×
Skakel na Engels

5 wenke oor hoe om die perfekte foto van jou troeteldier te neem

Wonderlike raad oor hoe om jou vierpotige vriende af te neem
troeteldier

Hulle is deel van die gesin en daarom verdien hulle ’n plek in die gesinsalbum! Om hulle so ver te kry om stil te sit of te staan en na die kamera te kyk, is egter makliker gesê as gedaan! Maar hou moed. Met hierdie vyf praktiese wenke kan jy lieflike herinneringe van jou dieremaat skep.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Dink natuurlik

Dit geld vir die beligting sowel as die houding. Natuurlike lig is die beste aangesien ’n kameraflits ’n dier se aandag kan aftrek of selfs laat skrik, en in sommige gevalle kan ’n flits rooi pupille skep, nes by mense.

Wat jou troeteldier se houding betref, is dit ook ’n goeie idee om dit natuurlik te hou. Jou hond of kat is dalk deel van die gesin, maar hy bly ’n dier – en onvoorspelbaar. Om van jou troeteldier te verwag om formeel te poseer is onrealisties en jy sal die beste resultate kry as jy toelaat dat die fotosessie natuurlik ontwikkel.

2. Volg hulle

Gewoonlik is dit jou troeteldier wat agter jou aanloop, maar hierdie keer is jy die een op sleeptou. Volg jou troeteldier om seker te maak dat jy daardie perfekte oomblik verewig. Jy soek die oomblik wanneer hulle ’n by of ’n voël raaksien, ’n been begrawe of sommer net op die gras rondrol, verkieslik onbewus van jou teenwoordigheid.

3. Zoem in

Nabyskote waar al die onnodige goed weggesny is, en jy op jou troeteldier se gesig en pels fokus, lewer gewoonlik die beste resultate.


4. Ag, oukei, bring dan maar ’n mens in

Dit is eintlik een van die beste maniere om konteks te gee, volgens ’n artikel wat deur Darren Rowse geskryf en deur digital-photography-school.com gepubliseer is.’n Foto saam met die troeteldier se eienaar of gesinslede sal daardie spesiale herinnering verewig. Ook hier is dit gewoonlik die eerlike skote wat die oomblik volmaak vasvang en emosie verleen.


5. Wees geduldig/Probeer weer later

Jy gaan baie geduld nodig hê. Hoe meer ontspanne en kalm jy is, hoe meer ontspanne sal jou troeteldier (uiteindelik) wees. As jou sessie nie volgens plan verloop nie, stel ons voor dat jy jou kamera wegsit en net jou troeteldier geniet. En probeer dan weer later. Jou pogings sal op die ou einde vrugte afwerp!

FOTO: iStock/Antonio_Diaz

LEES OOK:

Slim koskeuses vir jou troeteldiere

4 maniere om jou hond se allergieë te verlig

5 voordele van ’n troeteldier

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 maniere om die perfekte eerste-skooldag-foto te neem

Probeer hierdie professionele wenke vir die perfekte foto

Close