×
Skakel na Engels

5 wenke om geldsake in jou verhouding te bestuur

Geldkwessies kan selfs die sterkste verhouding ontspoor. Doen nou hierdie stappe om wrywing in die toekoms te vermy
wenke om geldsake in jou verhouding te bestuur

1. Wees eerlik

In enige verhouding is dit uiters belangrik om eerlik oor jou geldelike situasie te wees. Dit kan verloklik wees om nie oor geldelike probleme te praat nie, maar die belangrikste (en dikwels moeilikste) stap is om die gesprek te begin.

Wees eerlik oor jou bestedingsgewoontes en moedig jou maat aan om eerlik oor syne of hare te wees. Benader die onderwerp op ’n kalm manier.

Onthou, hierdie gesprek is ’n samevoeging van idees en gedagtes, nie ’n geleentheid om jou maat van verkwisting te beskuldig nie. Hoe meer jy oor jou geldsake praat, hoe makliker word dit.

2. Besluit of julle jul geldsake wil saamvoeg of apart hou

Besluit watter finansiële situasie die beste vir julle as paartjie sal wees. Wil julle jul geldsake saamvoeg of apart hou? As julle voel dit sal makliker wees om die rekeninge saam te betaal, kombineer dan jul geldsake.

Moenie vergeet om jou maat van al jou uitgawes (veral die onbeplandes) te vertel as julle jul salarisse saamvoeg nie. As jy voel dis te mede-afhanklik om jul salarisse te kombineer, hou dan jul finansies apart.

Hoe julle ook al besluit om jul geldsake as ’n paartjie te hanteer, dit is belangrik om te onthou dat julle ’n span is, en groot finansiële besluite sal die beste uitkoms hê as julle dit saam doen.

3. Begroot, begroot, begroot

Weet jy hoeveel jou maat verdien? Voer ’n openhartige gesprek oor jul salarisse en stel dan ’n begroting saam wat in julle albei se behoeftes voorsien. En nee, dis nie nodig vir ’n ingewikkelde Excel-sigblad nie.

Maak eenvoudig ’n lys van jul inkomste in een kolom en jul uitgawes in ’n ander. Só sal dit maklik wees om te sien watter uitgawes besnoei kan word.

4. Eet by die huis

Uiteet kan baie duur raak en stremming op ’n verhouding plaas. Jy of jou maat kan onder druk voel om mekaar uit te neem en hierdie onbeplande uitgawes kan vinnig te veel word.

Hoekom eet julle nie tuis nie? Om vir jou maat kos te maak of saam kos te maak is baie romanties. Jy sal regmerkies verdien sonder om te veel geld uit te gee!

5. Stel geldelike doelwitte

Gaan julle trou? Gaan julle ’n baba hê? Beplan julle ’n oorsese reis saam? Waar julle ook al in jul verhouding is, daar is waarskynlik iets waarvoor julle as paartjie spaar.

Besluit vooraf hoeveel julle elkeen elke week/maand/jaar wil spaar. Om spaarriglyne op te stel en daarby te hou kan ernstige konflik in die verhouding keer.

Foto: iStock/Geber86

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Tuis-oefenprogram vir paartjies

Word op ’n prettige manier saam met jou maat fiks

Close