×
Skakel na Engels

5 bestanddele van skoonheidsprodukte wat swanger vroue moet vermy

Voorsorg is beter as nasorg
swanger vroue

Wanneer dit by grimering en velsorg kom, is nie alle produkte van dieselfde gehalte nie en sommiges is veiliger om tydens jou swangerskap te gebruik as ander. Hier is vyf bestanddele wat jy liefs moet vermy wanneer jy ’n baba verwag:

1. Parabene

Dié bestanddeel kom voor in verskeie skoonheidsprodukte soos sjampoe, lyfroom, gesigreinigers en onderlaag, en is potensieel skadelik omdat dit die uitwerking van estrogeen kan naboots. Estrogeen is die hormoon wat die voortplantingstelsel reguleer. In Brittanje word die gebruik van parabene verbied in produkte wat bestem is vir kinders – dis genoeg rede vir swanger ma’s om ook daarvan weg te bly, al is dit dan net vir nege maande.

Lees ook: Jou gids tot velsorgbestanddele

2. Retinol (of vitamien A)

Vitamien A is een van die algemeenste bestanddele wat in teenveroudingsprodukte voorkom. Ongelukkig word vermoed dat retinol ook tot geboortedefekte kan bydra. Daarom stel dokters voor dat vroue retinol vermy terwyl hulle swanger is. Retinoïede wat mondelings ingeneem word, soos sekere mondelinge akneemedikasie, kan ook gevaarlik wees en moet liefs vermy word totdat jou baba gebore is.

3. Diasolidiniel ureum (formaldehied)

Dié bestanddeel kom dikwels voor in sonskerm en produkte wat gebruik word om hare reguit te maak. Formaldehied is ’n hoogs omstrede chemikalie en karsinogeen, wat dit nie net vir swanger vroue skadelik maak nie, maar vir enige iemand. Dit sal nie op die verpakking as formaldehied aangedui word nie, maar kyk uit vir diasolidiniel uream op die etiket van jou skoonheidsprodukte. Bêre dié produkte tot ná die geboorte van jou kleinding, of gooi dit selfs weg.

Lees ook: Hoe om jou vel tydens jou swangerskap te versorg

4. BHA en BHT

Dié chemikalieë kom algemeen voor in grimering, bevogtigers en selfs room vir luieruitslag (nappy-rash) en daar is bevind dat dit hormoonskommelinge tot gevolg kan hê. Dis nie goeie nuus vir swanger vroue nie, aangesien dit die ontwikkeling van die ongebore baba kan beïnvloed. Omdat swanger vroue en babas so kwesbaar is, moet jy liefs produkte gebruik wat natuurlike bestanddele bevat.

5. Etanolamiene

Op etikette word dit gewoonlik aangedui as MEA, DEA, TEA, triëtanolamien of diëtanolamien, en ongelukkig hou dit heel waarskynlik verband met gifstowwe in die organe, en dalk selfs met sekere soorte kanker. Navorsing het ook gewys dat dié chemikalieë die ontwikkeling van ’n baba se brein kan beïnvloed.

Lees dus daardie lys bestanddele op jou skoonheidsprodukte – vir jou en jou baba se onthalwe.

Foto: iStock/Maya23K

LEES OOK:

6 kosse om te vermy wanneer jy probeer swanger raak

3 geheime vir ’n mooi vel

7 topwenke vir oefening tydens swangerskap

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hierdie albino-vrou se kommentaar oor Rihanna se Fenty Beauty-grimeerreeks het soos ’n veldbrand versprei

Uiteindelik is daar ’n onderlaag vir álmal! Deur Hanna Ibraheem

Close