×
Skakel na Engels

5 voordele van ’n troeteldier

Dis waarvoor (vierpotige) vriende daar is!
troeteldier

Enige iemand met ’n sagte plek vir troeteldiere sal saamstem dat dié wollerige vriendjies nie regtig troeteldiere is – hulle is deel van die gesin. Ons versorg hulle, gee vir hulle liefde, bederf hulle. En soos enige troeteldier-eienaar sal bevestig, is die liefde wedersyds.

Navorsing het gewys dat jou vierpotige maatjie nie net floreer onder jou liefde nie, maar dat ’n troeteldier ook goed is vir jou geestes- en fisieke gesondheid. Hier is 5 voordele van ’n troeteldier in jou huis en lewe:

1. Troeteldiere help kinders om te ontwikkel

’n Wollerige maatjie sal jou kind fisiek, sosiaal en emosioneel help ontwikkel. Volgens ’n artikel in die Journal of Public Health het navorsing in Brittanje gewys dat kinders met ’n hond in die huis daagliks 11 minute meer oefen as hulle wat sonder ’n troeteldier grootword.

Die gesegde dat ’n hond die mens se beste vriend is, is klaarblyklik toe al die tyd waar, want troeteldiere help ook kinders beter sosialiseer met ander kinders. ” ’n Dier in die huis is ’n belangrike faktor in die fasilitering van sosiale interaksie en vriendskappe in woonbuurte,” skryf dr. Lisa Wood, assistent-professor aan die Universiteit van Wes-Australië, in onlangse navorsing wat deur Harvard Health Publications gepubliseer is.

Volgens die Britse Troeteldiergesondheidsraad help troeteldiere kinders ook om ’n beter selfbeeld te hê: “Kinders met ’n lae selfbeeld sal veel eerder hul hart teenoor diere oopmaak as teenoor mense.

Hulle het by diere dikwels ook meer selfvertroue wanneer dit by die uitvoer van take kom wat andersins vir hulle moeilik sou wees, aangesien die hond of kat nie omgee dat hulle ’n fout maak nie, en die kind nie voor die dier verleë sal voel nie.”

2. Diere se teenwoordigheid voorkom allergieë en gee immuniteit ’n hupstoot

Navorsing het gewys dat bloostelling aan honde vroeg in iemand se lewe hom of haar later teen asma en allergieë kan beskerm. “Vroeë blootstelling aan honde, en in ’n mindere mate aan katte, kan ’n mens teen allergiese sensitisering beskerm, soos wat epidemiologiese navorsing gewys het,” sê Suan Lynch, ’n assistent-professor in geneeskunde aan die Universiteit van Kalifornië-San Francisco in die VSA, in ’n onderhoud met die aanlyn tydskrif Live Science.

Lees: Vraelys: Watter troeteldier is vir jou bedoel?

3. Troeteldiere troos hul mensevriende

Dr. Jessica Vogelsang,’n veearts en skrywer van die boek All Dogs Go to Kevin: Everything three dogs taught me (that I didn’t learn in veterinary school) (Grand Central Publishing), vertel hoe haar honde haar deur emosioneel moeilike tye bygestaan het.

Sy verduidelik dat sy ná die geboorte van haar eerste kind met nageboortelike depressie geworstel het en ook onder druk was in ’n nuwe beroep as ’n veearts, en hoe haar golden retriever haar nie alleen wou laat totdat sy (mense)hulp gekry het nie. Sy vertel ook dat haar terminaal siek ma by haar kom woon het en dat haar hond se gedrag onmiddellik verander het. “Hy het geweet my ma is siek. Hy was 24 uur van die dag aan haar sy,” sê Vogelsang.

4. Hulle verlig stres

Om met diere te speel of aandag aan hulle te gee verhoog die vlakke van die stresverlagende hormoon oksitosien, én verlaag produksie van die streshormoon kortisol. Navorsing het ook bevind dat spel met diere jou fisieke gesondheid kan bevorder.

Die navorsing, gepubliseer in die joernaal Hypertension in Dallas in die VSA, het bevind dat troeteldier-eienaars se bloeddruk in tye van stres laer is as diegene sonder troeteldiere.

5. Diere moedig jou aan om buite te wees – en te beweeg!

Dis nie net die kleinspan wat litte roer wanneer hul dieremaatjie naby is nie. Navorsers aan die Universiteit van Mischigan in die VSA het bevind dat 60% van volwasse honde-eienaars wat gereeld met hul honde gaan stap, matige tot strawwe oefening in die proses doen.

Bykans die helfte van dié mense het gemiddeld 30 minute per dag geoefen vir minstens vyf dae ’n week. In vergelyking het slegs ’n derde van mense sonder honde soveel geoefen.

FOTO: iStock/Kosamtu

LEES OOK:

Slim koskeuses vir jou troeteldiere

Wat jou troeteldiere aanvang wanneer jy weg is

Plante wat vir diere giftig is

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
SA skooldogter se rooibostoets help diabetiese honde

Hierdie toets het uitsonderlike bevindings opgelewer

Close