×
Skakel na Engels

5 goue reëls vir ’n ordelike klerekas

Maak die warboel in jou klerekas dit moeilik om klere te kry waarna jy soek? Lees hiér hoe jy dit vinnig kan regruk! Deur Sophie Hines
klerekas

Verbeel jou ’n klerekas wat netjies en ordelik is, waar alles ’n plek het en jy nooit met jou hele liggaamsgewig teen ’n berg klere moet leun om ’n ekstra hanger ingepas te kry nie.

Glo dit of nie, daar ís mense wie se klerekaste só lyk – en dit maak dit nie net makliker om goed te bêre nie, maar dit beteken ook minder stres wanneer jy soggens moet besluit wat om aan te trek. (Ekstra tyd in die bed? Ja, asseblief!)

1. Maak jou klere sigbaar

Hoe gereeld ontdek jy ’n item in jou klerekas waarvan jy heeltemal vergeet het? Die antwoord is waarskynlik heeltemal te gereeld; ons klere is so diep in laaie en kaste ingedruk dat ons baie daarvan nie eens raaksien nie.

Die enigste oplossing (buiten om ’n groter huis te koop) is ongelukkig om van soveel moontlik klere ontslae te raak sodat jou oorblywende kledingstukke sigbaar kan wees (en dus gedra in plaas van vergeet word).

’n Uitstekende wenk hiervoor is om deur al jou klere te gaan en slegs items te hou wat jy regtig nodig het (bv. jou swart toppie) of waarvoor jy regtig lief is (en daarmee bedoel ons lief, nie vaagweg aangetrokke nie). Raak ook ontslae van enige iets wat “moeilik” is om te dra omdat dit byvoorbeeld elke vyf minute gestryk moet word of ’n spesifieke soort onderklere vereis wat jy nie eens in jou kas het nie.

Laastens: Kyk of daar enige iets is waarvan jy ’n hele paar het, en skaal af. As jy byvoorbeeld ses “praktiese” wit T-hemde het, kan jy dié uitgooi wat al gryserig of uitgewas is.

2. Besluit waaroor jy regtig sentimenteel is

Een verskoning wat gereeld ingespan word wanneer ons besittings opgaar, is sentimentele waarde. Of dit nou die rok is wat jy op jou eerste afspraak met jou man gedra het, of ’n toppie wat jy met daai vakansie saam met jou vriendinne assosieer, daar is baie items wat lank nadat jy hulle ophou dra het, steeds in jou kas rondhang.

Hoewel dit heeltemal te verstane is dat daar een of twee items is waarvan jy nooit sal wil afsien nie, is dit belangrik om die woord “sentimenteel” as verskoning te vermy.

Van daardie kledingstukke kan dalk beter benut word. Sal Ouma se ou jas in jou kas wil lê en stof opgaar of eerder deur ʼn stylvolle student by ʼn tweedehandswinkel opgeraap word en opnuut die lewenslig aanskou? Onthou, dit verskaf net soveel vreugde om ou klere nuwe lewe te gee as om dit vir die nageslag te bewaar.

3. Kry ’n vakansietrommel

Realisties gesproke is daar nie tonne geleenthede waarheen ’n mens sonrokke, kaftans en sandale dra nie. Dit maak dus nie sin dat hierdie kledingstukke ’n aansienlike gedeelte van jou klerekas in beslag neem nie. Gebruik eerder ’n trommel vir items soos bikini’s, sonhoede en vloeiende sonrokke wat jy slegs vakansies dra.

Maak seker dat dit duidelik gemerk is en bêre dit op ’n hoë rak sodat dit nie kosbare kasruimte in beslag neem nie. Boonop sal jy elke keer ’n gevoel van opwinding ervaar wanneer jy jou trommel uithaal om vir jou vakansie in te pak.

4. Bêre klere vir spesiale geleenthede apart

Net soos met vakansieklere, kan klere vir spesiale geleenthede apart gebêre word – ’n balrok het immers baie meer plek nodig, en word waarskynlik hoogstens een maal ’n jaar gedra.

Bêre spesiale items versigtig en gebruik suurvrye sneespapier om kledingstukke in ’n perfekte toestand te hou. Maak seker dat die houer duidelik gemerk is sodat jy presies weet wat daarin is voordat jy dit op ’n hoë rak of bo-op jou klerekas stoor.

5. Beskerm jou klere

Een van die vreugdes van ’n ordelike klerekas is dat jy jou klere behoorlik kan versorg en beskerm. Wanneer jy klaar uitgegooi het, stel ons voor dat jy eers die hele binnekant van jou kas of al jou laaie met verkieslik natuurlike middels skoonmaak.

Gebruik een of ander vorm van beskerming teen motte – klein sakkies motwerende kruie is ’n goeie opsie vir hangkaste. Vermy draadhangers – dit sal jou klere hul vorm laat verloor – en koop smaller hangers wat nie te veel plek opneem nie (houthangers is soms baie bonkig).

Laastens moet jy sorg dat jou klerekas nie weer handuit ruk nie; jy kan die beleid van “een item in, een item uit” volg, of net gereeld jou kas sorteer om seker te maak dat al jou kledingstukke regtig ’n plek in jou ordelike klerekas verdien.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Squaredpixels

LEES OOK:

Helder kopies om jou winterklerekas op te kikker

3 maniere om jou klerekas vir ’n nuwe seisoen voor te berei

9 foute met klere wat jou ouer sal laat lyk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 klassieke jasstyle om hierdie winter in te belê

Snoesig was nog nooit so sjiek nie!

Close