×
Skakel na Engels

5 waterbesparende produkte onder R150

Saam kan ons Dag Zero vermy!
waterbesparende produkte

Die Moederstad beleef tans die kwaaiste droogte in menseheugenis, en met die strenger waterbeperkings en naderende Dag Zero het ons dit goed gedink om ’n paar produkte te identifiseer waarmee ons nog meer water kan bespaar. Daar word reeds van almal verwag om hulle deel te doen deur van gryswater gebruik te maak wanneer hulle die toilet spoel of tuin natmaak, en hoogstens twee keer per week te stort.

Daar is egter nog maniere om die “waterbelt” stywer te trek en Dag Zero moontlik uit te stel of te voorkom. Maar dit kan slegs gebeur indien ons ons samewerking gee. Hier is vyf huishoudelike produkte van onder R150 wat ons waterverbruik verder kan verminder:

1. Loo-Me-toiletskuim

Dié innoverende produk is weens die droogte as ’n hulpmiddel vir waterbesparing geformuleer. Loo-Me-toiletskuim verdoesel enige urinereuk en maak dat die toilet nie ná elke gebruik gespoel hoef te word nie. Die produk word ná gebruik in die toilet gespuit en vorm ’n skuimlaag. Loo-Me-toiletskuim kan teen R34,99 by uitgesoekte Shoprite- en Checkers-takke verkry word, en kan ses tot agt keer gebruik word. Milly Meltzer, die brein agter dié produk, sê: “Dit is osoonvriendelik en ek het nog geen klagtes van verstopte toilette gekry nie.” Besoek hul Facebook-blad vir nog inligting.

2. Droë sjampoe en 2-in-1-sjampoe

Om daagliks hare te was is beslis ’n groot bydraende faktor tot oormatige waterverbruik. Beperk die aantal kere wat jy hare was deur haarprodukte soos droë sjampoe te gebruik. Sodoende hoef jy net elke tweede dag hare te was en kan jy die droë sjampoe tussenin aanwend.

Daar is ’n hele verskeidenheid droë sjampoes en ’n wye verskeidenheid winkels waar dit gekoop kan word. Een so ’n produk is Batiste Dry Shampoo, wat R45,95 kos en by Clicks gekoop kan word. Dit is die ideale grootte vir jou handsak vir wanneer jy jou hare vinnig wil verfris. 

Nog ’n wonderlike waterbesparende haarproduk is ’n 2-in-1-sjampoe. As jy hierdie sjampoe gebruik, hoef jy nie ekstra tyd in die stort deur te bring om jou hare op te knap nie. ’n 2-in-1-sjampoe sal terselfdertyd na jou was- én opknapbehoeftes omsien, wat beteken dat jy minder water gebruik. Organics maak ’n wonderlike 2-in-1-sjampoe wat teen R72 vir ’n 1 liter-bottel verkoop word.

3. Afveelappies

Om jou hoeveelheid storte per week te sny sal jou waterbesparing ’n stewige hupstoot gee. Bygesê, dit is steeds belangrik om higiënies te wees en te sorg dat jy elke dag fatsoenlik by die werk en skool opdaag. Een manier om dit te doen, is deur al om die ander dag van klam lappies gebruik te maak. Sodoende raak jy van enige kieme en reuke ontslae sonder om ’n druppel water te gebruik.

Dit kan elke tweede dag met ’n stort van twee minute afgewissel word. Ons beveel aan dat jy klam lappies in grootmaak aanskaf om onnodige winkelritte te vermy. Pampers Baby Wipes kan by Takealot teen R129 vir 336 lappies gekoop word.

4. Waterbesparende sakke

Baie huise het ouer toiletspoelbakke wat nie so effektief soos nuwer modelle in terme van waterverbruik is nie. Dis waar waterbesparende sakke inkom! Installeer ’n eenvoudige Hippo-sak en kyk hoe dit die uitvloei van water uit die spoelbak vertraag. Sodoende spaar jy elke keer water wanneer jy die toilet spoel. Die Hippo-sak is vir R110 by Faithful to Nature beskikbaar.

5. ’n Waterbesparende stortkop

Wanneer jy wel stort, is dit belangrik om so min as moontlik water te gebruik. En dis waar die H2Flo-stortkop inkom. Dit maak elke stort omgewingsvriendelik deur waterverbruik te verminder sonder om waterdruk en -gehalte in te boet. Takealot verkoop hierdie produk teen R145.

FOTO: iStock/Eloku

LEES OOK:

10 goed wat jy moet weet oor die hergebruik van gryswater

6 maniere om in die kombuis water te bespaar

10 van die beste tuinplante wat min water vra

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 belangrike feite vir wanneer jy hare was

Want kennis is mag (en goed vir jou hare!)

Close