×
Skakel na Engels

12 maniere om fees te vier sonder om gewig aan te sit

Daar is groot voordele daaraan om die vakansiekilojoulebomme te leer ontduik, maar niemand wil tog by ’n Kerspartytjie aan wortelstokkies knaag nie
gewig verloor

Navorsing toon dat as jy in die feestyd gewig aansit (selfs al is dit net een kilo), dit ’n sneeubaleffek kan hê. Jy sal ook meer vatbaar wees as jy onlangs twee tot vyf kilo’s verloor het. Volg hierdie maklike wenke om die ekstra kilo’s in die feestyd te fnuik. Die vooraf-kuiery: 

1. Peusel aan proteïen

Eet ’n proteïenryke happie voordat jy uitgaan – dit sal jou langer vol hou as koolhidrate. Om nie rasend honger op te daag nie sal jou boonop help om beter koskeuses te doen, sê die dieetkundige Jaclyn London. Probeer 150 ml Griekse jogurt met ’n peer of twee snye kaas met seldery.

 

2. Gun jouself ’n bietjie pret

Die grootste partytjie-oortreding is om jouself alle lekkerte te ontsê, want die kans is dan goed dat jy ná een dekadente happie sommer ’n skinkbord vol snoepgoed sal wil verslind.

3. Oefen vooraf …

Ruim tyd vir ’n 10-minute-oefensessie in voordat jy begin stort en klaarmaak. Navorsing toon dat intense oefening jou aptyt een tot twee uur lank kan onderdruk, sê die fiksheidswetenskaplike Jessica Matthews.

 

4. … en beplan om die volgende dag ook to oefen

Skeduleer ’n oefensessie vir die dag ná die geleentheid. Maak planne met ’n vriendin of betaal vooruit vir ’n klas. Dit sal help keer dat jy die vorige aand te veel eet of drink.

 

5. Oorweeg jou opsies

Kyk eers wat daar alles is voordat jy jou keuse doen. Party geregte sal tot jou spreek; ander nie. Jy wil nie jou bord vol kos skep waaroor jy nie regtig opgewonde is nie en dan ontdek dat daar ’n tafel vol van jou geliefkoosde kos in ’n ander vertrek is.

6. Onthou, jy is nie net daar vir die kos nie 

Ja, ons raak almal opgewonde oor deegworsies,maar daar is ook nie-kosverwante vermaak – dis tog ’n partytjie! Gaan ’n weddenskap met jou maat aan om te kyk wie die verspotste staaltjie kan kry, die meeste selfies saam met familie kan neem of eerste gaste op die dansvloer kan kry.

 

7. Skep baie groente in

Lê gerus weg aan crudités – vermy net die doopsous, sê London. Dit sluit spinasie-en-artisjoksous of guacamole in, want ’n romerige sous bevat gewoonlik baie kilojoules.

 

8. Maak ’n 25/75-verdeling

Probeer ’n “slegte/goeie”-benadering, sê navorsers aan die Vanderbilt-universiteit in Amerika. Hulle het bevind dat om jou bord met 25% “slegte” kosse (soos aartappelskyfies) en 75% “goeie” kosse (soos vars appelskyfies) te vul net so bevredigend kan wees as om byna ’n bord vol van die hoë-kilojoule-opsie te eet, want die eerste smaaklike happies is die “kragtigste”.

 

9. Staan weg van die buffet af

Slanke eters is geneig om hul kos te kry en dan na die ander kant van die vertrek te beweeg, met hul rug na die buffet gedraai.

 

10. Verruil die alledaagse vir spesiale feeskos

Ons is redelik seker jy weet hoe hoenderpastei smaak. Moet dus nie jou kilojouletoelae daarop blaas nie. Tannie Irma se beroemde pampoentert is egter iets besonders en jy moet beslis daarvan eet. Skep ’n lekker groot lepel vol en geniet elke happie.

 

11. Vra vir ’n witwynglas

Dis so maklik om meer wyn in ’n groter, dieper rooiwynglas te skink. Kies eerder ’n kleiner witwynglas.

12. Hou jou hande besig

Hou heeltyd iets in albei hande vas, soos ’n drankie en jou handsak, sê London. Dié truuk sal help keer dat jy doelloos happies van snoepborde af oppik.

Lees ook:

Hoekom jy nooit jou Kerskalkoen moet was nie

Dís waarom die aanloop tot Kersfees spanningsvol vir ouers is

10 beste aanlyn winkels vir Kersinkopies

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die kulgids tot ’n Kersmaal

Bring hierdie Kersfees minder tyd in die kombuis deur

Close