×
Skakel na Engels

17 vrae om jou maat te vra om seker te maak hy of sy is gelukkig

Minstens een van hierdie vrae sal jou help om meer as ’n “ek is oukei” te hoor. Deur Charlotte Andersen
vrae om jou maat te vra

1. Hoekom het jy skielik jou roetine verander?

’n Verandering van gewoontes is een van die eerste tekens van geskilpunte in ’n verhouding. Dit kan op ongelukkigheid, persoonlike stres of selfs verkullery dui, maar ook ’n hele paar ander dinge. Moet dus nie sommer ’n gevolgtrekking maak nie. As daar enige beduidende veranderinge is, bespreek dit met jou maat om vas te stel wat daaragter sit.

2. Waarheen dink jy is ons verhouding op pad?

Mense dink dikwels aan die begin van ’n verhouding oor die status daarvan en waarheen dit op pad is, maar daardie gesprekke moenie ophou nie. Om nie op die hoogte van sake te wees wanneer jy in ’n toegewyde verhouding of getroud is nie, kan tot ongelukkigheid en egskeiding lei. ’n Huwelik is harde werk. Moenie sê “ons sal dit later uitwerk” nie. Later beteken nooit, of wanneer dit te laat is.

3. Wanneer was die laaste keer wat jy saam met jou vriende uit is?

Baie mense in verhoudings maak die fout om vriende uit hul verlede op te gee en slegs op tyd saam met hul maat te fokus. Maar as julle alles saam doen, kan dit die verhouding alledaags maak en veroorsaak dat albei maats moeg vir mekaar raak.

Om gelukkig te wees moet julle albei tyd vir jul afsonderlike vriende maak, selfs al is dit net ’n paar dae van die maand.

Lees ook: 16 dinge wat jy sal weet as jy dieselfde beste vriendin sedert skool het

4. Wanneer jy aan ons verhouding dink, aan watter woorde dink jy?

In elke egskeiding voel iemand (maar gewoonlik albei partye) afgeskeep, onderskat, minag of ongewaardeerd. Dit is groot aanduiders van ongelukkigheid. Maak seker jy en jou maat weet hoe die ander een voel deur die woorde te bespreek waarmee julle opkom.

5. Wanneer laas het ons mekaar ’n drukkie gegee?

Wanneer julle gereeld tyd maak om mekaar te liefkoos, aan mekaar te raak en liefde en toegeneëntheid te wys, stimuleer dit chemikalieë soos oksitosien en dopamien in die liggaam wat gevoelens van aangetrokkenheid aanwakker. Selfs ’n kort tydjie van intimiteit elke dag met jou maat kan daardie band sterk hou.

6. Wat laat jou gewaardeer voel?

Omdat dit dikwels tot egskeiding lei wanneer iemand voel hy of sy word nie gewaardeer nie, is dit noodsaaklik om uit te vind wat jou maat belangrik laat voel. Vind uit wat jou maat nodig het om gewaardeerd te voel en dóén dit. Hy of sy sal dan waarskynlik dieselfde doen. 

7. Wat is jou liefdestaal?

Mense ervaar nie liefde op dieselfde manier nie, en as jy nie jou maat se “liefdestaal” praat nie, kan dit tot groot ongelukkigheid lei. Dr. Gary Chapman se boek oor die vyf liefdestale kan paartjies help om hul maat se taal te leer en te praat.

Hierdie tale is gehaltetyd, diensdade, woorde van bevestiging, fisieke aanraking en die gee van geskenke. Leer jou maat se liefdestaal om jou huwelik sterk te hou.

Lees ook: Vasvra: Wat is jou liefdestaal?

8. Wat het jy van my nodig wat jy voel jy nie kry nie?

Mense glo verkeerdelik hulle hoef nie hul maats te vra wat hulle van hulle verwag nie, terwyl dit inderwaarheid die beste manier is om te kommunikeer en te kry wat hulle van die verhouding verwag.

Jou maat moenie van jou verwag om in al sy of haar behoeftes te voorsien nie – om van iemand te verwag om jou te “voltooi” is ’n romantiese idee, maar nie gesond nie. Gesonde paartjies werk saam om seker te maak dat daar aan hul belangrikste behoeftes voldoen word.

9. Wat is nou jou drie topprioriteite?

’n Groot bron van ongelukkigheid is wanneer die fokus nie op die verhouding is en om tyd saam deur te bring nie, maar op die onderskeie partye se beroepe, kinders, uitgebreide families en gemeenskapswerk.

Paartjies moet werk aan die romanse, vriendskap en pret wat hulle aanvanklik tot mekaar aangetrokke laat voel het, en die opwinding daarvan om saam te wees. Hulle kan nie net aanneem hulle sal altyd daardie band hê as hulle nie tyd en energie daarin stort om dit lewend te hou nie. 

10. Wat verwag jy van ons verhouding?

Iets wat dikwels skade in ’n verhouding aanrig, is wanneer jy nie jou verwagtinge duidelik maak nie. Onuitgesproke verwagtinge kan tot wrokkigheid en ongelukkigheid lei. Selfs al is dit nie ’n realistiese verwagting nie, kan dit baie help om daaroor te praat. 

11. Wat is jou kernwaardes?

Jy moet nooit van jou maat verwag om iets te doen wat nie met hul eie waardes strook nie. As jy druk toepas, toon dit ’n gebrek aan respek en dit kan tot ongelukkigheid in die verhouding lei. Maar jy sal nie weet wat jou maat se waardes is as jy hom of haar nie vra nie. Dan kan jy uitvind of julle saamstem.

Lees ook: Vier vinnige oplossings vir stres

12. Waarvoor is jy dankbaar in ons verhouding? 

Elke party behoort drie dinge te kan kry waarvoor hulle elke dag saam met hul maat dankbaar is en dit met hulle te deel. Of dit dankbaarheid vir harde werk, huisskoonmaak of die versorging van die kinders is, komplimenteer jou geliefde. Dit sal ’n positiewe uitwerking op die verhouding hê. As hy of sy nie aan drie dinge kan dink nie, is dit ’n gevaarteken dat hy of sy ongelukkig is.

13. Hoe voel jy daaroor om ’n ouer te wees?

Kinders voeg baie positiewe dinge tot iemand se lewe toe, maar dit kan ook stres veroorsaak, soos minder intimiteit in die verhouding. Wanneer kinders eerste kom, kan dit baie pyn in ’n verhouding veroorsaak.

Dis nie maklik om daardie gelukkige fisieke en emosionele band met jou maat in stand te hou wanneer jy die kinders moet bad, kosmaak en speelgoed optel nie.

14. Voel jy asof jy as vanselfsprekend aanvaar word?

Om ongewaardeerd te voel is ’n groot bron van ongelukkigheid in ’n verhouding. Maak seker jy sê dankie vir iets (enige iets) en neem minstens een keer ’n dag kennis van iets spesiaals wat jou maat aan jou lewe toevoeg.

15. Voel jy ons kan oor iets verskil en steeds oukei wees?

Om soms te stry is heeltemal normaal in enige langtermynverhouding. Maar as julle te veel baklei of konflik vermy, sal dit tot wrokke en emosionele afsydigheid lei. Dis belangrik om jou gevoelens uit te druk, selfs die moeilikes, as jy innigheid en intimiteit in jou huwelik wil hê.

16. Voel jy asof jy gehoor word?

’n Groot fout wat paartjies maak, is om nie na mekaar te luister nie. Dis so eenvoudig, maar dis belangrik. Vra jou maat hoe hy of sy voel en luister sonder om hom of haar te onderbreek. Maak tyd vir julle twee sonder enige kinders, TV of mobiele toestelle. 

17. Is jy ongelukkig in ons verhouding?

Soms moet jy net vra. Mense kan konflikte en wrokke laat opbou pleks van hul ongelukkigheid te bespreek. Jy dink dalk dis beter om stil te bly oor iets wat jy as ongelykheid beskou of hinderlike gedrag te aanvaar, maar die enigste manier om ware intimiteit en innigheid te behou is om te sê hoe jy voel.

Van: Redbook US

FOTO: iStock/kupicoo

LEES OOK:

Verbeter jou verhouding met dié twee vrae

9 tekens dat jy in ’n zombie-huwelik vasgevang is

Maandelikse rubriek: Maak bekwame kinders groot

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Leer hoe om hierdie 9 dinge te takel wat ons selfvertroue knou

Nuttige wenke om jou selfvertroue vinnig ’n hupstoot te gee. Deur Martha Roberts

Close