT) – verkry word, mense help om hul ongemak te beheer sodat vlieg ’n aangenamer ervaring is.”

2. Pas kalmeringstegnieke toe

“Spesifieke tegnieke, insluitend asemhalingoefeninge, aandagtigheid, visuele blootstellingsoefeninge en die bekamping van negatiewe gedagtes, kan ingespan word om aviofobie te hanteer.

“Hierdie tegnieke moet verkieslik vooraf geoefen word sodat dit tydens die vlug doeltreffend toegepas kan word. Onthou ook om nie te streng met jouself te wees nie. Al besef jy dat jou gedagtes irrasioneel is, is die angs wat jy ervaar eg en gegrond. Jy mag maar angstig wees en die gevoelens sal vinniger opklaar as jy dit nie probeer vermy en daarteen baklei nie.” 

3. Kennis is mag

“Weet wat jou snellers is. Probeer jou grootste vrese identifiseer. Sommige mense is bang dat die vliegtuig gaan neerstort of gekaap gaan word terwyl ander mense hulle bekommer oor die potensieel katastrofiese gevolge van ’n paniekaanval in ’n geslote ruimte so hoog in die lug. Deur jou vrees te identifiseer, sal jy weet watter stappe nodig is om jou fobie te hanteer.”

4. Stel die bemanning in kennis

“Sommige mense ervaar minder angs as hulle die bemanningslede en selfs passasiers langs hulle van hul vrees in kennis stel. Dit kan help om die ‘probleem’ op die naam te noem wanneer en indien jy angssimptome begin toon. Jy sal jou dus nie so bekommer oor wat ander gaan dink nie en jou medepassasiers sal waarskynlik met opregte simpatie en begrip reageer. Die bemanningslede sal jou ook nuttige wenke kan gee oor hoe om vliegvrees te beheer, en sodoende ekstra hulp en ondersteuning bied.”

5. Ken jou feite

“Doen jou navorsing oor statistieke rondom jou fobie. As jou vrees byvoorbeeld met vliegongelukke te doen het, kan jy ondersoek instel na hoeveel vliegtuie onlangs neergestort het en wat die waarskynlikheid van so ’n gebeurtenis is. Alhoewel dit jou nie van jou vrees gaan genees nie, sal dit jou fobie in konteks plaas en jou help om hierdie verlammende gevoelens te rasionaliseer.”

Uit: Netdoctor UK

FOTO: iStock/martin-dm

LEES OOK:

6 maniere om vlugvoosheid vinnig af te skud

Vliegtuigetiket 101

Pak weg ná die vakansie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 maniere om ’n geliefde met angs of depressie te help

Moenie vergeet dat hierdie toestande nie net jongmense met eksamens en middeljariges met beroepe, skuld en gesinstres raak nie. Deur...

Close