×
Skakel na Engels

5 hotelle in Suid-Afrika wat spook

Of jy aan spoke glo of nie, dié geskiedenisryke (maar gerieflike) hotelle is ideaal vir ’n interessante naweek weg. Deur Glynis Horning

1. Karoo: Lord Milner-hotel

WAAR:

By Matjiesfontein op die N1 tussen Touwsrivier en Laingsburg, 250 km van Kaapstad af.

WAT:

Dié statige erfenisgebou op die rand van die Groot-Karoo is in 1899, die jaar wat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, deur die Skot James Logan gebou en na Lord Alfred Milner genoem wat die goewerneur van die Kaap was. Dit het as hoofkwartier van die Kaapse troepe gedien, asook ’n militêre hospitaal, die oorsprong van baie van die hotel se legendariese spoke.

Vandag is daar 49 gastekamers – party is in die tuin (een het sy eie swembad) en ander in die hotel – wat sorgsaam opgeknap is om die Victoriaanse gevoel te behou. Die vloerplanke kraak nog, in die hoofsitkamer staan ’n harp en ’n 100 jaar oue klavier, en die helderrooi trap lyk soos iets uit The Shining.

Die elegante eetkamer is waar jy ontbyt en aandete van ’n à la carte-spyskaart kan geniet – die beroemde Karoo-lamstjops is ’n moet! Die Laird’s Armskroeg berei ook geregte in eg Engelse styl.

DIE SPOOKSTORIE:

Benewens die geluide van soldate wat die trappe klim, luister ook of jy vir Kate kan hoor, ’n verpleegster wat saam met haar pasiënte kaart gespeel het totdat sy op 19 raaiselagtig dood is. Jy kan glo hoor hoe sy haar kaarte skommel in wat vandag as Kate se kaartkamer bekendstaan.

Kyk ook uit na die snorman Logan, die stigter van die dorp en ’n lid van die Magic Circle wat glo gereeld in die agterste sitkamers ronddwaal, asook Lucy, ’n oorlede gas wat die gange in ’n vaal nagrok bewandel. Daar is selfs mense wat beweer hulle het die spook van Olive Schreiner gesien, die skrywer van The Story of an African Farm wat jare lank ’n kothuis naby die hotel gehuur het.

INLIGTING:

Bel 023 561 3011 of besoek www.matjiesfontein.com.

2. KwaZulu-Natal: Nottingham Road-hotel

WAAR:

Nottingham Road Village, KwaZulu-Natalse Middelland, sowat drie uur se ry van Durban af en vier uur van Johannesburg af.

WAT:

Notties, soos plaaslike inwoners na dié spookagtige hotel en sy beroemde kroeg verwys, dateer uit 1854 toe ’n herberg gebou is vir soldate wat in die nabygeleë Fort Nottingham gestasioneer was om boere teen Boesmanveediewe te beskerm. Nadat die treinspoor gelê is, is die huidige statige dubbelverdiepinggebou in 1891 as die Railway-hotel opgerig.

Vandag het dit 14 en suitekamers en 10 tuinsuites met patio’s, almal met DStv, tee-en-koffiegeriewe en verwarmers. Die eetkamer het ’n à la carte-spyskaart met spoggerige plattelandse kos, maar maak seker jy geniet ook ’n bord tradisionele kroegkos by die kaggel in die legendariese Notties Pub, veral op Vrydagaande wanneer boere uit die omgewing hier kom kuier.

DIE SPOOKSTORIE:

Op mistige aande kan jy jou maklik verbeel jy sien die spoke van soldate wat die terrein patrolleer of hoor die klikklak van Christopher Groom se perd. Dié boer het hom in ’n storm na die hotel gehaas toe weerlig sy perd naby die hotel se tennisbane doodgeslaan en ’n gat in die saal gelaat het.

Groom was bewusteloos, maar ongedeerd. Notties se gunstelingspook is egter Charlotte, wat glo in die kamers, veral nommer 10, ronddwaal, blompotte skuif, beddegoed regtrek en klere regpak. Sy was blykbaar ’n vrou van losse sedes of ’n kamerbediende wat van kamer 10 se balkon na haar dood gespring het toe ’n minaar haar verwerp het. Sommige sê sy is gestamp …

INLIGTING:

Bel 033 266 6151 of besoek www.nottieshotel.co.za.

3. Gauteng: Foxwood-huis

WAAR:

5de Straat 13, Houghton, Johannesburg.

WAT:

Dit was een van die eerste huise in dié spogbuurt en is in 1924 in ’n 2,5-hektaar-tuin gebou. Die imposante voorkant, wat met klimop begroei is, en balkon is net ’n voorsmakie van die weelderige interieur met sy houtvloere, klipmure en ou familiemeubels.

Vandag is Foxwood ’n boetiekhotel met elke gerief denkbaar, van kroegyskaste tot gratis wifi, maar dit bly ’n toevlugsoord van ouwêreldse sjarme waar jy aan die geskarrel van die stad kan ontvlug en jou verbeelding vrye teuels kan gee. Eet in styl in die à la carte-restaurant of versoek ’n private tafel in die tuin.

Jy kan dalk selfs ’n verhoogopvoering of musiekvertoning in die intieme Foxwood-huisteater tydens jou besoek bywoon. Dan is dit tyd om kamer toe te gaan, die DStv af te skakel, en te luister …

DIE SPOOKSTORIE:

Gaste het al vertel van vreemde voetstappe en deure wat kraak, en party beweer hulle het ’n spookagtige vrou en haar jong kind gesien. Sommige sê hulle het die figuur van Paul Kruger gesien, wat dalk geïnspireer is deur ’n besoek aan die SA Nasionale Museum van Militêre Geskiedenis 15 minute se stap daarvandaan.

“Daar is geen onheilspellende teenwoordigheid nie. Trouens, dit voel eerder goedaardig en gerustellend,” sê die mede-eienaar Pieter de Vos.

INLIGTING:

Bel 011 486 0935 of besoek www.foxwood.co.za.

4. Wes-Kaap: Hotel Glencairn

WAAR:

Glenweg 12 tot 14, Glencairn, sowat 5 km noord van Simonstad.

WAT:

Die hotel is in 1904 deur die argitek John Parker gebou. Die eerste gaste was ene George Scott, sy vrou, Renée, en hul seun, David, wat dit glo as hul huis gebruik het. Ná mev. Scott en haar seun se raaiselagtige dood het nuwe eienaars die hotel oorgeneem. Dis in ’n retrostyl gerestoureer om die hoë plafonne en houtvloere te beklemtoon.

Sewe en suite-kamers fokus op elemente van die Suid-Afrikaanse kultuur en geskiedenis. Die à la carte-restaurant en Stoep and Swingkroeg is gewild onder plaaslike inwoners vir seisoenale kos, drankie-aanbiedings, musiek, vasvra-aande, bierfeeste, gemeenskapsmarkte en outydse platepartytjies. Die beste van alles is die vriendelike personeel wat jou van al die spookstories sal vertel.

DIE SPOOKSTORIE:

Glencairn word al lank as een van die spookagtigste plekke in die suidelike Skiereiland beskou. Mense het al baie onverklaarbare dinge hier gesien en teëgekom, en paranormale navorsers het verlede jaar video-opnames in die hotel gemaak. Hulle sê Renée en David het op die hotel se trappe omgekom. Daar was al gerugte van ’n donkerkopvrou in ’n wit kamerjas wat in verskeie van die hotelkamers se spieëls verskyn, en van ’n seuntjie van sowat vyf jaar oud wat verby die warmrak in die kombuis hardloop. Hy bak glo poetse deur goed rond te skuif en glase te breek. Daar is blykbaar nog drie ander spoke in die hotel.

INLIGTING:

Bel 021 782 0314 of besoek www.hotelglencairn.co.za.

5. Noord-Kaap: Die Kimberley Club en Boetiekhotel

WAAR:

Du Toitspanweg 72, Kimberley.

WAT:

Die eksklusiewe Kimberley Club is in 1881 deur Cecil John Rhodes gestig nadat hy De Beers Consolidated Mines op die jong ouderdom van 28 begin het. Soos een besoeker destyds gesê het: “Die plek het meer miljoenêrs per vierkante meter as enige ander plek ter wêreld gehad.”

Oor die jare was daar baie bekende besoekers, soos koning George VI en koningin Elizabeth, wat haar diamantring in die badkamer vergeet het! In 2004 is die Club vir die publiek oopgestel en vandag is dit ’n viersterhotel met 17 en suitekamers en luukse suites met ’n kombinasie van die Club se oorspronklike meubels en moderne meublement.

Die Rhodes Grill-restaurant is bekend vir sy fynproewerkos en -wyne, terwyl Café Vitello meer informele geregte voor op die veranda voorsit – maar oppas vir die vuurballe!

DIE SPOOKSTORIE:

Daar word beweer dié ou myndorpie het sowat 150 spookhuise en meer spoke as op enige ander plek in Suid-Afrika. Hulle wissel van die gees van die eerste bibliotekaris in die geskiedkundige Afrikana-biblioteek wat arseen gedrink het tot die skim van ’n Skot wat ’n doedelsak op die nabygeleë Magersfontein-slagveld speel as die maan helder skyn.

Die Club self het glo ’n spookagtige kelner wat in die eetkamer ronddwaal, ’n ou man wat in die boonste gange spook, en ’n vrou in ’n Victoriaanse rok wat op die houttrap onder ’n brandskilderglasvenster staan. Gaste het ook al vertel van ligte in die ou De Beers-raadsaal wat onverklaarbaar swaai, ’n spookhond wat op die veranda tjank en balle vuur wat uit die veranda se plafon val.

INLIGTING:

Bel 053 832 4224 of besoek www.kimberleyclub.co.za. Jy kan ook ’n spooktoer by 083 732 3189 bespreek.

Nog spoke:  Daar’s ander waarvan jy ook moet weet

Goewerneur Pieter van Noodt

Die spook van Goewerneur Pieter van Noodt loop glo by die Kasteel in Kaapstad. Hy is blykbaar in 1681 aan ’n hartaanval dood nadat hy vervloek is deur ’n man wat hy die doodstraf opgelê het.

“Daddy” West

“Daddy” West was ’n vuurtoringbewaarder wat nou glo in die Groenpuntvuurtoring spook.

Die spookskip van die Vliëende Hollander

Die spookskip van die Vliëende Hollander kan glo op stormagtige dae en nagte van Kaappunt af gewaar word.

Frederick Eksteen

Die spook van Frederick Eksteen is nog een. Dié seun van die eienaar van die Tokai-herehuis is in die 1880’s dood toe hy sy pa se weddenskap aanvaar het om met sy perd by die trap op en by die eetkamer in te ry. Toe die klok om middernag lui, het die perd geskrik en by die trap afgeval. Frederick het in die proses sy nek gebreek.

Uniondale

Dan is daar die spook van Uniondale. Daar is mense wat beweer hulle het haar in die Klein-Karoo opgelaai en dat sy iewers langs die pad spoorloos verdwyn het. Hulle sê sy is die spook van Marie Roux wat in April 1968 in ’n ongeluk op die N9 dood is toe sy en haar geliefde op pad was om haar ouers van hul verlowing te vertel.

Highway Sheila

Highway Sheila is na bewering die spook van ’n meisie wat in ’n motorongeluk op die Higginson-hoofweg in Durban omgekom het. Sy dwaal glo steeds daar rond en veroorsaak ongelukke.

Die sewe spoke van die Mountain Park-hotel

Die sewe spoke van die Mountain Park-hotel woon glo in dié Tudor-stylherehuis in Bulwer, KwaZulu-Natal. Onder hulle is ’n kinderoppasser, Ruth, die sewejarige Mathilda en ’n hond genaamd Wisp.

FOTO: iStock/

LEES OOK:

Tien maniere om rugpyn te keer wanneer jy reis

Vliegtuigetiket 101

5 grootste redes waarom padongelukke in SA plaasvind

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Soetgoed-inspirasie vir jou Halloween-tafel

As jy Halloween vier, gaan jy dol wees oor hierdie "spookagtige" lekkernye!

Close