×
Skakel na Engels

12 doendinge vir jou en jou kroos hierdie vakansie

Jy en jou kroos sal dit ewe veel geniet!
kroos

Kom ’n bietjie uit en doen iets opwindend saam met die hele gesin. Hier is ’n prettige en feestelike lys met opsies oor die land heen waaruit jy kan kies.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Kaapstad 

1. Galileo Open Air Theatre

Pak ’n piekniekmandjie en gaan kyk jou gunstelingfliek onder die sterre by een van Galileo se verskeie opelugvertonings. Sondae by Kelvin Grove is ekstra spesiaal vir kinders, want hulle word met interaktiewe speletjies vermaak. Daar is ook ’n kosmark waar ’n verskeidenheid lekkernye gekoop kan word. Besoek hulle webwerf om die filmrooster vir die 2017/2018-somer te sien. Deure maak om 16:00 oop. | Kaartjies wissel tussen R89 en R175.

2. The Alpaca Loom

Net buite die Paarl is daar ’n oulike klein plasie waar ’n klompie alpakkas ’n tuiste gevind het. Bring jou kinders om die alpakkas te voer (’n sak voer kos R30) terwyl jy ’n koppie tee en ’n skon in die koffiewinkel geniet. Benut sommer die geleentheid om vir iemand spesiaals ’n geskenk te koop wat van alpakkawol gemaak is. Daar is ook ’n hansdieretuin en klouterraam. Daagliks oop van 10:00 tot 18:00. | Alpaca Barn-toere: Vrydag, Saterdag en Sondag om 15:00.

3. teamLab’s Future Park

Die interaktiewe digitale tegnologie by teamLab’s Future Park se tentoonstelling in die Watershed by die V&A Waterfront sal nuwe lewe in jou kinders se tekeninge blaas. Die tentoonstelling is pret en die interaktiewe aktiwiteite sal die jongspan se verbeelding aangryp en hulle aan die wonders van tegnologie bekendstel deur skandeerders en sensors te gebruik om elke kind se kleurvolle tekening in ’n digitale heelal te laat lewe kry. 23 September 2017 tot 31 Januarie 2018. | Kaartjies R130; R460 vir ’n gesin van vier.

Durban

4. Funworld

Bederf jou gesin en gaan spandeer ’n hele dag by Funworld op die strandfront. Dit is ’n bekostigbare en prettige manier om ’n dag in die son deur te bring. Moenie die kabelkar met sy uitsig oor die stad misloop nie, en gaan maak ’n draai by die Swing Boat en stampkarretjies by die Dodgems Arcade. Oop 11:00 tot 17:00 van Dinsdag tot Donderdag, en 11:00 tot 22:00 van Donderdag tot Sondag. | Ritte kos tussen R10 en R15.

5. Hillcrest Paintball

As jou kinders ’n kompeterende groep vriende het, kan jy hulle vir ’n paar uur by hierdie verfbalbaan aflaai. Daar word twee soorte “oorlogvoering” aangebied – ’n Afrika-boservaring en ʼn SWAT-tipe scenario waar spelers in spanne deelneem. Weeksdae: slegs op bespreking. Saterdag en Sondag: van 08:00 tot 17:00. | Gewone verfbalsessies wissel tussen R100 en R230 per persoon. 

6. Umgeni Steam Railway

Pak genoeg eetgoed in en neem die kinders vir ’n rit op ’n outydse stoomtrein deur die Valley of 1000 Hills. Die trein vertrek uit Kloofstasie, ry tot by Inchanga-stasie en terug. Sorg dat jy ’n halwe dag (ongeveer drie tot vier uur) vir hierdie uitstappie opsy sit. Ritte word elke laaste Sondag van die maand aangebied. Besoek hulle webwerf vir die spesiale skoolvakansieritte. | R240 vir volwassenes; R170 vir kinders en pensionarisse (65 jaar+).

Johannesburg

7. Yeesh! Fun for Kids

Hierdie binnenshuise speel- en aktiwiteitsentrum is ideaal vir ’n reënerige dag. Bring jou kleinspan na hierdie wonderlike een-stop-fasiliteit vir eindelose ure se pret en speletjies. Met ’n volledig toegeruste koffiewinkel word daar ook na ma en pa se behoeftes omgesien. Hulle is bekend vir hul uitstekende cappuccino’s! Oop Dinsdag tot Sondag van 09:00 tot 17:00. (Oop elke dag gedurende die skoolvakansie.) | Kliek hier om die aktiwiteite en pryslys te sien. 

8. Segwati Getaways/Ranch

Kom weg uit die stad en ontdek die natuur op ’n vierwielmotorfiets. Die Segwati-vierwielmotorfietsroetes teen die hange van die Witwatersberge bied ’n lieflike uitsig oor die Wieg van die Mensdom en is die ideale geleentheid om onvergeetlike gesinsfoto’s te neem. Bespreking is noodsaaklik. Pryse wissel na gelang van die seisoen. Kontak Segwati Getaways/Ranch direk vir die jongste pryslys.

9. Honeydew Mazes

Kom dwaal deur een van die 12 mielieland-doolhowe net buitekant Johannesburg-Noord. Daar is onder andere ’n doolhof in die vorm van ’n byekorf en een van 3,4 km met agt algemene-kennis-stasies waar die hele gesin getoets word. Oop op naweke van 10:00 tot 17:00. | Kaartjies is R100 vir kinders en R150 vir volwassenes. Gesinspakkette (twee volwassenes en twee kinders) is ook beskikbaar teen R420.

Landswyd

10. Acrobranch

Laat die kind in jou vry en gaan swaai ’n slag by een van die Acrobranch-takke. Of jy nou in die Goudstad uitspan en of jy op ’n reis via die Tuinroete is, daar is iewers ’n boomtak met jou naam op! Oop 09:00 tot 17:00 van Woensdag tot Sondag. | Kaartjies wissel tussen R90 en R220.

11. Red Bus City Tour

Ontdek Suid-Afrika se beton-oerwoud of die Moederstad op ’n groot rooi bus, oftewel ’n Big Red Bus. Hierdie besigtigingstoere neem jou deur die stad en doen by al die gewildste besienswaardighede en interessante plekke aan. In Kaapstad kan jy Tafelberg, een van die nuwe 7 Wonders van die Natuur, die prentjiemooi Wynlande en lieflike strande besoek.

In Johannesburg kan jy Soweto, die grootste township in Suid-Afrika, besoek, of by die interessante en funky Maboneng Precinct ’n draai gaan maak of jou kooplus by die beste winkelsentrums in die Suidelike Halfrond gaan bevredig. Toere word daagliks van 08:00 tot 17:00 aangebied. | Kaartjies wissel volgens stad en toerpakket. | Jy kan ook ’n iVenture Card koop wat jou toegang tot ’n verskeidenheid besienswaardighede, ervarings en gewilde aktiwiteite in Kaapstad gee. 

12. Ster-Kinekor

Daar is niks so lekker soos om saam met die kinders te gaan fliek nie. Besoek ’n teater naby julle of maak ’n hele okkasie daarvan deur die nuutste gesinsfliek op die buurdorp te gaan kyk. As jy boonop ’n Discovery Vitality-lid is, hoef die kinders nie te betaal as julle voor 19:00 ’n gesinsfliek gaan kyk nie. Besoek Ster-Kinekor se webwerf of laai hulle app af om die nuutste vertonings te sien. | Kliek hier vir inligting oor pryse.

FOTO: iStock/

LEES OOK:

Die ideale ouderdomsgaping tussen kinders

Kom kyk hoe jou kleingoed se kuns by Future Park lewe kry

10 speelgoed wat jou kind sal help om fikser te word

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
15 treffergeskenke vir tieners vir onder R200

Handel jou Kersinkopies tjoef-tjaf af!

Close