×

“5 slim leefstylveranderinge wat ek gemaak het nadat diabetes by my gediagnoseer is”

Die joernalis en skrywer Bridget McNulty deel die wenke wat vir haar werk
bridget mcnulty

 

“Voordat tipe 1-diabetes 10 jaar gelede by my gediagnoseer is, het ek gedink ek lei ’n relatiewe gesonde lewe. Ek het nou wel soms ’n halwe staaf sjokolade geëet sonder dat ek dit besef het en ek het nie juis ’n oefenroetine gehad nie, maar ek was nogtans redelik gesond . . . of hoe? Vandag moet ek vyf keer per dag insulien inspuit en my bloedsuiker toets, maar ek voel tog dat diabetes my op verskeie maniere eintlik ’n gesonder mens gemaak het.”

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

1. Ek dink oor wat ek eet

“Die lewe is so gejaagd en ons aandag word gedurig afgetrek, en dit maak dat baie van ons ’n maaltyd verorber terwyl ons byvoorbeeld ons e-posse lees of navorsing doen. Die voordele daarvan om myself in te spuit voordat ek enige iets eet (as ek dit ’n voordeel kan noem!), is dat ek moet let op wat ek eet. Ek moet vir ’n oomblik stilstaan en dink oor die gereg wat ek gaan eet sodat ek die regte dosis kan inspuit. Dit gee my die nodige perspektief om te besef dat ek regtig maar ’n paar oomblikke vir myself kan neem om my kos te eet, en dat my liggaam my vir my aandagtigheid sal bedank.”

2. ’n Gebalanseerde dieet

“Hoewel ek voorheen gedink het ek volg ’n gebalanseerde dieet, het ek eintlik nie die vaagste benul gehad van hoe koolhidrate, proteïen, vrugte en groente met mekaar reageer en wat my liggaam nodig het om op sy beste te funksioneer nie. Ek weet nou dat ek nooit koolhidrate sonder ’n bietjie proteïen moet eet nie, en om slegs koolhidrate te eet wat lekker smaak en van hoë gehalte is. My ma sê altyd: ‘Hou matigheid voor oë.’ En dis al jare lank my lewens- (en dieet-) motto!”

3. Ek luister na my liggaam

“Ons leef in ’n luidrugtige wêreld, nie net weens die werklike geraas van ons daaglikse lewe nie, maar die ekstra geraas wat ons daartoe voeg – die gegons op sosiale media, die feit dat ons geduring vir vriende, familie en kollegas beskikbaar wil wees, en dat ons nooit ’n stil oomblik neem om ’n blaaskans van ons fone te neem nie. Dis geweldig baie ekstra geraas in ons kop. Diabetes het my gedwing om dinge rustiger te vat, en na my liggaam te luister. Om te besin oor hoe ek voel, en of ek my bloedsuiker moet toets, en hoe dit wat ek pas geëet het my laat voel. Stres is uiters sleg vir bloedsuiker (kortisol belemmer die uitwerking van insulien); dit is dus belangrik dat ek probeer om my stresvlakke laag te hou. Ek mediteer elke dag ’n bietjie (selfs al is dit net vir drie minute) en haal ’n paar keer diep asem wanneer ek ’n koppie tee drink. Net ’n oomblik van rus en vrede.”

4. Gereelde oefening

“Ons weet almal ons behoort daagliks kort sarsies oefening te doen, maar hoeveel van ons doen dit werklik? Veral wanneer jy boonop jong kinders het! Wat ek egter geleer het, is dat selfs 30 minute se stap of joga vir 20 minute ’n geweldige verskil maak. Daarom maak ek oefening elke dag ’n prioriteit. En gevolglik het ek al die voordele van gereelde oefening begin geniet: meer energie, ’n beter selfbeeld, hope endorfiene. Diabetes is ’n wonderlike herinnering aan die dinge wat ons almal daagliks behoort te doen.”

5. Selfsorg

“Ek was altyd puik met selfsorg. Toe kry ek twee kinders twee jaar nra mekaar en skielik het dit al hoe moeiliker geraak om myself eerste te stel. (Eintlik onmoontlik!) Maar daar is tye wanneer ek myself móét eerste stel. My kinders het al geleer dat wanneer ek sê ek moet myself gou inspuit of toets, dat hulle ’n bietjie moet wag. Maar dit strek verder as net die praktiese behoeftes van iemand wat diabetes het – dit gaan ook oor my versorging. Dis nie altyd moontlik nie, maar ek probeer om goed te wees vir myself … om genoeg te rus, genoeg water te drink, ’n blaaskans te neem en saam met vriendinne te kuier en te lag.  Selfsorg lyk vir ons elkeen anders, maar vir my gaan dit daaroor om dinge rusitiger te vat sodat ek die lewe kan geniet.”

 

“Saam met hierdie leefstylveranderinge het ek ’n behoefte ontwikkel om meer oor diabetes uit te vind, en daarom het ek die aanlyn gemeenskap en tydskrif Sweet Life gestig vir diegene met diabetes, asook vir hul vriende en families. Jy kan meer daaroor by www.sweetlifemag.co.za uitvind.”

 

LEES OOK:

8 maklike gesondheidswenke vir mense met tipe 2-diabetes

Nuwe hoop vir mense met tipe-2 diabetes

Diabetes: 12 goed wat jy moet weet

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die beste kopies vir ’n skoonheidslapie wat wérk

Hallo, droomland!

Close