×
Skakel na Engels

5 dinge wat jy moet weet wanneer jy inkopies doen

Saterdag 15 Maart is Verbruikersregtedag. Die Wet op Verbruikersbeskerming stippel jou regte as koper duidelik uit. Maar onthou, jy het ook sekere verantwoordelikhede, sê adv. Neville Melville, ombud vir verbruikersgoedere en -dienste.

1. Gaan pryse na

 

As die prys op die artikel self nie dieselfde is as die prys wat jy by die kasregister moet betaal nie, word die verskaffer gebind deur die laagste prys wat vertoon word, tensy dit ’n ooglopende fout is of daarmee gepeuter is. “Dis verbruikers se verantwoordelikheid om eers by ’n rakpakker seker te maak indien hulle onseker oor die prys is en om die koopstrokie na te gaan om seker te maak hulle betaal nie te veel nie,” voeg Melville by. “Dis jou reg om vir die laer prys te vra.”

 

2. Hou ’n oog op jou kontrakte

 

Dis maklik om te vergeet om jou veiligheidsdienste of selfoonkontrak te hernu, maar dis belangrik om alle korrespondensie te lees wat van ’n verskaffer gestuur is en betyds kennis te gee as jy nie wil hê die kontrak moet voortgaan nie. “Verskaffers moet jou in kennis stel dat ’n vastetermynooreenkoms tot ’n einde kom en op ’n maand-tot-maand-grondslag met of sonder nuwe bepalings sal voortgaan,” sê Melville. “Maak seker jy word nie ekstra gevra vir dienste of byvoegings wat jy nie regtig nodig het nie.”

 

3. Oppas vir grysprodukte

 

Jy is dalk gewillig om minder te betaal vir opgeknapte of “grysprodukte” (wat ingevoer is sonder die magtiging van die owerheid of die vervaardiger), maar dan moet jy die verhoogde risiko aanvaar dat daar foute kan wees en daar daar nie ’n vervaardigerswaarborg is wat dit dek nie.

 

4. Gaan die verkooprekord of besonderhede op die betaalpuntstrokie na

 

Luidens die wet op Verbruikersbeskerming moet verskaffers ’n verkooprekord of betaalpuntstrokie gee wat ’n omvattende lys besonderhede bevat. “Gaan die korrektheid van dié besonderhede na en bêre dit op ’n veilige plek,” sê Melville. “Die verkooprekord is jou kopie van die ooreenkoms en aankoopbewys.” Jy sal dit ook nodig hê as jy goedere wil terugneem, ’n terugbetaling wil kry of vra dat foutiewe goedere herstel word.

 

5. Vra identifisering

 

Alle werknemers wat aflewering, herstel of installasie doen, moet ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming ’n naamplaatjie dra of identifikasie verskaf. “Dring daarop aan dat mense wat bel of na jou huis toe kom jou hul amptelike identifikasiekaart wys,” stel Melville voor. “Maak ook ’n aantekening van die persoon se naam vir rekordhoudingsdoeleindes en vir indien jy ’n klagte wil indien of ’n kompliment wil gee.

 

Vir meer inligting skakel die deeloproep-inbelsentrum van die ombud vir verbruikersgoedere en -dienste by 0860 000 272.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 maniere om geld te spaar

Ná die onlangse rentekoersverhoging is almal op soek na maniere om hul rande te rek. Hier is drie maklike maniere...

Close