×
Skakel na Engels

5 redes om nie meer plastiekstrooitjies te gebruik nie

Teen 2050 gaan daar waarskynlik meer plastiek as visse in die see wees! Só kan jy dit help voorkom … Deur Greta Alvarez
plastiekstrooitjies

1. Sommige materiale kan steeds giftig wees

Sommige plastiekstrooitjies word van materiale gemaak wat potensieel giftig of kankerwekkend is. En selfs al word strooitjies as “BFA-vry” aangedui, is daar steeds ’n moontlikheid dat dit dié chemikalie bevat.

2. Plastiek is nie bioafbreekbaar nie

Selfs al word baie weggooibare strooitjies van herwinbare materiale gemaak, kan dit moeilik wees om hulle te herwin. Volgens Strawless Ocean in die VSA weeg plastiekstrooitjies te min vir sorteermasjiene en val dit deur die sorteerskerms. Uiteindelik beland dit in opvullingsterreine. (En dis net as iemand in die eerste plek die moeite doen om dit in ’n herwinningsdrom te gooi.) 

Plastiek kan vir meer as 2 000 jaar in die omgewing voortbestaan aangesien (die meeste) plastiek nie bioafbreekbaar is nie. Die koeldrank waaraan jy vir 15 minute geteug het, gaan dus nog vir geslagte lank op aarde “voortbestaan”.

Trouens, daar is ’n groot kans dat elke strooitjie wat jy al in jou lewe gebruik het steeds iewers in die omgewing te vinde is. Dit bly ontbind totdat dit mikroskopies is. Om dit te verbrand, veroorsaak skadelike dioksienvrystellings wat nadelig vir jou gesondheid én die omgewing is.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

3. Strooitjies besoedel die oseaan

Strooitjies beland om verskillende redes dikwels in die see. Dit word onder andere op die strand vergeet, deur die wind uit asblikke gewaai of in stormdreine afgespoel. Studies toon dat daar teen 2050 per gewig meer plastiek as visse in die see gaan wees. Omdat dit so klein is, kan seediere stukkies plastiek met kos verwar en daaraan verstik.

4. Mense kan seerkry

Duisende mense beland jaarliks in die ongevalle-afdeling as gevolg van strooitjieverwante ongelukke. Ons praat van kneuswonde, skaafwonde, mondbeserings, oogbeserings … 

5. Strooitjies is ’n verkwisting

Die gemiddelde persoon sal deur die loop van 60 jaar 38 000 strooitjies gebruik. Wat beteken dat vyfhonderd miljoen strooitjies elke dag gebruik word. En dit is net in die VSA. Geen wonder ’n honderdduisend seediere en ’n miljoen voëls word elke jaar weens plastiekbesoedeling uitgewis nie.

Wat kan ons doen?

Jy kan ’n verskil maak deur eenvoudig te vra om nie ’n strooitjie saam met jou drankie te kry wanneer jy bestel nie. Dit voel dalk nie of jy die planeet op jou eie kan red nie, maar dis hierdie klein gewoontes wat bewustheid skep en jou invloed kan maklik versprei. Een klein gebaar kan ’n reuse-impak hê. Hopelik het jy nou genoeg feite om jou besluit te staaf.

En versprei die woord! As iemand opmerk dat jy nie ’n strooitjie gebruik nie, verduidelik waarom nie. Die meeste mense se lewensgehalte sal nie deur die afwesigheid van strooitjies beïnvloed word nie. Daar is natuurlik uitsonderings, en sommige mense kan nie sonder ’n strooitjie drink nie, maar dink net aan die impak wat die res van ons op die omgewing kan hê as ons dit ophou gebruik.

En as jy nie gereed is om heeltemal van strooitjies af te sien nie, is daar tonne opsies vir herbruikbare strooitjies. Bamboes, vlekvrye staal, papier, silikoon, behandelde glas, ensovoorts. Om op te som: As jy wil hê die toekoms moet ’n gesonder een wees, is dit vandag tyd om met weggooibare strooitjies weg te doen. En vertel jou vriende om dieselfde te doen.

Uit: Buzzfeed

FOTO: iStock/fotostorm

LEES OOK:

’n Nuwe, plastiekvrye supermark word in Kaapstad oopgemaak

5 wenke om PET-plastiek te herken en te herwin

5 plastiek-items wat ons nóú moet ophou gebruik

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die organiese skoonheidshandelsname wat jou sal oorreed om “groen” te gaan

Dié handelsname kry die groen lig!

Close