×
Skakel na Engels

13 briljante wenke wat jou klere langer sal laat hou

Ja, daar is ’n regte manier om alles te vou en op te hang. Deur Lauren Smith
klere

As jy al ooit ’n gunsteling-toppie moes uitgooi — omdat daar ’n knoop weg is, ’n gat in die mou is of omdat dit verbleik het — het ons raad vir jou: Volg hierdie wenke om jou te help om jou staatmaker-items heelwat langer te laat hou.

Keer dat ’n knoop uitrafel

As jy nie tyd het om ’n knoop van voor af aan te werk nie, is dit tyd om jou kleurlose naelpolitoer op te diep. Verf bo-oor die los garing om die uitrafeling tydelik te stuit.

Keer ’n leer met naelpolitoer

Nog ’n slim gebruik vir naelpolitoer: Sodra jy die eerste teken van ’n leer in jou sykouse gewaar, kan jy ’n lagie kleurlose naellak bo-oor aanwend. Dit sal voorkom dat die leer groter of langer word.

Red ’n ritssluiter met ’n sepie

Gebruik ’n stukkie seep om jouself uit ’n baadjie met ’n steeks ritssluiter te verlos, of om ’n item wat jy as gevolg van ’n irriterende rits nie meer dra nie, weer drabaar te maak.

Borsel jou suèdeskoene met ’n naelvyl

Gebruik jou amarilvyltjie om vuil merke liggies af te skuur. Vir hardnekkige vuilheid kan jy die skoen so 30 cm bo die tuit van ’n stomende ketel hou en dan liggies borsel om die pool weer te laat opstaan.

Skrop watervlekke met asyn

Jy kan ’n sagte tandeborsel en asyn gebruik om watervlekke op leerstewels te verwyder. Dit is veral doeltreffend gedurende Kaapse winters wanneer wit waterstrepe jou skoene ontsier.

Beskerm jou klere met ’n kussingsloop

Wanneer jy jou jasse of aandklere wegpak, kan jy elke item met ’n ou kussingsloop oortrek. Die blogskrywer van Bumblebee Linens sny byvoorbeeld ’n opening in die toe kant van die sloop en glip dit oor ’n hanger.

Verwyder merke op jou blinkleerskoene

Blinkleer is ’n gewilde materiaal vir hofskoene, maar is geneig tot lelike, donker skaafplekke. Al wat jy moet doen, is om die merke met ’n stukkie watte met petroleumjellie (soos Vaseline) by te kom.

Raad met jou bra se draad

As jy jou gunsteling-bra wil uitgooi omdat die draad begin deursteek (eina!), het ons wonderlike nuus vir jou: Jy kan dit met ’n materiaalpleister regdokter.

Bêre bra’s binne-in mekaar

Om hierdie onderklere ongeërg in ’n laai te stop sal maak dat die keëls mettertyd hul vorm verloor. Bêre dit eerder met die keëls inmekaar om dit netjies te hou en hul leeftyd te verleng.

Lugdroog oefenklere

Om jou natgeswete oefenklere net so in die wasgoedmandjie te gooi sal ’n benoude mufreuk afgee. Doen jouself ’n guns en laat dit lugdroog word voordat jy dit by jou ander vuil klere ingooi.

Hang broeke reg op

In plaas daarvan om broeke in ’n laai te druk, kan jy dit aan ’n hanger ophang om te voorkom dat dit kreukel en te gereeld gestryk of gestoom moet word – iets wat baie verwering veroorsaak.

Stop jou stewels

Gebruik swembadnoedels of toiletrolle as tuisgemaakte stewelvullers om seker te maak dat jou stewels nie hul vorm verloor nie.

Gebruik vilthangers

Draadhangers is nie ondersteunend genoeg vir swaarder materiale nie en sal jou klere mettertyd laat skeeftrek. Belê eerder in vilthangers wat nie punte in jou hempskouers sal los nie en waarvan dun, syagtige materiale nie sal afgly nie.

Uit: goodhousekeeping.com

Foto: iStock/Sensay

LEES OOK:

8 wasgoedfoute wat jou klere verrinneweer

5 wenke om jou klere langer te laat hou

10 slim gebruike vir wasgoedpennetjies

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Eenvoudige maniere om jou papierwerk te orden

Moenie laat daardie stapels papier vir jou ore aansit nie! Deur Sophie Hines

Close