×
Skakel na Engels

5 Paaseiersoektogte in die Kaap

Dis daardie tyd van die jaar! Hier is ’n paar Paaseiersoektogte in en om Kaapstad om die jongspan mee te vermaak
Paaseiersoektogte

Natuurlik is pekelvis en Paasbolletjies ook sininiem met Paasfees, maar op die ou end vat Paaseiers die koek … of die sjokolade. Die Paasnaweek is mos die perfekte verskoning om al die sjokolade te eet wat jou hart begeer!

Probeer jy soet wees? Hier is 5 maniere om dié Paasfees gesond te bly. (En ja, jy kan steeds sjokolade eet.) Ons volwassenes is natuurlik nie die enigstes wat na Paasfees uitsien nie. Hoekom bederf jy nie jou kinders met ’n prettige daguitstappie met een van hierdie feestelike Paaseiersoektogte nie?

1. Paasfees-pretdag

’n Plaaslike geldinsameling met hope verrassings en vermaak vir die jongspan. Kinders kan aan die Paaseiersoektog deelneem, hul gesig laat verf, deur ’n towenaar vermaak word, Paasfees-kunsvlyt maak en selfs op ’n brandweerwa ry. Bring ’n geldjie vir ontbyt, koffie en snoepgoed. Daar sal twee Paaseiersoektogte wees – een om 10:00 (wat ongelukkig reeds aanlyn uitverkoop is) en een om 11:30. Jy kan deur Webtickets of by Pick n Pay bespreek.

WANNEER: 2 April 2017 | 09:30 – 12:30

WAAR: De Waalpark, Die Tuine

KOSTE: Kinders R50 | Gratis vir ouers 

2. All Things Yummy & Easter Bunny-skou

Die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) bied die All Things Yummy & Easter Bunny-skou kort voor Paasnaweek aan. Daar gaan Paaseiersoektogte wees – onthou dus om ’n mandjie te bring –  asook verskeie oulike Paasfeeskarakters om die kinders te vermaak. En natuurlik gaan daar ’n verskeidenheid sjokolades, koeke en lekkergoed vir al die suikertande wees! Jy kan by Computicket bespreek.

WANNEER: 8 en 9 April 2017 | 09:00 – 17:00

WAAR: Kiks 1, Laer-Langstraat

KOSTE: Kinders R35 | Volwassenes R65 

3. Paaseiersoektog by Leipzig

Is jy lus om ’n bietjie uit die stad te kom? Ry na die Nuyvallei vir ’n ontspanne en prettige dag by die Leipzig Country House & Winery naby Worcester. Kinders kan uitsien na speelruimtes, interaksie met skilpaaie, trekkerritte en meer, terwyl grootmense ’n spesiale Paasfees-kos-en-wyn-paring kan geniet. Stuur ’n e-pos na winery@leipzigcountryhouse.co.za om te bespreek of bel 023 347 8422.

WANNEER: 15 en 22 April 2017 | 10:00 – 16:00

WAAR: Leipzig Country House, Worcester

KOSTE: Trekkerritte R10 | Paaseiersoektog R10 | Kos-en-wyn-paring R80

4. Paaspret ten bate van mopshondjies

Bring jou mopshondjie en jou goedgemanierde klein of mediumgrootte hond saam vir ’n prettige dag om geld vir dierebeskerming in te samel. Laat oulike foto’s van jou en jou mopshondjie neem, laat jou kinders aan die Paaseiersoektog deelneem, en neem self aan die gelukstrekking deel om fantastiese pryse te kan wen. Moenie vergeet om vir jou mopshondjie ’n kostuum aan te trek nie! Daar sal heerlike kos en drinkgoed, asook produkte te koop wees.

WANNEER: 9 April 2017 | 10:00 – 14:00

WAAR: False Bay Rendezvous, Promenadeweg 75, Muizenberg

KOSTE: Kinders R10 | Volwassenes R20 | Honde R5 

5. Paaseiersoektog by Bugz Playpark

Bugz Playpark in Kraaifontein is enige kind se droom – daar is alles van sandputte tot swaaie, klimrame, glyplanke, boomhuise en meer! Hulle bied ook verskeie ritte op alles van mini-trekkertjies tot perde en selfs ’n kamma-stoomtrein. Op Paasmaandag (17 April 2017) sal hul gewone toegangstarief ook ’n heerlike Paaseiersoektog insluit.

WANNEER: 17 April 2017 | 11:00 – 13:00

WAAR: Bugz Playpark, Tarentaalweg 65, Joostenberg

KOSTE (gewone toegangstarief, wat die Paaseiersoektog insluit): Kinders R60 | Volwassenes R50

FOTO: iStock/noblige

Lees ook:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 idees vir ’n Paasfees-noenontbyt

Soek jy na ’n paar idees vir ’n noenontbyt vir Paassondag? Ons het ’n paar liplek-lekker-opsies vir jou!

Close