×
Skakel na Engels

4 wenke vir ’n veiliger Uber-rit

Wanneer jy van Uber gebruik maak, is dit in jou beste belang om hierdie veiligheidswenke te volg
Uber

Verlede jaar het ’n vrou in Johannesburg ’n Uber bespreek, maar klaarblyklik nie die motor se registrasienommer nagegaan voordat sy ingeklim het nie. Sy het in die verkeerde motor geklim en is later aangeval en gedwing om by ’n kitsbank vir haar aanvallers geld te trek.

Uber het sedertdien kliënte aangemoedig om op die volgende vier veiligheidswenke te let om te verseker dat hulle veilig by hul bestemming uitkom. As jou kinders van Uber gebruik maak, maak seker dat hulle ook dié reëls ken en daarby hou.

1. KEN JOU BESTUURDER

Maak met sy aankoms seker dat jy op die Uber-app die bestuurder se foto nagaan, die soort motor wat hy bestuur en ook die registrasienommer van die voertuig.

2. HOU DIE MOTOR DOP

Sodra jy die Uber bespreek, kan jy die motor se vordering op sy roete na jou toe dophou, en ook daarna wanneer jy in die motor op pad is na jou bestemming. Jy kan presies sien waar jy was en ook die afstand tot by jou bestemming.

3. DEEL JOU GERAAMDE AANKOMSTYD

Nadat jy seker gemaak het dat die motor wel die een is wat jou moet oplaai, deel jou geraamde aankomstyd (ETA) via die app met vriende of familie wat jy by jou bestemming gaan ontmoet. Hulle hoef nie die app op hul foon te hê nie.

Die persoon na wie jy jou ETA stuur, sal ’n SMS ontvang met ’n skakel waar hulle in ware tyd die bestuurder se naam en fabrikaat van sy motor sien, asook waar julle julle op die kaart bevind. (Lees meer onder “Uber vir beginners” oor presies hoe om dit te doen.)

4. LAAI JOU FOON SE BATTERY

Natuurlik, sou jy sê, ek het dan my foon nodig om in die eerste plek die Uber te bespreek. Tog, maak seker dat jou foon genoeg batterylewe vir die hele roete het. Laai jou battery voordat jy ’n Uber bestel. Só kan jy die roete monitor, die ETA stuur, en jy het jou foon byderhand in ’n noodgeval.

Lees ook: 8 motorveiligheidstoetse wat jy moet doen voordat jy die langpad vat

UBER VIR BEGINNERS

Lees jy hier en wonder nou: Wat is Uber? En wat lees ek van ’n app en ’n ETA? Dié eenvoudige vrae en antwoorde sal jou help om die storie agter Uber te verstaan en hoe jy ’n slim Uber-gebruiker kan word:

Wat is Uber?

Uber is basies ’n alternatiewe manier om van punt A tot by punt B te kom – ’n taxidiens met ’n verskil. Dis ‘n plek-gebaseerde slimfoon-app waarmee jy ’n motor en bestuurder bespreek.

Hoe werk dit?

Nadat jy die Uber-app op jou slimfoon afgelaai het, kan jy ’n bestuurder vra om jou op te laai op die plek waar jy jou op die oomblik bevind en jou dan na ’n bepaalde bestemming te neem. Die app sal die koste volgens die tyd en afstand bereken. Aanvaar jy die kwotasie, sal jou bestuurder dadelik ry om jou op te laai.

Hoe laai ek die app af?

Vir Android:

  1. Vir ’n Android-foon, tik op die Google Play-ikoon.
  2. Tik op “SEARCH”.
  3. In die soekkassie, tik “Uber”. Tik dan weer op “SEARCH”.
  4. Onder die resultate, tik op die Uber-ikoon.
  5. Tik op “INSTALL”.
  6. Wanneer die app suksesvol afgelaai is, tik op “OPEN”.
  7. Tik op “SIGN IN” as jy reeds ’n rekening het, of op “REGISTER” om te registreer.

Vir iOS:

  1. Tik op die App Store-ikoon en tik dan op “SEARCH”. 
  2. In die soekkassie, tik “Uber” en tik dan op “SEARCH”. 
  3. Onder die resultate, tik op die Uber-ikoon. 
  4. Tik op “GET” om die app af te laai.

Nota: Jy kan gevra word om jou App Store-wagwoord in te tik. Wanneer die app suksesvol afgelaai is, sal “GET” na “INSTALL” verander. Tik op “INSTALL”. Wanneer die proses afgehandel is, sal “INSTALL” na “OPEN” verander. Tik op “OPEN” om jou Uber-rekening te gebruik en ’n rit te bespreek.

Jy het die app afgelaai, wat nou?

Maak die app op jou foon oop en volg die instruksies om in te teken. Wanneer jy ingeteken is, sal jy gevra word om te kies hoe jy gaan betaal. Op dié manier word jou kredietkaartbesonderhede voor elk rit gelaai en word jou rekening vereffen sodra jy in die motor sit, sonder dat enige kontant ter sprake is.

Wanneer jy ’n Uber bespreek …

  1. Maak die Uber-app op jou foon oop.
  2. Maak seker dat die plek waar jy opgelaai moet word die plek is waar jy op daardie oomblik is.
  3. Kies die motordiens onder op die skerm.
  4. Tik op “set pickup location” en bevestig dan deur op “Tap to Request” te tik.
  5. Wag vir die bestuurder en geniet die rit!

FOTO: iStock/GoodLifeStudio

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief