×
Skakel na Engels

10 wenke vir ’n somervel

Hoe om jou in die warmer maande te beskerm en fantasties te lyk
somervel

Die meeste van ons weet dat baie water en SBF goed vir ons vel is. Maar behalwe daarvoor om beskerm en gehidreer te bly is daar nog maniere om jou vel te beskerm en in ’n japtrap reg vir die somer te lyk.

  1. Moenie jou lippe vergeet nie!
    Die somer is ’n goeie tyd om met helder kleure op jou lippe te eksperimenteer, maar moenie vergeet om ook daardie delikate vel te beskerm nie. Hou ’n ryk lipsalf byderhand en onthou om SBF ook op jou lippe aan te wend. Skilfer dooie vel liggies met ’n sagte tandeborsel af voordat jy enige lipsalf of lipstiffie aanwend.
  2. Skakel oor na ander produkte
    Die ryk nagroom wat jou vel in die wintermaande gevoed het, kan dalk te swaar vir die somer wees. Kyk na jou vel en skakel oor na ligter jelformules as jou gewone velsorgroetine nie in die warmer maande werk nie.
  3. Hou ’n gesigsproei byderhand
    Is die kantoor se lugversorging sleg vir jou vel gedurende die warmer maande? ’n Gesigsproei met vitamiene en antioksidante kan nuttig wees. Is jou geldsake ’n bietjie knap? Maak jou eie deur ’n sproeibottel met gedistilleerde water te vul en ’n teelepel gliserien en ’n paar druppels van jou gunsteling-gesigolie daarby te voeg. Skud dit goed en hou dit in die yskas.
  4. Moenie jou kopvel vergeet nie
    Jou kopvel kan ook in die son deurloop. Beskerm dit deur jou kop met ’n hoed of kopserp te bedek wanneer jy in die son is. Of probeer dít: Los ’n eetlepel van jou gewone sonskermmiddel in ’n halwe koppie water op en giet dit in ’n sproeibottel. Spuit dit aan en vryf dit in jou hare en kopvel in.
  5. Verlaag die hitte
    Warm water kan jou vel uitdroog. Verlaag die hitte van jou daaglikse stort om te keer dat jou vel uitdroog.
  6. Belê in ’n goeie mineraalsetpoeier
    Verdwyn alle tekens van grimering nog voor middagete? Moenie meer onderlaag aanwend vir beter bedekking nie. Stof eerder ’n bietjie mineraalsetpoeier aan jou gesig, veral die neus, voorkop en ken, aan om jou onderlaag langer te laat hou.
  7. Skilfer af
    Of jy nou goed wil lyk in ’n nuwe partytjierok of vir die eerste keer ’n selfverbruiningsmiddel probeer, maak jou vel somermooi deur dit oraloor af te skilfer. Probeer ’n tuisgemaakte lyfskrop in die stort.
  8. Sluit vrugte in!
    As die warmer weer nie genoeg is om jou te laat glimlag nie, dink aan die verskeidenheid seisoenale vrugte wat beskikbaar is. Eet ’n verskeidenheid vrugte om meer vitamiene en antioksidante in te kry. Dit sal nie net help om jou vel helder en gesond te laat lyk nie, maar studies het ook getoon dat dit die liggaam kan help om potensiële sonskade te beveg as jy vitamiene A, C en E eet. En as jy nie die hele bakkie aarbeie kan eet voordat dit sleg raak nie, gebruik dit om ’n verfrissende gesigmasker te maak.
  9. Streel jou vel
    Was jy ’n bietjie te veel in die son? Streel sonbrand deur ongegeurde jogurt op die rooi dele aan te wend. Die melksuur in jogurt sal die branderige gevoel verlig.
  10. Wend sonskermmiddel aan sonder jou klere
    Moenie dink dat jy net die vel moet beskerm wat aan die son blootgestel word nie, want klere en baaikostuums bied nie genoegsame beskerming teen UV-strale nie. Kry volledige beskerming deur sonskermmiddel oor jou hele lyf aan te wend, ook die dele wat bedek sal word.

Lees ook:

Sonslim wenke vir die somer

4 algemene foute met sonskermmiddels

Keer dat jou maskara in die somer smeer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Vernuwe jou voorkoms met hierdie moet-hê-somer-items

Die moet-hê-items wat jou klerekas hierdie somer nodig het!

Close