×
Skakel na Engels

5 alternatiewe geskenkidees wanneer jy nie weet wát om te gee nie

Een van die grootste frustrasies is om ’n geskenk vir iemand te kry wat reeds alles het
alternatiewe geskenkidees

Met die naderende feestyd en heeljaar se verjaardae is daar altyd iemand vir wie jy nie ’n benul het wat om te gee nie. Hulle is óf te kieskeurig óf het baie spesifieke smaak óf het op die oog af niks nodig nie, en jy wil hulle nie nog iets gee wat hulle nie gaan gebruik nie. 

Om dinge vir jou makliker te maak het ons vyf alternatiewe geskenkidees geïdentifiseer sodat jy met ’n oorspronklike en prettige geskenk vorendag sal kom wat die persoon regtig sal geniet:

1. Die tuisgemaakte geskenk

Dit is die gedagte wat tel, nè? Dink dus ’n bietjie aan iets spesiaals wat jy kan maak pleks van koop. Indien die persoon ’n suikertand het, kan jy ’n spesiale baksel brownies, fudge of ’n koek bak. Vir die tuinier of selfdoen-entoesias kan jy ’n voerbak vir voëls bou, ’n fotoboek maak of ’n kombers brei. 

Die lys is eindeloos. Dit hang eintlik maar net af van die persoon vir wie jy die geskenk maak. Al wat jy moet doen, is om uit te vind wat hom laat tiek en iets te maak wat in daardie kraal val!

2. Die diensbaarheidsgeskenk

Pleks van ’n geskenk te koop kan jy altyd namens die persoon ʼn skenking aan ʼn sinvolle liefdadigheidsorganisasie doen. Of dit nou ʼn eenvoudige donasie of ʼn besoek aan die organisasie self is, daar is verskeie manier om saam met jou geliefde betrokke te raak. Gepraat van ʼn geskenk wat aanhou gee! 

Sodoende hoef jy nie bang te wees dat die persoon wat oënskynlik alles het, jou geskenk nie sal gebruik nie – en jy bied hom of haar die geleentheid om iets vir iemand anders doen.

3. Die fopgeskenk

Indien die persoon ’n goeie humorsin het, en jy weet dat hulle vir so iets te vinde sal wees, kan jy haar met ’n fopgeskenk verras. Gaan maak ’n draai by ’n alternatiewe winkel wat allerhande snaaksighede verkoop en bak jou geliefde ’n poets.

Sodoende word almal se lagspiere geprikkel en sal jy vir jou uitstekende geskenk onthou word!

4. Die leersame geskenk

As die persoon genoem het dat hy ’n nuwe vaardigheid soos kosmaak of ’n nuwe taal wil aanleer, kan jy dit oorweeg om hom vir ’n kursus in te skryf. Na gelang van die onderwerp kan dit ’n aanlyn of praktiese kursus wees, net solank dit iets is wat hy sal geniet.

Die wonder van hierdie geskenk is dat die geleenthede eindeloos is.

5. Die avontuurlike geskenk

Vir adrenalienverslaafdes is daar niks beter as ’n geskenk wat iets in die buitelug behels nie, soos abseil of rekspring. Verbreed sommer jou eie horisonne en bespreek vir jouself ook ’n plek! Sodoende is jy deel van die opwindende avontuur. 

FOTO: iStock/perfectlab

LEES OOK:

7 fantastiese aanlyn winkels vir oulike ooievaarspartygeskenke

Kyk en leer: Kry die resep vir hierdie verruklike eenhoring-kolwyntjiekoek

10 beste aanlyn winkels vir Kersinkopies

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief