×
Skakel na Engels

13 goed wat jy nooit in die skottelgoedwasser moet pak nie

Ons sal beslis aanbeveel dat jy dié goed eerder met die hand was …
skottelgoedwasser

Skottelgoedwassers is ’n seëning al vandat hulle in die 1950’s in al wat ’n huis is opgeduik het – eindelik was daar ’n vinnige manier om met ’n vrag skottelgoed klaar te speel. Maar so dol soos ons oor dié toestelle is, is daar steeds gevalle waar handwas die beste opsie bly. Hier is ’n lys van kombuisgoed wat jy volgens die Good Housekeeping-instituut in die VSA liefs ver van jou skottelgoedwasser af moet hou:

1. ’n Gietysterpan

Jy weet die kenners sê jy moet jou pan goed smeer of geur voordat jy dit gebruik. Wel, as jy jou pan in die skottelgoedwasser sit, gaan al daardie harde werk daarmee heen! Spoel dit dus eerder met warm water af (geen seep nie!) of vryf dit met sout skoon.

2. Enige houtkombuisgerei

Die warm water en hitte wat vir droging gebruik word, is te fel vir jou houtlepels en -spane of enige ander kombuisgereedskap wat van hout gemaak is. Die hout kan kromtrek of buig.

3. Houtsnyplanke

Soos met houtlepels kan die warm water jou houtbord se afwerking verbleik en moontlik die vorm beskadig. Gebruik eerder ’n druppel chloorbleikmiddel en baie water om dit skoon te skrop.

4. Jou ouma se ou borde

As jy die familie se porseleingoed geërf het toe jy getroud is, oppas om dit aan te warm water en skerp wasmiddels bloot te stel. Dit kan die goue rand en handgeverfde detail beskadig. 

5. Jou knoffelpers

Dié toestel help dalk om tyd in die kombuis te spaar, maar dit neem ongelukkig ’n bietjie tyd om skoon te maak. Omdat knoffel ’n taai pasta raak wanneer dit fyngedruk word, kan dit maklik in die gaatjies en gleuwe vassit. Was jou knoffelpers dus met die hand om dit behoorlik skoon te kry.

6. ’n Geïsoleerde beker

Sommige nuwer reisbekers is wel vir skottelgoedwassers geskik, maar ander se isoleermateriaal sal tydens die wassiklus beskadig word, veral as water tussen die twee isoleerlae beland.

7. Bottels wat nog etikette op het

As jy jou konfytfles wil hou, maak eers seker jy verwyder die papieretiket en enige gom – dié materiale kom gewoonlik in die skottelgoedwasser af en kan die filter verstop, wat later tot ernstiger probleme kan lei (wat jou baie meer sal kos as wat daai konfytfles werd is).

8. Enige aluminiumkookware

Volgens die GHI sal enige aluminiumkookware in die skottelgoedwasser verkleur en hul mooi glans verloor. Dit geld ook weggooibare artikels.

9. Jou kaasrasper

Daar kan maklik stukkies kaas in die rasper se gleuwe en gaatjies vassit selfs nadat dit in die skottelgoedwasser gewas is. Gebruik dus eerder seep en ’n spons en was dit met die hand – jy wil tog nie eergister se cheddar op oormôre se braaibroodjie eet nie!

10. Jou duur sjefmesse

Hou dié vlymskerp messe uit jou skottelgoedwasser om te keer dat dit die harde plastiekbedekking stukkend sny (dit kan tot roes lei), behalwe as jou skottelgoedwasser ’n spesiale mesrak het.

11. Koperpotte, -panne en -bekers

As jy net so dol soos ons oor kopergoed is, sal jy weet dat die helfte van die bekoring in die mooi kleur lê. Maar volgens die GHI kan ’n skottelgoedwasser jou koperware verdof. Was dit dus eerder met die hand om die kleur te behou.

12. Kookgerei met brandmerke

Jy het die aartappels ’n bietjie lank in die oond gelos en nou het jou glasbak ’n taai, donker aanbrandsel op die bodem. Jou skottelgoedwasser sal ongelukkig nie alles kan verwyder nie – dit sal ’n bietjie skropwerk verg. Koeksoda verrig ook wondere vir aangebrande kookgerei!

13. Jou kristalware

Hou jou ponsbak en wynglase ver weg van ’n skottelgoedwasser af! Die hoë watertemperatuur kan jou kristalware beskadig en verdof. Jy kan by die vervaardiger ook seker maak – sommige kristalgoed is wel skottelgoedwasserbestand. En as jy dit in die masjien pak, maak seker dit staan stewig sodat dit nie kap of omval nie.  

Van: Good housekeeping UK

Foto: iStock/ViktorCap

LEES OOK:

Die grootste foute wat jy met jou skottelgoedwasser maak

4 redes hoekom jy nie die moeite moet doen om jou skottelgoed vooraf af te spoel nie

6 maniere om in die kombuis water te bespaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
14 huiswenke wat jou geld sal spaar

Jou geldspaargids

Close