×
Skakel na Engels

5 redes hoekom jy binnenshuise plante móét hê

Om die natuur binne te nooi kan ’n salige toevlugsoord weg van die buitewêreld skep, en dis boonop goed vir jou gesondheid!
plante

 

Om die natuur binne te nooi kan ’n salige toevlugsoord weg van die buitewêreld skep, en dis boonop goed vir jou gesondheid! Hier is vyf voordele van potplante:

1. Dit suiwer die lug

Plante omskep koolstofdioksied in suurstof en ons het suurstof nodig om te lewe. En hoe skoner die lug is, hoe beter. Doen dus wat jy kan om die gehalte van die lug in jou huis so hoog as moontlik te maak. Nasa het navorsing gedoen oor die luggehalte in geslote ruimtes en het bevind dat plante die lug van gifstowwe, benseen, formaldehied en meer suiwer, en dat jy minstens een plant vir elke nege vierkante meter van jou huis of kantoor benodig.

2. Dit help om siektes te beveg

Plante het die vermoë om die vogvlakke in lug te verhoog en stof te verminder. Studies in Noorweë het getoon dat mense minder met seer kele en hoofpyne sukkel wanneer daar plante in hul kantoor of huis is. Studies het ook getoon dat om deur groenigheid omring te word ’n mens se geestesgesondheid kan verbeter. Volgens navorsing het pasiënte in hospitale wat ’n kamer met ’n tuinuitsig gekry het, ’n groter kans op herstel getoon as dié wat ’n kamer sonder ’n tuinuitsig gekry het. Die navorsers het vasgestel dat die teenwoordigheid van plante ’n gevoel van welstand help skep, wat mense gelukkiger en meer optimisties laat voel.

3. Dit kan stres verminder (en produktiwiteit verhoog)

Kry daardie sperdatums jou onder? Span ’n “groen” kollega in om die druk te help verminder! Studies toon dat om ’n potplant in jou werkruimte te hê, stres daadwerklik kan verminder. Navorsing aan die Uppsala-universiteit in Swede het ook getoon dat werkers wat deur groenigheid omring is, rekenaargebaseerde take tot 12 keer vinniger kon verrig as diegene wat geen potplante in hul werkplek gehad het nie.

4. Dit kan jou help om beter te slaap

Volgens ’n artikel deur dr. Luz Claudio wat in Environmental Health Perspectives gepubliseer is, kan plante wat ’n kalmerende uitwerking het, soos laventel, jasmyn en aloe vera, die gehalte van jou nagrus verbeter as jy een of meer van dié plante in jou slaapkamer hou. Die teenwoordigheid van hierdie plante kan ook jou hartkloptempo, bloeddruk en angsvlakke verlaag.

5. Dit sal jou huis ’n tuiste maak

Binneplante is ’n mode wat al eeue lank kom en gaan. Dink net aan antieke Griekeland en Egipte, die ontdekking van die Nuwe Wêreld (al daardie eksotiese plante wat na kweekhuise teruggebring is!) en tot en met die Victoriaanse era. Dis dalk glad nie so toevallig dat die kleurmaatskappy Pantone “Greenery” as 2017 se kleur van die jaar gekies het nie! Blaas dus nuwe lewe in jou leefruimte met ’n binnenshuise plant of twee vir ’n gesonde, kalmerende en vrolike huis.

Foto: iStock/IPGGutenbergUKLtd

LEES OOK:

Hoe om huisplante te laat FLOREER

Oplossings vir hoe om jou plante nat te hou terwyl jy met vakanie is

Professionele skoonmakers wys die plekke uit wat ons vergeet om skoon te maak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 maniere om jou serotonienvlakke te verhoog en gelukkiger te voel

Goeie nuus! Om sjokolade te eet is een daarvan. Deur Amy Capetta

Close