×
Skakel na Engels

5 grootste redes waarom padongelukke in SA plaasvind

Padongelukke neem al hoe meer toe
padongelukke

Gedurende Paasfees hierdie jaar het padsterftes met 51% toegeneem. Van die noodlottigste ongelukke wat aangeteken is, het in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal plaasgevind. In Natal alleen was daar ’n toename van 111% sterftes wat met spoedoortredings, veiligheidsgordels, oorlaaide voertuie en alkohol verband gehou het. In die Noord-Kaap is ’n ontstellende 175%-styging aangeteken.

Ishmael Mnisi, woordvoerder van die Departement van Vervoer, sê dat passasiers die grootste persentasie sterftes in hierdie ongelukke uitgemaak het. Dit is waarskynlik weens die busstakings wat passasiers genoop het om alternatiewe vervoer te soek sowel as die hoë minibusongeluk-syfer.

Die meeste van hierdie ongelukke het tussen middernag en 05:00 in residensiële gebiede plaasgevind. Die afgelope naweek was daar sewe sterftes op Wes-Kaapse paaie, en ’n Audi wat in Rivoniaweg in Sandton weggejaag en ’n padteken getref het. Die lys is eindeloos.

Of ons nou werk toe ry, huis toe ry of die televisie aanskakel, daar is amper altyd iewers ’n verwronge hoop metaal wat slegs vaagweg aan iemand se motor herinner. Waarom bestuur ons só en wat veroorsaak hierdie afgryslike ongelukke?

1. Afleiding

Die meeste ongelukke kan aan een enkele oorsaak toegeskryf word: die mens. Of jy nou besig is om jou Big Mac te eet of om jou oorfone te probeer ontknoop, afgetrokke motorbestuur is die vernaamste oorsaak van menslike foute op die pad.

Die grootste sondaar? Bestuurders wat hul fone gebruik. Selfoongebruik tydens bestuur word as die grootste oorsaak van padongelukke in Suid-Afrika beskou en is verantwoordelik vir tot ’n kwart van ongelukke. Daar is verskeie redes waarom dit gevaarlik is om jou selfoon te gebruik wanneer jy bestuur, of dit nou vir teksboodskappe, gesels of GPS-gebruik is.

Volgens ’n padveiligheidsverslag deur die International Transport Forum erken 75% van motoriste dat hulle hul selfone gebruik terwyl hulle bestuur.

Kom ons sê jy is vir 60 sekondes besig met jou foon. As jy teen 60 km/h bestuur, is dit asof jy vir ’n kilometer heeltemal “blind” bestuur. Dit maak jou, die bestuurder, se risiko om in ’n ongeluk betrokke te wees vier maal hoër. Bestee net ’n rukkie op die N1-snelweg en jy sal sien – mense ry heelwat vinniger as dit, en die meeste van hulle kyk nie eens op nie.

Lees: 10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

2. Drank

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se webwerf mag jou bloed se alkoholinhoud nie meer as 0,05% wees nie. Vir baie mense beteken dit dat een bier genoeg is om jou die limiet te laat oorskry. Vir persone met ’n buitensporige hoë toleransie vir alkohol, soos diegene wat in die Wes-Rand woon, berus dit op ’n aantal faktore.

Eerstens het Suid-Afrikaners ’n verkeerde houding teenoor dronkbestuur. Ons meet ons vermoë om onder die invloed te bestuur op grond van hoeveel ons gedrink het, wat ons gedrink het en ons veronderstelde toleransievlakke. Eintlik behoort ons te sê: Een drankie is een te veel.

Alkohol tas immers ons bestuurvermoë aan. Ons is meer ontspanne en dus geneig om vaak te raak en in te sluimer. Alkohol belemmer oogspierbeweging en visuele persepsie. Ons reflekse is stadiger, wat beteken dat ons reaksietyd minder is. Swak oog-, hand- en voetkoördinasie volg. Dit verswak ons posisioneringsvermoë en die vermoë om rasionele besluite te neem.

3. Spoed

“Drive like lightning, crash like thunder” lui die liedjie. Dis van kleins af by ons ingeprent. Spoed maak dood. Dit klink dalk soos ’n cliché, maar om te vinnig te ry is en sal altyd een van die grootste oorsake van padongelukke wees.

Die idee van ’n spoedbeperking is heel eenvoudig. Spoed verminder die beskikbare tyd om tot stilstand te kom of ’n botsing te vermy, en verleng die afstand wat jou voertuig beweeg terwyl jy reageer. Die kans dat jy ’n hoëspoedbotsing kan vermy, raak al hoe kleiner. Belangriker nog, spoed verhoog die erns van ’n botsing wanneer dit wel plaasvind.

Lees: Die item wat jy moet hê wanneer jou kinders saam met jou ry

4. Roekelose bestuur

Bestuurders wat te vinnig ry, te vinnig van baan verwissel (gapings steel) of te naby aan die voertuig voor hulle ry, veroorsaak ’n kommerwekkende hoeveelheid noodlottige motorongelukke. Jy ken hierdie mense – die ongeduldige, aggressiewe tipe. Op die snelweg sit hulle heelpad op jou buffer terwyl hulle ligte flits en tekens wys.

Dis nie asof daar ’n noodgeval is nie – dis bloot dat hulle met hulle ego’s bestuur. Hulle kyk nie voordat hulle oor rooi ligte en stoptekens jaag nie, en dikwels is dit ’n dierbare tannie se motor wat in die middel van die kruising in die slag bly. Hulle verwissel van baan sonder om in hul blinde kolle te kyk of hul flikkerligte te gebruik. Sommiges besluit eiesinnig om ander voertuie op ’n blinde hoogte of teen die aankomende verkeer verby te steek.

Rooi beteken stop, en jy behoort altyd links en regs te kyk voordat jy ’n kruising oorsteek. Nog ’n probleem is onervare bestuurders soos tieners. Die ou mense het tereg gesê: Dis een ding om te let op wat jý doen. Dis die ander mense waaroor jy jou moet bekommer.

5. Voetgangers

Alhoewel slegte weer, gladde paaie en sterk winde beslis gevaar inhou, word die vyfde plek deur voetgangers ingeneem. Verlede jaar was 5 410 van die 14 071 sterfgevalle voetgangers, in vergelyking met die 3 601 bestuurders en 4 608 passasiers.

Voetgangers waag dikwels kanse, en ’n mens sien gereeld hoe een oor ’n besige straat hardloop. Boonop doen hulle selde moeite om hulself sigbaarder te maak, veral saans. Dit is die twee vernaamste faktore wanneer dit by voetgangersterftes kom.

Verkeersboetes is meestal op motoriste as verantwoordelike partye gerig, maar voetgangers behoort meer aanspreeklik gehou word. ’n Pad is ’n gevaarlike plek, en elke keer wat jy jou daarop begewe, loop jy ’n risiko. Links, regs en weer links het in onbruik verval.

Fietsryers het natuurlike hul eie kategorie. In 2016 is 451 fietsryersterftes gerapporteer.

Lees:  Die 10 bekostigbaarste motors in SA

Hoe om ongelukke te vermy

1. Wees eerder proaktief as reaktief.

2. Inspekteer jou voertuig vir probleme voordat jy die huis verlaat.

3. Vergeet van Facebook terwyl jy bestuur.

4. Stel jou GPS-roete in voordat jy ry.

5. Fokus op wat jy doen.

6. Fokus op wat ander bestuurders doen.

7. Wees hoflik en toon respek.

8. Moenie drink of dwelms gebruik voor of terwyl jy bestuur nie.

9. Dra jou veiligheidsgordel.

10. Hou by die spoedbeperkings.

11. Handhaaf ’n veilige volgafstand – minstens een motorlengte.

12. Wees bewus van jou omgewing.

13. Gebruik jou flikkerligte.

14. Kyk in jou blinde kolle.

15. Kyk voordat jy die pad oorsteek.

Van: WOW

FOTO: iStock/Berezko

LEES OOK:

Tien maniere om rugpyn te keer wanneer jy reis

Noodnommers wat jy nodig het wanneer jy op die N2 ry

Kies só die beste gesinsmotor

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wat om te doen wanneer jy padwoede het

Dis soos ’n bom wat stadig tik ... en tik ...

Close