×
Skakel na Engels

5 eenvoudige stappe om jou huis te beveilig wanneer jy met vakansie is

Gaan jy met vakansie? Hierdie stappe sal help om jou huis te beveilig terwyl jy weg is
vakansie

Jou langverwagte en welverdiende blaaskans het uiteindelik aangebreek, en die wete dat jou huis veilig is, gee jou die bykomende gemoedsrus om regtig lekker vakansie te hou. Hier is ’n paar basiese ding wat jy kan doen, buiten om konvensionele sekuriteitsmiddels soos heinings, diefwering en alarmstelsels te installeer:

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Vertel die regte mense

Stel jou sekuriteitsmaatskappy in kennis van jou weggaanplanne, en laat weet jou buurtwag, jou bure en enigiemand wat ’n ogie oor jou eiendom kan hou en kan reageer as hulle enigiets ongewoon opmerk.

Moet dit nié aan die wêreld uitbasuin nie. Met ander woorde, weerstaan die versoeking om enige datums of jou reisplanne op sosiale media te deel – al is jy hóé opgewonde oor julle vakansie en al die lieflike plekke wat julle gaan ontdek.

2. Moenie dat jou pos ophoop nie

Indien moontlik, kan jy enige koerant- of tydskrifaflewerings kanselleer totdat jy terug is, of ’n vriend of buurman vra om jou pos (selfs gemorspos) te gaan uithaal aangesien opgehoopte koeverte, gemeenskapskoerante en pamflette ’n seker teken is dat niemand by die huis is nie.

3. Skakel af

Spaar krag deur sekere toerusting af te skakel of uit te prop wanneer jy met vakansie gaan, skryf Patrick Allen op lifehacker.com. Dit sal jou toestelle ook teen onverwagse kragstuwings beskerm.

Skakel af: Lugreëlaar (jy is nie daar nie, onthou!); geiser, hoofwatertoevoer (om water en geld te spaar indien daar ’n lek is waaraan jy nie dadelik kan aandag gee nie); ligte (koppel een of twee ligte aan ’n tydskakelaar vir sekuriteitsdoeleindes).

Prop uit: Elektroniese toestelle soos laaiers, skootrekenaars, speletjie-konsoles, stereo’s, TV, DVD/Blu-ray, modems en roeteerders. Soos Allan sê, niks wat met ’n afstandbeheerder werk, is ooit regtig “af” nie. En moenie van klein toestelle soos broodroosters, mengers, koffiemasjiene en mikrogolfoonde vergeet nie.

4. Sorg vir jou tuin

Indien jou tuin oor die algemeen goed versorg is en die gras nou skielik kniehoogte staan, is dit basies ’n aankondiging dat jy nie tuis is nie. Indien moontlik, moet jy iemand betaal om jou tuin in stand te hou terwyl jy weg is, of as jy van ’n tuindiens gebruik maak, raai ons aan dat jy dit nie gedurende die Kerstyd kanselleer nie.

5. Kry ’n huisoppasser (en wat van jou troeteldiere?)

Een van die beste maniere om jou huis te beveilig is om ’n vriend of buurman te vra om in jou huis te kom bly. Iemand wat ’n ogie oor alles hou en gereeld in- en uitgaan, is ’n effektiewe manier om enige ongewenste gaste weg te hou. ’n Huisoppasser wat van diere hou, kan jou boonop ’n klomp geld spaar deurdat jy jou troeteldiere nie by ’n troeteldierhotel hoef te gaan aflaai nie. Nog ’n voordeel is dat jou diere nie ontwrig word nie.

FOTO: iStock/Adventure_Photo

LEES OOK:

Jou huis het hierdie een toestel nodig

 6 wenke vir wanneer jy huisversekering kies

13 maklike maniere om by die huis water te bespaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 avontuurlike goed om in en om Kaapstad met jou kinders te doen

Neem die Moederstad op horings!

Close