×
Skakel na Engels

12 verrassende dinge wat gebeur wanneer jy jou troue beplan

Probeer om dit darem ook te geniet! Deur Sophie Hines
troue

 

Jy is verloof – hoera! Alhoewel die maande voor jou troue beslis ’n opwindende tyd is, kan dit ook ’n bietjie soos ’n rit op ’n tuimeltrein voel, om die minste te sê.

Hier is ’n paar van die verrassende dinge wat in aanloop na jou groot dag op jou wag . . .

1. Jy vind uit dat ALMAL ’n mening het oor hoe jou “groot dag” moet lyk

Jy het gedink dis jóú dag. Dink weer! Almal, van jou ma tot jou verlangse tannie, gaan ’n eiertjie lê oor wat die dag moet behels, of dit nou is dat jy ’n sluier moet dra of vriende wat sê dat hulle teleurgesteld sal wees as daar nie ’n gratis kroeg gaan wees nie.

2. Jy besef dat jy ongelooflik baie mense ken

“Ons hou dit klein en eenvoudig,” sê jy wanneer jy met jou gastelys begin. ’n Halfuur later, wanneer jy na die lys familie, huisvriende, universiteitsmaats en kollegas kyk, lyk dit of jy die helfte van Suid-Afrika by jou troue gaan hê. En dan praat ons nog nie eens van metgeselle nie . . .

3. Jy ontdek dat alles basies dubbel soveel kos as wat jy gedink het

’n Praktiese reël wanneer dit by uitgawes kom? Probeer dink wat elke aspek gaan kos, en dan tel jy ’n duisend rand by – of sommer tien!

4. Jy besef wat regtig vir jou belangrik is

Wanneer jy ’n troue begin beplan, is jou Pinterest-bord vol kreatiewe fotohoekies, blomryke muurkuns en indrukwekkende handgemaakte versierings.

Namate die tyd én geld minder raak, besef jy dat dit eintlik net die drank/vermaak/kos/rok is wat regtig saak maak (skrap soos van toepassing).

5. Jy maak ’n belofte om nooit weer laat op ’n trou-uitnodiging te reageer nie

Wanneer jy voorheen ’n uitnodiging na ’n troue ontvang het, het jy gedink “hoe gaaf” en dit dan eenkant laat lê om iewers in die toekoms daaraan aandag te skenk, waarskynlik lank ná die RSVP-datum.

Noudat dit jy is wat op ’n antwoord wag, besef jy hoe ongeskik jy was en neem jy jou voor om nóóit weer langer as ’n week te wag voordat jy op ’n uitnodiging reageer nie.

6. Jy moet besluite neem oor dinge waaraan jy letterlik nog nooit voorheen gedink het nie

Is dit oukei om die vraag: “Met watter soort kant wil jy die ruiker vasmaak?” met: “Ek gee regtig, egtig nie om nie” te beantwoord?

7. Jy gaan waarskynlik ’n uitval met een van jou dierbares hê, en ná die tyd baie sleg voel

Natuurlik is dit wonderlik om te trou, maar die reëlings kan uitmergelend wees, veral as daar baie opinies betrokke is (iets waarop jy kan reken). Die meeste bruide sal minstens een maal gedurende al hierdie voorbereidings ’n uitbarsting hê, maar moenie bekommerd wees nie – dit waai gewoonlik vinnig oor.

8. Mense vra erg irriterende vrae

Daar is iets aan ’n troue wat mense heeltemal hulpeloos laat voorkom, en as bruid is dit gewoonlik jý wat die spit afbyt.

Van eindelose vrae oor taxi’s (het hierdie mense al ooit hul eie vervoer gereël?) tot versoeke vir “klein gunsies” wat in werklikheid reuse-kopsere is – verwag om met e-posse, boodskappe en oproepe gebombardeer te word.

9. Jou idee van wat mense alles in ’n dag eet, ruk heeltemal hand uit

“Is ons seker dat agt canapés, ’n driegangmaaltyd, koek en ’n volledige buffet die mense heelaand versadig sal hou?”

10. Jy maak ontdekkings oor jou figuur waarvan jy nooit tevore geweet het nie

’n Interessante aspek van trourokkoop is om te hoor hoe winkelassistente jou lyf openlik analiseer.

Dis natuurlik wonderlik om te weet dat jy lieflike sleutelbene het, maar jy het sowaar nie nodig om te hoor dat jou sitvlak “soveel groter as die normale vrou s’n” is nie.

11. Jy en jou verloofde doen ’n paar vreemde oefenlopies

Jy gaan jouself in meer as een interessante situasie bevind! Nie net word jou leefkamer ’n beknopte dansbaan waar julle vir jul eerste dans oefen nie, maar julle probeer ook uitwerk hoe julle voor die kansel gaan soen sodat dit romanties, maar nie vryerig lyk nie.

12. Jy besef dat dit ’n wonderlike dag gaan wees, ongeag wat gebeur

Ja, dit kan spanningsvol wees om die troue te beplan, maar op die ou end gaan dit oor die belofte tussen jou en die persoon met wie jy die res van jou lewe wil deurbring. En dit is veel belangriker as om Instagram-waardige tafelrangskikking te hê, of hoe?

Uit: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/digitalskillet

LEES OOK:

Hoe om die volmaakte venue vir ’n troue of partytjie te kry

Vasvra: Watter trourokstyl pas by jou persoonlikheid?

7 tafelversierings sonder blomme vir troues

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die slegste manier om ’n verhouding te beëindig, volgens wetenskap

Enige iemand wat dit al beleef het, sal saamstem. Deur Sophie Hines

Close