×
Skakel na Engels

4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

Wat is al hierdie skermtyd *regtig* besig om aan ons verstand te doen? Deur Kate Faithfull-Williams
slimfoon

 

’n Ongelooflike 81% van ons het ons slimfone amper altyd binne reikafstand en een uit vyf jongmense erken dat hulle elke vyf minute op hul skerms kyk.

Moet egter nie té paniekerig raak oor die houvas wat jou foon op jou het nie. Ons brein is gedurig besig om in wisselwerking met ons geliefde slimfone te verander, ’n proses wat neurowetenskaplikes “neuroplastisiteit” noem, verduidelik professor Larry Rosen, die outeur van iDisorder:

“Neuroplastisiteit is basies ’n konstante proses waar senuselverbindings in die brein as ’n funksie van ons daaglikse ervarings versterk en verswak word. Dit is beslis tot ons voordeel dat ons brein voortdurend verander. Aangesien ons brein heeldag lank deur stimuli toegegooi word, is neuroplastisiteit ’n lewensredder.”

Só is jou brein besig om te verander (waarskynlik terwyl jy hierdie artikel op jou geliefkoosde digitale toestel lees!):

1. Jou geheue raak lui

Het jy al agtergekom dat jy dit moeilik vind om ’n eenvoudige taak uit te voer, soos om by ’n restaurant uit te kom sonder om eers jou slimfoon te raadpleeg? Blameer die “Google-effek”, ’n toestand wat deur navorsers aan die Columbia-universiteit in die VSA geïdentifiseer is:

“Dit het so algemeen geraak om die antwoord op enige vraag te google dat ons as’t ware onttrekkingsimptome ervaar as ons nie dadelik iets kan uitvind nie,” het die navorser Betsy Sparrow bevind. Daar is verder tot die slotsom gekom: “Ons is besig om ’n simbiotiese band met rekenaarhulpmiddels te vorm, en verander in geïntegreerde stelsels wat minder onthou deur inligting te ken as deur te weet waar die inligting opgespoor kan word.”

In eenvoudige Afrikaans? Aangesien dit so maklik is om antwoorde op so te sê alles op die internet te kry, het ons interne hardeskywe afgestomp geraak.

2. Jy het ’n ekstra ledemaat ontwikkel

Jy is nie ver uit as dit vir jou voel asof jou slimfoon ’n verlengstuk van jou arm is nie. In een studie het 99% mense “skynvibrasiesindroom” gerapporteer waar jy ’n vibrasie in jou sak voel wanneer jou foon nie daar is nie. Wat meer is, swaar selfoongebruikers (dus die meeste van ons) voel selfs dat ons slimfone deel van ons liggaam is. Tydens ’n studie in 2015 aan die University of Missouri, VSA, waar mense van hul toestelle geskei is, het persone ’n “gevoel van verlies aan identiteit” gerapporteer, sê die navorser Russell Clayton.

3. Jou angstigheid vermenigvuldig

As jy daaraan gewoond is om iPone in die hand te lewe, is slegs 10 minute se skeiding genoeg om angstigheid te aktiveer, soos dr. Rosen in 2014 in ’n eksperiment bevind het.

“Angstigheid, wat dikwels in sweterige hande of hartkloppings manifesteer, is ons liggaam se reaksie op die vrystelling van sekere breinchemikalieë, hoofsaaklik die streshormoon kortisol,” sê hy.

Dr. Rosen se navorsing het ook getoon dat indien jy ’n foon sien – selfs al is dit nie joune nie – die blote teenwoordigheid van die toestel die vermoë het om jou angstig te maak.

4. Jou gedagtes is in die hoogste versnelling

Die oormag kennisgewings, e-posse, teksboodskappe en ontelbare lokskakels waaronder ons toegegooi word, is presies hoe tegnologie ons brein “oorlaai”, volgens dr. Rosen. Alhoewel dit fantasties klink om so ’n ontploffing van inligting tot ons beskikking te hê, betaal ons ’n duur emosionele prys. Om deur ’n koeëlreën van gedagtes gebombardeer te word maak ons “moeg en neerslagtig,” sê dr. Rosen. Studies toon dat die gemiddelde millenniër vir minder as vyf minute op een ding konsentreer voordat hy of sy in die versoeking kom om aan iets anders te dink. (Terloops, dankie dat jy nog lees!)

Hoe om (sommige van) die slimfoon-effekte om te keer

As jy jou konsentrasie wil verbeter sonder om erge onttrekkingsimptome te ervaar, stel ons voor dat jy die Forest-app (R29,99, iTunes) op die proef stel. Begin deur die app vir die tyd te stel wat jy gefokus wil wees; gedurende daardie tyd sal ’n boom op jou slimfoonskerm groei, beginnende by ’n blote saadjie. As jy die skerm onderbreek om op Snapchat of Instagram in te gaan, sal jou boom doodgaan. Hierdie app kan jou konsentrasie, jou geestesgesondheid en jou vermoë om kalm te bly, verbeter. Wat ’n redding!

Bron: Net Doctor UK

Foto: iStock/martin-dm

LEES OOK:

7 wenke vir hoe om die regte slimfoon te kies

Veiligheidswenke vir jou slimfoon

8 maniere om jou serotonienvlakke te verhoog en gelukkiger te voel

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kom kyk hoe jou kleingoed se kuns by Future Park lewe kry

Speel in ’n digitale wêreld wat voor jou oë verander

Close