×
Skakel na Engels

14 huiswenke wat jou geld sal spaar

Jou geldspaargids
Huiswenke wat jou geld sal spaar

1. Belê in velsorgprodukte met aktiewe bestanddele

Bestee meer aan produkte wat lank op jou vel bly en ’n langtermynuitwerking het (soos teenverouderingsprodukte). Bestee minder aan iets wat jy afwas, soos ’n gesigwas en lyf- en ander seep.

2. Kook by die huis

Beplan ’n week se aandetes en maak een aand tyd om ’n paar van die geregte te berei. Jy sal nie so maklik wil kitskos bestel of uiteet wanneer daar ’n tuisgemaakte maaltyd is nie.

3. Eet minder vleis

Maak peulgroente – die eetbare droë saad van peulplante – die hoofbestanddeel van jou aandete. Dit sal jou risiko vir hart-, lewer- en niersiekte verminder en jou kosrekening verlaag.

4. Laat jou mani- en pedikuur langer hou

Masseer daagliks kutikelolie aan jou naels vir meer glans en om die vel sag te hou. Hou ’n botteltjie van jou gunstelingnaelkleur by die huis sodat jy jou naelkleur tussen afsprake kan aanvul as dit afsplinter.

Lees: 5 maniere om jou naels te versterk

5. Vermy duur spesialiteitsprodukte

Gebruik gewone seep om delikate onderklere te was. Sunlight Laundry Bar werk byvoorbeeld net so goed teen ’n fraksie van die prys.

6. Kry ’n aparte e-posadres vir aanlyn kopies

Skep ’n rekening net vir aanlyn inkopies sodat jy nie deur “50% afslag op alles op ons webwerf!”- boodskappe in jou inboks verlei sal word nie.

7. Drink uit ’n sjiek bottel

Koop jy alewig water vir jou oefenklas soggens? Belê in ’n herbruikbare waterbottel; die planeet sal jou dankbaar wees en deur net drie keer per week nie water te koop nie, kan jy tot sowat R1 000 per jaar spaar.

8. Hokaai met die waspoeier

As jy altyd skat hoeveel wasgoedmiddel jy moet gebruik, gebruik jy waarskynlik te veel, en dis sleg vir jou klere én jou inkopierekening. Begin vandag nog om jou wasgoedmiddel af te meet.

Lees: 8 wasgoedfoute wat jou klere verrinneweer

9. Kry ’n biblioteekkaart

Lees gratis en spaar meer as R5 000 per jaar as jy elke maand twee nuwe titels kafdraf.

10. Betaal R20, spaar R20

Sukkel jy om jou daaglikse cappuccino-gewoonte te verbreek? Vat elke keer wanneer jy een koop dieselfde bedrag en spaar dit. Só sal jy sien hoeveel dit jou eintlik kos en spaargeld vir tye van nood hê.

11. Doen slimmer inkopies met digitale aanbiedinge 

Meld aan op die webwerf www.unileverdeals.co.za en begin spaar op verskeie daaglikse noodsaaklikhede soos waspoeier, tee en sjampoe. Kies die winkel waar jy wil koop – Spar, Pick n Pay, Dis-Chem, Checkers of Shoprite – en kliek dan om die nuutste aanbiedings te sien.

Kliek op die produk wat jy wil hê en ’n kode sal na jou selfoon gestuur word. Wys die kode by die kasregister nadat jy jou inkopies gedoen het en die afslag sal van jou rekening afgetrek word.

12. Verander R1 in R1 378!

Sit hierdie week R1 in ’n spaarbussie, volgende week R2, die week daarna R3, ensovoorts. Sit vir die res van die jaar elke week ’n rand meer weg. Binne 52 weke sal jy meer as R1 300 hê sonder dat jy ooit meer as R52 op een slag hoef te gespaar het.

Lees: 5 wenke om dié maand geld te spaar

13. Koop wasbare ‘papierhanddoeke’

Hou op om kosbare geld te bestee aan goed wat weggegooi word en gebruik eerder mikrovesellappe.

14. Hou ’n kosdagboek

Derduisende kilogramme kos word jaarliks vermors. Hou boek van goed wat op die ou end weggegooi word en vermy dié produkte – of koop kleiner hoeveelhede – wanneer jy weer inkopies doen.

FOTO: iStock/vadimguzhva

LEES OOK:

5 wenke om geldsake in jou verhouding te bestuur

Hoekom ek nie vir my kinders sakgeld gee nie

7 wenke om geld by die werk te spaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief