×
Skakel na Engels

5 maniere om jou kind sover te kry om sy kamer op te ruim

Ja, dit ís moontlik!
kind kamer opruim

Dit voel dalk na ’n verlore stryd, maar dis nié onmoontlik om jou kind sover te kry om sy kamer aan die kant te maak nie! Lees hier wat jy kan doen:

1. Laat hulle hul eie stempel afdruk

Gee hulle die vryheid, al is dit beperk, om self te besluit hoe hul kamer gaan lyk en waar hul goed gaan kom. Om hulle eienaarskap oor die ruimte te gee sal hulle aanmoedig om dit netjies te hou sonder dat jy dit heeltyd hoef te sê.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

2. Help hulle – aan die begin!

Dit geld veral jonger kinders. Dit is belangrik dat jy duidelik is oor wat jy verwag. Help hulle byvoorbeeld om te besluit watter van die klere wat op die vloer lê, in die wasgoedmandjie moet kom en watter weer in die kas moet kom. Gebruik hierdie tyd sommer ook om moeite met jou kind te doen – vra haar uit oor wat in haar lewe aangaan.

3. Maak dit hanteerbaar

Almal voel soms oorweldig wanneer hulle voor ’n groot taak te staan kom; dink net hoe voel jou kleinding wanneer sy haar in ’n kamer bevind wat lyk asof ’n tornado dit getref het  – terwyl daar soveel ander interessanter dinge is om te doen. Deur die kamer in segmente te verdeel, kan jy haar help om op klein, individuele takies te fokus wat hanteerbaar is. Maak ’n doenlysie:

  • Maak jou bed op
  • Bêre jou speelgoed
  • Sorteer jou klere uit – moet hulle wasgoedmandjie of kas toe gaan?
  • Stofsuig die vloer
  • En siedaar! Jy’s klaar!

4. Moedig hulle met belonings aan

Byvoorbeeld: “Sodra jy die klere uitgesorteer het wat in die wasgoedmandjie moet kom en dié wat kas toe moet gaan – en wanneer alles is waar dit hoort – kan jy op die rekenaar speel.” Belonings sal jou kind help om mettertyd die gewenste gedrag te ontwikkel en uiteindelik gaan dit dalk nie eens meer nodig wees om hulle met ’n wortel voor die neus te probeer oortuig nie!

5. Stel ’n voorbeeld

Kinders reageer makliker op dit wat hulle volwassenes sien doen as op wat hulle sê. As jy trots is op jou huis en dit wys, sal hulle tien teen een jou voorbeeld volg. As jy gereeld opruim en ’n positiewe gesindheid teenoor daaglikse take het, sal hulle jou waarskynlik nadoen.

Foto: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

Maak jou woonstel of huis in ’n uur of minder skoon

9 maniere hoe om ’n super-georganiseerde ma te wees

Hoe om jou kinders se slegte gedrag in ’n week te verander

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die kinderkamer – Beheer die chaos

Kinders se kamers kan ’n mynveld wees met al die speelgoed wat rondgestrooi lê. Ma’s het hul geheime met ons...

Close