×
Skakel na Engels

15 slim skoonheidskunsies wat kenners wil hê jy moet weet

So slim, so vinnig en so bekostigbaar!
skoonheidskunsies

Ons almal het ons eie klein wenkies en kunsies wanneer dit by ons skoonheidsroetine kom, maar diegene wat elke dag in die skoonheidsbedryf werk, het al ’n skatkis vol geheime oor die jare versamel.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Hier is van die skoonheidstruuks van sommige van die grootste name in die bedryf:

1. “Vries melk in ’n ysblokkiehouer; masseer jou gesig met die blokkies, toegedraai in moeselien. Dit lig dooie selle en bevorder sirkulasie, en die resultaat is soos dié van ’n mini-gesigsontrimpeling.” – Ole Henriksen, velsorgkenner

2. “Wend ’n sonskermstiffie op jou wenkbroue aan om te voorkom dat UV-strale die haartjies bleik.” – Vanita Parti, stigter van Blink Brow Bars

3. “Wil jy die laaste bietjie van jou gunsteling-lipglans aangewend kry? Los die buisie vir 10 minute in warm water sodat die glans teen die kante smelt.” – Daniel Sandler, grimeerkunstenaar

4. “Gebruik maskara as oogomlyner. Skep daarvan op die punt van ’n oogomlyner se borsel en wend dit met vegies teen die wimperlyn aan.” – Craig-Ryan French, kreatiewe direkteur van Paul & Joe Beauté

5. “Hou by oogskadu’s met aardse kleure as jy ’n sensitiewe vel het. Dit bevat minder pigment, en is dus nie so irriterend vir die vel soos donkerder en metaalkleurige oogskadu’s nie.” – Dr. Harold Lancer, dermatoloog

6. “Spuit van jou gunsteling-parfuum op jou strykplank – die strykyster se hitte sal die geur vrystel en in jou klere seël.” – Jo Malone, parfuummaker

7. “Plaas ’n teesakkie op ’n komkommerskyfie, los dit in die yskas sodat dit kan intrek, en plaas die komkommer dan op jou oë. Dit sal die pofferigheid wegneem en terselfdertyd jou oogarea streel.” – Nic Chapman, medestigter van Real Techniques

8. “Op soek na die perfekte pienk lipstiffie? Kies een wat dieselfde kleur as jou tandvleis is.” – Shehla Shaikh, grimeerkunstenaar

9. “Wend een laag selfverbruiner aan en gebruik ’n haardroër om dit te laat set. As dit eers droog is, sal jy sien hoe egalig jou aanwending is en of jy ’n tweede laag nodig het.” –  James Read, verbruiningskenner

10. “Omlyn jou lippe van die hoeke af op na die Kupido-bogie. Dit gee jou mond ’n meer afgeronde voorkoms en jou lippe lyk plomper.” – Rebecca Restrepo, grimeerkunstenaar

11. “Bereken jou haarproduk-porsies deur jou hare in ’n poniestert vas te bind. Die omtrek van die basis is eweredig aan die hoeveelheid produk wat jy behoort te gebruik.” – Michael Lendon, skeppende direkteur van Aveda UK

12. “Wend ’n stiffie-onderlaag in strepies oor jou gesig aan. Spuit ’n setsproei bo-oor en klad vir ’n onderlaag wat hou.” – Sam Chapman, medestigter van Real Techniques

13. “Word jy soggens met pofferige oë wakker? Gebruik hidrerende oogdruppels voordat jy gaan slaap. Gedehidreerde oogkliere gaar vloeistof op wat pofferigheid veroorsaak.” – Nichola Joss, skoonheidsterapeut

14. “Tik ’n titseltjie roomverbronser aan op die vlesige basis van jou duim. Vryf jou duime teenmekaar en druk dit al onder jou wangbene vir ’n kontoereffek.” – Alex Box, grimeerkunstenaar

15. “Sorg dat haarknippies in kort hare bly deur droë sjampoe of ’n tekstuursproei aan die binnekant te spuit vir ekstra houkrag.” – Laurence Close, haarstilis

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Deagreez

LEES OOK:

Die wonderlike skoonheidsvoordele van appelasyn

Waarom groentee ’n plek in jou badkamerkassie moet hê

Groenkwartsrollers is die nuutste geheim vir ’n beter vel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Velsorg: Pak dít in wanneer jy vir werk of plesier weggaan

Jy hoef nie jouself af te skeep nie, maar jy wil jou nie dood dra nie ...

Close