×
Skakel na Engels

5 tekens dat jou werk jou gesondheid benadeel

Is jou werk besig om jou fisieke en geestelike gesondheid af te takel?
werk

Van ure op die snelweg tot baasspelerige werkgewers – ’n mate van werkstres is onvermydelik, maar om te weet hoe om dinge ’n bietjie makliker te maak, is die eerste stap na ’n gelukkiger, gesonder jy. Ons bestee immers meer tyd by die werk as op enige ander plek. Dis wat jy moet weet … 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

1. Jy werk permanent oortyd

Daar is vandag min beroepe waar jy die “voorreg” het om elke dag teen sluitingstyd huis toe te gaan. Die meeste van ons moet laat werk of vroeg ingaan om alles op ons doenlysie afgemerk te kry. Trouens, volgens ’n Britse verslag deur OnePulse is meer as twee-derdes van werknemers in Brittanje verplig om buiten hul gekontrakteerde ure ’n ekstra dag (8,73 uur) per week te werk. Verskeie studies het lig gewerp op die gesondheidsgevare wat konstante oortydwerk of onbillike kontrak-ure inhou. Om langer ure te werk kan die risiko vir hartsiektes, beroerte, depressie en selfs alkoholisme verhoog. Daar is ook bewyse dat dit produktiwiteit en kognitiewe prestasie verswak – presies die teenoorgestelde van wat jy probeer bereik.

Die meeste navorsing is geneig om 55 uur per week as norm voor te hou, maar dit is steeds gelyk aan 11 uur per dag – heel waarskynlik ’n goeie drie uur meer as wat werknemers kontraktueel verplig is. Die punt is, lang werkdae plaas baie spanning op jou liggaam en verstand, om nie te praat van die feit dat jy geen tyd het om aan enige iets anders te bestee nie.

Ben Barker, die direkteur van Total Health Clinics in Brittanje, maak die interessante opmerking dat oortydwerk nie ’n gewoonte is wat oral aangemoedig word nie: “Dit lei tot ’n swak postuur – iets wat dikwels gesien word by mense wat lang ure werk of te veel tyd voor hul lessenaar of op hul voete deurbring. Namate ons oorwerk en oormoeg raak, vind verkromming plaas omdat ons nie genoeg energie het om in dieselfde regop posisie te bly nie. Waar ons in hierdie land waarde heg aan mense wat meer as hul normale ure werk, gaan Europa, en spesifiek Duitsland, van die standpunt uit dat mense wat permanent laat werk en nooit hul lessenaar verlaat nie, ondoeltreffend is en hulle geniet nie dieselfde aansien nie!”

As jy vind dat jou kontrak-ure nie genoeg is om jou werk af te handel nie, stel ons voor dat jy met jou bestuurder praat oor wat gedoen kan word om die werklas te verminder of om enige tydrowende take na iemand anders te delegeer.

2. Jy staan nooit van jou lessenaar op nie

Ons almal weet dit is sleg om die hele dag te sit, maar ongelukkig vereis ons beroep dit soms van ons.

Langdurige sit word met ’n aansienlik hoër risiko vir hartsiektes, diabetes, vetsug, kanker en depressie, sowel as spier- en gewrigsprobleme geassosieer. Volgens ’n onlangse verslag deur die Britse regering was werkverwante spier-skelet-probleme verantwoordelik vir 40% van alle dae wat in 2014/’15 aan werkverwante siektes afgestaan is.

Volgens Barker: “Die algemene oorsaak van ’n swak postuur is nie kantoormeubels nie – ’n luukse verstelbare stoel sal nie jou probleme oplos tensy jy reg daarop sit nie.”

Hy stel voor: “Wanneer jy met jou knieë laer as jou heupe te sit, sal jou bekken effens vorentoe kantel en jou ruggraat sal outomaties verleng. Jou skouers, en dus die spiere wat hulle steun, kan in hierdie posisie ontspan. Jy sal ervaar dat jou moegheid, die stremming op jou oë, nek-/skouerspanning en hoofpyne afneem.”

Stel vas of jou maatskappy lessenaar-assesserings aanbied om vas te stel hoe jy die potensiële risiko’s van jou werkomgewing kan verminder. Dalk is ’n staanlessenaar die oplossing. Of dalk moet jy bloot gereeld opstaan en strek. Om met jou rug teen ’n hoek van 135 grade te sit, plaas oor die algemeen die minste druk op jou ruggraat – probeer dus om nie vorentoe te leun wanneer jy by jou lessenaar sit nie!

3. Jy kry nooit kans om te sit nie

Die ander uiterste is ’n werk wat vereis dat jy permanent op jou voete is, en dit bring ook verskeie probleme mee. Die helfte van die wêreld se werknemers bring 75% van hul dag staande deur. Verkoopsklerke, kroegmanne, mense in die voedselbedryf en selfs gesondheidsorgwerkers het selde ’n kans om te gaan sit en hul liggaam te laat rus.

Om konstant op jou voete te wees kan tot spatare, swak bloedsomloop, geswelde voete en bene, gewrigskade en selfs hart- en sirkulasieprobleme lei. Werke wat behels dat mense vir lang tye moet staan, is volgens die NHS een van die vernaamste oorsake van plantare fassiitis, die mees algemene oorsaak van hakpyn.

Soos Barker verduidelik: “Langdurige staan het ’n nadelige uitwerking op jou voete en laerug. Indien daar nie gedurende die dag ’n geleentheid is om te sit/rus nie, is goeie skoene noodsaaklik. Hoë hakke, werkstewels en rubberstewels is die grootste sondaars wanneer dit by pyn in die onderste ledemate kom. Probeer dit dus tot elke prys vermy.”

Gemaklike skoene wat jou voetbrug ondersteun, is ’n moet wanneer jy lang tye op jou voete is. Sorg ook dat jy gereeld tyd maak om te strek. Kompressiekouse kan ook help om swelling en pyn in jou bene te verminder.

4. Jy bestee baie tyd op die pad

Ongelukkig is dit ’n onvermydelike aspek van die meeste loopbane aangesien dit nie altyd moontlik is om naby die werk te bly nie. Om elke dag lang tye te reis kan jou algehele gesondheid knou.

Die Britse Office of National Statistics het bevind dat mense wat meer as ’n halfuur werk toe ry hoër vlakke van stres en angs ervaar as mense wat minder tyd op die pad deurbring of glad nie ry nie. Wanneer daar na spesifieke vervoerwyses gekyk word, word ’n halfuur lange busrit met die laagste vlakke van lewenstevredenheid en geluk geassosieer.

Om nader aan die huis te werk is vir die meeste mense nie ’n opsie nie. Die oplossing is dus om jou reistyd tot jou voordeel aanwend:

  • Soos ons reeds hier bo verduidelik het, is ’n langdurige sittery nié goed vir jou nie. Om jou motor dus vir ’n fiets of openbare vervoer te verruil sal jou onmiddellik meer beweeglik kry.
  • Neem ’n bottel saam met jou. Dit sal nie net keer dat jy dehidreer nie; dit sal ook maak dat jy nie peusel nie. Volgens ’n meningspeiling onder 1 500 pendelaars deur die RSPH het 33% gemeld dat hulle meer peusel en 29% het gesê dat hulle meer kitskos eet wanneer hulle langer reis.
  • Skenk aandag aan jou postuur, ongeag of jy sit of staan.
  • Waarom probeer jy nie aandagtigheid (“mindfulness”) of luister na ’n podsending nie?

5. Jy lê snags wakker en dink aan werk

Slaap het nie net ’n invloed op jou werk nie – jou werk kan ook ’n reuse-impak op jou slaap hê. Die meeste volwassenes benodig sewe tot agt uur slaap per nag, maar hoë stresvlakke kan in jou slaappatrone inmeng en ’n aftakelende uitwerking op jou fisieke en geestesgesondheid hê.

’n Gebrek aan slaap kan jou risiko vir vetsug, hartsiektes, infeksies en selfs kanker verhoog. Daar is ook bevind dat te min slaap jou meer impulsief, vergeetagtig en ongeluksvatbaar maak – beslis nie voordelig in die werkplek nie.

Om beter te slaap blyk een van die grootste gesondheidsvraagstukke onder Britte te wees. Navorsing toon dat Britse volwassenes vergeleke met 13 lande oor Europa, Noord-Amerika en Asië heen onder die swakste slapers tel. Om meer slaap in te kry is nou die tweede algemeenste gesondheidstrewe (naas gewigsverlies/verlaging van LMI), maar soos ons weet, is daar verskeie elemente wat tot swak slaap kan bydra.

Die Brit Maryanne Taylor, stigter van The Sleep Works, sê: “Stres lei dikwels tot onrustige slaap, wat beteken dat ons nie die herstellende, genesende diep slaapfase van ons slaapsiklus bereik nie. Om te lê en wroeg en oor werkprobleme te tob kan hoë vlakke van kortisol vrystel wat die produksie van ons natuurlike slaaphormoon, melatonien, inhibeer, en jou só uit die slaap hou.”

Dit is nie net jou slaap wat deur stres beïnvloed word nie; spanning kan jou spysverteringstelsel omverwerp, tot prikkelbaarheid lei, en ’n domino-effek op ander aspekte van jou lewe hê. Wat kan jy daaraan doen? Taylor het twee wenke wat werk:

  1. Skryf dit neer

“Skryf jou bekommernisse neer en maak ’n doenlysie vir die volgende dag. Navorsing toon dat om bekommernisse neer te skryf jou brein die kapasiteit gee om ‘te laat gaan’ in plaas daarvan om die gedagtes binne te hou.”

  1. Beheer jou gedagtes

“Dit is dikwels ons gedagtes wat stres veroorsaak. As jy dus weet waarop jy moet let, kan jy jou stresvlakke beheer. Om voor slaaptyd te ontspan is ’n noodsaaklike deel daarvan. Skakel jou rekenaar af, bêre jou foon en gee jouself ruimte sodat jou liggaam en gees van die dag se spanning en stres kan ontslae raak en jy makliker aan die slaap kan raak.”

Uit: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/diego_cervo

LEES OOK:

6 wenke om in ’n spanningsvolle tyd kalm te voel

 Hoekom e-pos die grootste bydraer tot stres is

Is jou werkstasie ’n pyn in die nek?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 nuttige wenke as jy nie kan slaap nie

Rustelose nagte behoort nie ’n gereelde deel van jou lewe te wees nie. Deur die Good Housekeeping-webspan

Close